Jy dink dalk dat jou kinders nooooit sal wees soos die buurvrou se stout
woelwaters nie, dat jou baba beslis nie van die soort sal wees wat heeltyd sal huil, in jou bed sal slaap of jou hele program omver sal werp nie; en beslis sal jy nie een van daardie ma’s wees wat haar baba van die bed af laat val of erger, in die motor klim en die baba in die huis vergeet nie.

Dalk is jy reg. Maar die kans is ook goed dat jy – soos soveel ma’s voor jou – uitein­ delik sal besef dat ouerskap onvoorspel­ baar is en dat perfekte ouers en babas nie bestaan nie. Veral die eerste paar onseker ouerskapsmaande is ’n teelaarde vir verkeerde besluite en oordeelsfoute.

Namens al die ouers wat al reeds daar was – en klaar die foute gemaak het – is hier dus ’n bietjie raad om jou te help om dieselfde slaggate te vermy. Wie weet, dalk spog jy met ’n foutlose ouerskapsrekord!

FOUT #1: Jy koop te veel

Al is jou beursie ook hoe dun of dik: Wanneer 'n nuwe baba in aantog is, lok die winkels se roepstem. Daar is die skattigste babakleertjies, die doeke word uitverkoop en natuurlik moet daar ’n stootwaentjie, babawiegie en ander katoeters aangeskaf word.

Maar hier's nuus: Daar is meer ouers spyt oor al die goed wat hulle onnodiglik gekoop het as ouers wat spyt is oor iets wat hulle nie gekoop het nie. Jy het beslis nie al daardie slim hulpmiddels nodig wat die babawinkel se pamflet aanbeveel nie.

PRAKTIESE RAAD

Klop by 'n ervare ma aan vir raad oor die noodsaaklikste benodig­ hede. Koop die res wanneer jy dit nodig kry – die winkels is nie landuit nie en jy sal eers werklik sien wat vir jou werk as baba daar is.

Moenie te veel pasgeborene­tot­drie­maande­ klere koop nie – jou baba groei vinnig.

Moenie massiewe hoeveelhede doeke opgaar nie – jou baba ontgroei dit dalk voor jy alles gebruik het. Doen navorsing oor duurder items soos stootwaentjies en vra ander ma’s se mening.

Gaan jou baba ooit daardie wiegie gebruik? Belê in gehalte, maar onthou dat groter nie altyd beter is nie. (Maak seker die stootwaentjie pas in jou motor se kattebak!) En los eers die speelgoed ...

FOUT #2: AGTERLOSIG MET DIE MOTORSTOELTJIE

Die aanskaf van ’n motorstoeltjie is ononderhandelbaar. Jy kan egter die mooiste, slimste motorstoeltjie koop – as jy dit nie reg installeer nie, is dit minder as 2c werd en kan jy dalk soos een ma ontdek dat jou baba so hard huil omdat hy stoeltjie en al op sy sy lê ná die laaste draai.

Moenie vergeet om die harnas te knip nie.

PRAKTIESE RAAD

Moenie wag om die motorstoeltjie die eerste keer te installeer as jy baba van die hospitaal af huis toe neem nie. Vra by die babawinkel al dat hulle vir jou presies wys hoe dit gedoen word en oefen dit ’n paar keer sodat jy dit in ’n kits en korrek kan doen.

FOUT #3: BABASAK TE VOL (OF LEEG!)

’n Babasak is soos ’n reddingsboei met die eerste uitstappies saam met baba: Dit bevat immers alles wat baba dalk buite die huis kan nodig kry.

En watter ouer het nog nie amper die hele babakamer in ’n doeksak probeer prop nie (net om te ontdek hulle het die noodsaaklike afvee lappies tuis vergeet)?

As dit jou ’n halwe dag os om die babasak te pak en jy ’n handlanger nodig het om die lywige ding rond te sleep, moet jy herbesin.

Aan die ander kant is daar niks so sleg as om skielik te ontdek jy het nie genoeg doeke of skoon klere vir jou kleinding wat ’n poefdoek van epiese proporsies geproduseer het nie.

PRAKTIESE RAAD

Plak ’n lysie met die basiese inhoud vir jou babasak by baba se kas op sodat jy daarvolgens kan kontro­leer dat al die noodsaaklikhede gepak is. Sorg dat daar altyd minstens drie doeke, afvee lappies, skermroom, een spoegdoek, een dun kombersie en een ekstra stel klere is. In ’n krisis kan jy altyd die nodige gaan bykoop.

FOUT #4: GEBREK AAN SPANWERK

’n Nuwe baba is harde werk. As ma en pa dan koppe stamp pleks van saamwerk, is dit ’n resep vir huweliksonmin en konflik. Dit gebeur maklik: Ma voel besitlik en gun pa nie genoeg tyd saam met die baba nie sodat hy nie kans kry om met baba te bind nie, of sy lewer heeltyd kommentaar oor sy skouer sodat hy uiteindelik alles aan haar oorlaat.

Pa voel ma skeep hom af of sluit hom uit, maar sy vrou is oormoeg en supermoeilik omdat sy alles vir baba moet doen, want pa voel dit is  ma se werk om doeke te ruil.

PRAKTIESE RAAD:

Gesels met mekaar oor jul nuwe rolle en hoe julle voel. Waak daarteen om pa soos die oppasser te laat voel: Hy moet sy ouerskapsvaardighede kan oefen en met aba kan bind. Aanvaar dat jou man dinge anders as jy doen. Maak beurte om baba te versorg sodat albei ouers rus kan kry; bou vir elkeen ’n babavrye halfuur  ontspantyd in die dag in.

