Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vleiland koester dwergwater-blommetjie

Net buite Worcester, tussen die wingerde en berge, groei ’n piepklein blommetjie wat sy voortbestaan hier te danke het aan ’n groep toegewyde natuurbewaarders.

Dit is die dwergwaterblommetjie en by die Papenkuils-vleiland by Merwida-kelder kom een van die digste spesiebevolkings in die land voor, sê dr. Donovan Kotze, ’n vleiland-ekoloog van die Universiteit van Kwazulu-Natal.

Benewens die dwergwaterblommetjie (aponogeton angustifolius), kom sewe spesies vleilandplante wat op die rooilys van bedreigde spesies is, by Papenkuils voor.

Die vleiland is onlangs toegesak deur ’n groep plantgeesdriftiges in ’n sogenaamde Bioblitz waar hulle ’n oggend daaraan gewy het om die plantlewe te fotografeer en te boekstaaf.

Kotze sê nog ’n opwindende ontdekking was dat die platblaarvygie (skiatophytumtripolium) ook hier voorkom.

“Ons het glad nie geweet dit groei hier nie. Ons kon ook op die Bioblitz sien hoeveel van ons rooilysspesies wel hier voorkom.”

Die eienaar van Merwida, Pierre van der Merwe, sê die vleiland beslaan sowat 800 ha, waarvan 300 ha op sy grond geleë is. Daar is etlike jare gelede besluit om die vleiland te bewaar. Intussen het die World Wildlife Foundation (WWF) en Cape Nature ook betrokke geraak en ’n plan is tans in werking om die vleiland as ’n toeriste-aantreklikheid te ontwikkel en verder te beskerm.

Die vleiland is vroeër kortliks deurgegaan, daar is bepalings gemaak van bedreigings en hoe dié bedreigings hokgeslaan kan word. Die vleiland is onder meer baie belangrik om water vas te vang en vloede verder af in die vallei te keer.

“Die projek is nog in sy kinderskoene. Ons sou graag wou sien dat mense – op ’n gereguleerde wyse – in die toekoms kan kom kyk na die plante,” sê Van der Merwe.

“Mense ry elke dag hier verby sonder om te weet watter skat hier lê.”

Joan Isham, voorligtingsbeampte van die WWF, sê die ontboming van die gebied etlike jare gelede het baie bygedra tot die bewaring van die vleiland. Die WWF is ten nouste betrokke daarby om seker te maak boere handhaaf gesonde landboupraktyke om die omgewing te bewaar.

“Landbou en boere moet bydra tot die bewaring van ons omgewing, soos dit hier nou wel die geval is,” sê hy.

“Dit is baie belangrik dat ons by die plaaslike inwoners leer oor die vleiland. Ons besef nie altyd hoe baie weet die mense van die gebied en die plante nie,” sê Lyndré Nel, ekoloog en organiseerder van die Bioblitz.

Kom meer te wete oor Papenkuils op Facebook by Papenkuils Wetland Conservation Project.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.