Nuus
Jong digters se werk in bloemlesing verewig

Die derde bloemlesing is verlede week tydens ’n toekenningsaand by die WKOD-saal in Durbanstraat bekendgestel.

“Die bloemlesing bevat gedigte van 103 leerlinge van 12 plaaslike skole,” verduidelik Kiwidore Fillis, koördineerder van die projek.

Die inisiatief is van stapel gestuur om leerders aan te moedig om meer te lees en dus beter skrywers te maak.

Vanjaar se tema was ’n verskeidenheid kwessies, so leerders kon hul uitleef en oorspronklike gedigte in die boekie verewig.

Volgens Fillis sou die ideaal wees om al die skole in die Breedevallei-omgewing by hierdie projek te betrek en om elke jaar ’n bloemlesing uit te gee, maar hulle is afhanklik van finansiering.

Vanjaar is die bloemlesing moontlik gemaak met behulp van die WKOD se veilige skole-inisiatief, Fit2Run, Breedevallei Digters asook die Breedevallei Munisipaliteit.

Fillis het gesê die leerders behoort trots te wees want dit is die enigste bloemlesing wat deur kinders in ’n bepaalde area saamgestel word.

Die gasspreker vir die aand was Wilma Barry, ’n lid van die Breedevallei Digters. Die tema van haar praatjie was “Wie is ons, waar kom ons vandaan en waarheen is ons op pad”.

Barry het aan die leerders gesê dat hul gedigte deel is van ’n legacy wat nagelaat word.

“Wees trots Afrikaans. Leer nuwe vaardighede aan om jou skryfkuns te verbeter,” het Barry aan die leerders gesê.

Barry het ook aan die jong skrywers gesê hulle moet altyd ’n pen dra, sodat hulle gedagtes kan neerpen wanneer dit opspring.

Leerders van Esselenpark Primêr, Hexpark Primêr, Worcester Moslem Primêr, Rooms Katoliek Primêr, Roodewal Primêr, Victoriapark Primêr, Worcester-Noord Primêr, De Tuinen Primêr, Hoërskool Breërivier, Esselenpark Sekondêre Skool, Worcester Gimnasium en Worcester Sekondêr was na die verhoog geroep om ’n kopie van die bloemlesing te ontvang. ’n Leerder van elke skool het ook die geleentheid gekry om een van hul gedigte voor te lees.

Fillis het die ouers en onderwysers van die betrokke skole bedank dat hulle die dryfveer van die projek was en die leerders aangemoedig het.

Die bloemlesing is ongelukkig nie in winkels beskikbaar nie en daar is slegs genoeg kopieë gedruk vir die leerders wat se werk daarin vasgevat is. Die bloemlesing is wél in plaaslike biblioteke beskikbaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Volg Worcester-standard