FOUT #5: VREK VOOR EK VRA

Die nuwe ma se oë staan al stokstyf van min slaap, maar sy sal eerder sterf as hulp vra of aanvaar. Nee, sy probeer eerder seker maak haar huis is skitterskoon vir gaste wat na die baba kom kyk. Dan, sodra die gaste weg is, vou sy soos ’n nat vadoek inme­kaar van pure moegheid en voel sy lus om baba te skud as hy weer huil, want sy kan eenvoudig nie meer nie.

PRAKTIESE RAAD:

In die eerste paar weke is daar gewoonlik mense wat hulp met die baba aanbied. Aanvaar dit, al voel dit vir jou verskriklik om jou kosbare vraggie in iemand anders se hande oor te gee. Iemand soos ’n ouma wat ’n ogie op baba kan hou terwyl jy ’n welverdiende middagslapie geniet om oor jou ergste slaapontneming  te kom, is goud werd en jy sal daarna ’n beter ma wees.

Mense na aan jou kan ook met huistakies help. Dit is nie goed vir jou baba as jy ’n martelaar is nie.

FOUT #6: VOLG ONBETROUBARE RAAD

Dis ’n alombekende waarheid dat die ouer van ’n nuwe baba heeltyd op soek is na raad by elke San Rap en haar maat oor hoe om haar kind groot te maak, nè? Dis  blyk­baar wat mense dink, want as jou bondeltjie net “êêê” sê, vertel al die oumas, oupas, ooms, tantes en selfs vreemdelinge vir jou wat fout is en hoe jy moet maak.

Voeg daarby nog die internetforums waarop almal ’n eiertjie te lê het, en jy weet later nie meer na wie om te luister nie. Die ergste is dat baie van die goedbedoelde stukkies raad nie vreeslik wetenskaplik is nie en sommiges is selfs gevaarlik. Aan wie leen jy dus nou jou ore uit?

PRAKTIESE RAAD

Moenie jou arme baba  blootstel aan eksperimente met al die rate wat jy ontvang nie. Luister na die raad, maar vertrou jou instink oor wat jy voel  goed sal wees vir jou en baba en wees ferm daaroor.

Vind een of twee betroubare bron­ne soos ’n ouer vriendin, borsvoedings­ kenner of goeie klinieksuster by wie jy kan aanklop Vir raad met werklike probleme.

FOUT #7: ANGSTIGE ANNIE

Jy luister elke vyf minute of sy nog asem­ haal. Jy jaag dokter toe omdat sy effens warm voel. Jy is bekommerd oor of jy jou baba genoeg stimuleer. Of stimuleer jy haar te veel? Is haar mylpale agter? Is dit normaal dat sy so stadig drink?

Nuwe ouerskap is propvol stresvolle situasies en soms raak jy so vasgevang in jou angstig­ heid dat jy vergeet om jou baba te geniet. As jy boonop heeltyd angstig voel, kan jou baba jou angstigheid aanvoel en haar onge­lukkigheid hieroor luidkeels aankondig!

PRAKTIESE RAAD

Oefen kalmerende asemhalingsoefeninge vir wanneer jy angstig voel en onthou dat babas eintlik baie sterker is as wat hulle lyk. Maak by jou pediater seker wanneer jy dadelik dokter toe moet gaan en probeer om nie oor elke klein dingetjie te stres nie. Op die ou end word hulle tog groot – bitter vinnig eintlik, geniet dus jul kosbare tydjies saam!

FOUT #8: WAKKER VOEDINGSTYD SNAGS

Die bababoek het gesê jou baba moet elke drie uur voed – maar joune slaap een stryk deur. Jy word bekommerd: Sê nou hy kry nie genoeg melk in nie? Jy maak  hom wakker, skakel die lig aan en gesels met hom terwyl jy hom voed en sy doek ruil. Foutjie: kleinding wil agterna g’n niks van slaap weet nie.

PRAKTIESE RAAD

Moet jou baba nie snags vir ’n voeding wakker maak tensy hy spesiale voedingsbehoeftes het nie. As hy wel in die nag wakker word vir ’n voeding, hou die kamer taamlik donker, moenie oog­ kontak maak of gesels nie en ruil sy doek slegs as dit werklik nodig is.

FOUT #9: JY DINK NIKS SAL VERANDER NIE

Vol bravade verklaar jy dat baba by jou skedule gaan inpas – beslis nie jy by sy eie een nie. Tot jy die eerste keer met sy roetine inmeng. Skielik verander jou pragtige blommetjie in ’n tierende tiran. Of jy het beplan om tydens jou kraamverlof jou foto­albums uit te sorteer, maar tydens jou kraamverlof sukkel jy om voor vyf  uit jou pajamas te kom.

Of jy reël met jou vriendin om haar elfuur te ontmoet, maar net voor jy kan ry moet baba eers weer gevoed word. Dan kook hy oor op jou rok en jy moet ander klere aantrek. Dan kry hy ’n vuil doek – pas nadat die vorige een geruil het. Jy kanselleer die afspraak.

PRAKTIESE RAAD

Maak vrede daarmee dat jou baba gekom het om jou lewe vir altyd en onherroeplik te verander. Jou lewe gaan nooit, ooit weer heeltemal wees soos dit voorheen was nie. En hoewel dit jou nou soms kan onderkry, sal jy sien dit is eintlik glad nie so ’n slegte ding nie ....

FOUT #10: ROF SPEEL NÁ VOEDING

Jip, baba het nou net lekker klaar gedrink. Jip, julle speel te lekker. Jip, jy tel baba hoog in die lug op en hou hom bo­kant jou gesig terwyl jy met ’n breë glimlag “hallo” sê. Jip, baba kies juis daardie oomblik om oor te kook.

PRAKTIESE RAAD:

Daar’s nie pille vir domheid nie, sê hulle ...