As jou baba vroeg gebore is, het jy waarskynlik baie bekommernisse en vrae, maar ook hoop. In die weke wat kom sal jy gewoond raak aan hoe hy lyk, wat hy nodig het en hoe om na hom om te sien. Hier is broodnodige feite wat jou intussen kan help.

1. Jy is nie alleen nie

Die vroeë koms van jou baba is traumaties, maar baie ma’s was al waar jy nou is. Sowat 14 persent van babas wat in privaat sorg in Suid- Afrika gebore word, is vroeggebore. Dié statistiek styg tot ’n enorme 23 persent by babas wat in openbare sorg gebore word. Jy het dus reeds ’n steunstelsel in die ander ma’s wat ook daar in die neonatale intensiewesorg-eenheid (NISE) langs hul baba waak. Dit beteken ook dat kraamhospitale en dokters baie ervaring het van die versorging van klein babas, dus is jou piepklein aapstert in goeie hande.

2. Daar’s ’n goeie kans op oorlewing

Danksy belangrike ontwikkelings in die mediese wetenskap oorleef meer as 90 persent van babas wat vroeg gebore word en 800 gram of meer weeg. ’n Algemene reël is dat hoe kleiner die baba is en hoe vroeër in die swangerskap hy gebore word, hoe groter is die gevaar van komplikasies.

3. Baba lyk ’n bietjie anders

Jou vroeggebore baba se grootte en brose liggaam kan jou ontstel. Hy gaan baie klein wees en sy kop kan ook groot vir sy lyfie lyk. Dis omdat hy nog nie tyd gehad het om vet onder sy vel op te bou nie, want dis iets wat in die laaste weke van swangerskap gebeur. Jou baba se velkleur kan ook rooierig en deurskynend lyk. Afhangende van hoe vroeg hy gebore is, het hy dalk nog nie heeltemal klaar ontwikkel nie. Party vroeggebore babas het byvoorbeeld nog nie naels nie of hul geslagsdele is nog baie onvolwasse.

4. Grootte maak saak

Jou baba se vooruitsig hang van heelparty faktore af. Babas wat teen 26 weke en later gebore word, het ’n groter kans om te oorleef. ’n Baba wat vroeër as dit gebore word, is baie kleiner en minder ontwikkel en sal waarskynlik langer in die hospitaal moet bly en medies versorg moet word. Ander faktore wat ook ’n rol speel sluit in gewig, die volwassenheid van die organe (veral die longe), of daar ander mediese probleme is en of jou baba ’n infeksie opdoen.

5. Jou baba het jou nodig

Alle babas floreer op gereelde aanraking deur hul ma, maar dis veral waar vir vroeggebore babas, sê dr. Welma Lubbe, kliniese opvoedingspesialis en hoof van die Suid-Afrikaanse vereniging vir neonatale, baba- en kleuterondersteuning (Sanitsa).

Wanneer jy jou baba teen jou bors hou, help dit met sy fisiologiese stabiliteit, waaksaamheidsvlak, borsvoedingsukses en binding. Afhangende van sy mediese toestand sal jy hom kan help voed en vashou, al is hy steeds aan ’n rits monitors gekoppel. Hoor eers by jou dokter of jy hom mag vashou en voed.

Selfs as jy jou baba nie kan vashou nie, kan jy positiewe aanraking beproef, wat voordelig en ’n noodsaaklike komponent van vroeggeborene-sorg is. Vra die verpleegsters of jy jou baba se hand met jou vingers mag vashou, want jou baba het jou liefde en aanraking nodig. Probeer om betrokke te wees by jou baba se versorging, natuurlik in die mate wat jy kan. Skrop en reinig jou hande goed (infeksie is altyd ’n gevaar in die NISE en vroeggebore babas is veral in gevaar) en vryf jou baba se arms of bene sagkens as die mediese personeel dit aanbeveel.

6. Die hospitaal is deel van jou lewe

Jou baba sal in die NISE opgeneem word wat toegerus is vir die versorging van preemies. Hy is onder die wakende oog van spesialisdokters en -verpleegkundiges. Dit is aanvanklik ’n vreemde omgewing met mediese toerusting en dowwe beligting, maar dit is in hierdie stadium die beste plek vir jou baba. Dis moeilik om jou babatjie aan pype en buise gekoppel te sien, maar dit is gerusstellend om te weet dat hierdie dinge jou baba toelaat om gevoed te word en sy asemhaling en temperatuur monitor.

Preemies bly dikwels lank in die hospitaal. Dokters verkies dit om hulle daar te hou tot hulle ’n sekere gewig bereik of na aan hul bestemde geboortedatum is, maar ander faktore speel ook ’n rol. Dit sluit in of jou baba al sonder probleme self kan asemhaal en bors- of bottelvoed, en of hy sy liggaamstemperatuur kan reguleer.

7. Jou preemie het spesiale behoeftes

Jou vroeggebore baba het baie min vet in sy liggaam en het nog nie ten volle ontwikkel nie. Dit maak dit vir hom moeilik om self sy liggaamstemperatuur te reguleer. Broeikaste en ander masjiene word ingespan om hom warm en sy temperatuur konstant te hou. Sy ander belangrike behoefte is voeding.

Hy groei soos die blits en het dus taamlike hoë voedingsbehoeftes. Terselfdertyd is sy verteringstelsel en slukvermoë nog onderontwikkel en is hy nie in staat om direk van die bors of ’n bottel te drink nie. Melk word dus deur ’n buis na die maag vervoer.

Oorweeg dit om jou preemie te borsvoed. Jy sal eers moet uitmelk sodat jou melk deur ’n buis aan jou baba gegee kan word, maar as jy aanhou, sal jy jou baba aan die bors kan sit wanneer hy sterk en volwasse genoeg is om te kan suig. So nie sal jou baba formulemelk kry wat spesifiek vir vroeggebore babas ontwikkel is.

8. Daar kan mediese probleme wees

’n Goeie NISE is vir jou baba soos ’n drie- of viersterhotel, maar jou baarmoeder bly maar sy vyfsterhotel. Daarom is die kans dat hy normaalweg ontwikkel en gesond bly net soveel groter in die baarmoeder as in die hospitaal. Angswekkende dinge kan met jou preemie gebeur. Vroeggebore babas beleef gewoonlik ’n wittebroodtyd in die eerste 72 uur waarin hulle baie goed vaar. Dan gaan dinge skielik agteruit en komplikasies tree in.

Dis normaal, maar skrikwekkend vir ouers, sê Welma. Uitdagings waaraan die preemie blootgestel word sluit in fisiologiese wispelturigheid, wat enigiets kan wees van wipplank-bloeddruk tot asemhaling wat soms die hulp van ekstra suurstof kan vereis. Ander vroeggeborene-komplikasies kan breinbloeding wees, oogprobleme, hartprobleme of voedingskomplikasies.

9. Jou baba ontwikkel anders

Probeer om jou baba nie met ander mense se baba van dieselfde ouderdom te vergelyk nie. Vroeggebore babas se mylpaal-ontwikkeling verloop baie anders as dié van voltermyn-babas. Moenie jou vroeggebore baba se mylpale volgens sy werklik ouderdom oordeel nie, maar volgens die ouderdom wat hy sou gewees het as hy op sy verwagte datum gebore was. As hy ná sy geboorte baie siek was, kan jy selfs nog tyd bylas.

Om sy ontwikkelingsouderdom (dit word die gekorrigeerde ouderdom genoem) te bepaal, begin jy met sy chronologiese ouderdom, dus hoeveel tyd sedert sy geboorte verloop het. Gestel jou baba is agt maande oud, maar is twee maande vroeg gebore. Dan is sy chronologiese ouderdom agt maande, maar sy gekorrigeerde ouderdom is ses maande. Sy mylpale moet dus beoordeel word volgens dié van ’n baba van ses eerder as agt maande oud. Vroeggebore babas kan tot op twee jaar oud agter hul portuurgroep wees, maar teen twee jaar behoort hulle te begin inhaal.

10. Sien om na jouself

Dit is baie normaal om gemengde gevoelens te ervaar soos woede, depressie, hulpeloosheid of skuld. Daarom is dit belangrik dat jy ondersteuning het. Praat met die verpleegsters in die NISE of sluit by ’n steungroep aan. Dis vir jou baba goed as jy langs sy bedjie waak, maar maak ook tyd om te ontspan, te kuier, te fliek of saam met jou man te gaan uiteet. Jou baba het jou nou meer as ooit nodig, maar jy gaan nie vir hom daar kan wees as jou eie batterye pap is nie. Gee hom dus die beste kans in die lewe deur ook na jouself om te sien. 

HULP:

Hierdie webtuistes wemel van hulp en steun aan ouers van vroeë babas.

  • littlesteps.co.za
  • sanitsa.org.za
  • skintoskincontact.com
  • kangaroomothercare.com
  • prematurity.org