Daar is baie maniere waarop voornemende ouers hul rande kan rek, van klein besparings wat met verloop van tyd tot groot besparing lei tot groot, eenmalige afslag-geleenthede. Dit maak nie saak hoe ver swanger jy is nie, dis nou die tyd om finansieel slim te dink. Hier is ons beste wenke ...

Swangerskap en beplanning

1. Skaf ’n boepieband aan en spaar op kraamdrag. Dit is ’n rekbare materiaalband wat jy om jou heupe dra sodat jy steeds jou gewone broeke en rompe kan aantrek, al kry jy dit nie meer toegerits nie.

2. Moenie kraamdrag koop voor jy dit nie werklik nodig het nie. Hoewel kraamdrag-inkopies lekker en opwindend is, kan jy baie spaar deur klaar te kom met dit wat reeds in jou kas is of deur kraamdrag te leen.

3. Jy sal waarskynlik groter bra’s tydens en ná jou swangerskap nodig hê. Moenie dubbel koop nie: Pleks daarvan om nou groter bra’s aan te skaf en later voedingsbra’s te koop, kan jy voedingsbra’s gebruik terwyl jy swanger is.

4. Moenie vooraf geld uitgee aan spesiale borsvoedingsbloese nie. Maak eers seker jy gaan aanhou borsvoed.

5. Dit druis waarskynlik teen jou nesskop-instink in, maar wag tot ná jou ooievaarsparty voor jy babagoedjies koop.

6. Het jy ’n geskenkregister vir jou ooievaarsparty? Voeg doeke daarby en vra vir groter groottes. Jou baba sal dalk net ’n week of twee lank in die pasgeborene-doeke pas voor hy te groot daarvoor is.

7. Kry aanvanklik net die absoluut noodsaaklikste benodighede vir jou baba. Natuurlik wil ’n mens voorbereid wees en genoeg van alles hê, maar jou baba se vel kan dalk sleg op ’n spesifieke boudjieroom reageer, of hy kan weier om fopspeen te suig. Koop liewer net een van elke ding wat jy nodig het en bou jou voorraad op sodra jy weet wat vir julle baba werk.

8. Beplan jy meer as een kind? Koop dan al die duur items in ’n geslagsneutrale kleur. So sal jy uiteindelik baie rande spaar.

9. Vries soveel moontlik tuisgemaakte etes voor D-dag. Jy gaan in die eerste weke nie tyd of lus hê om te kook nie, en wegneemetes en geriefskos kan jou sak ruk. Tuisgemaakte etes is boonop meestal gesonder.

Die geboorte

10. Vra gerus of daar afslag is as jy jou dokter of vroedvrou vooruit betaal. Sommige gesondheidsverskaffers bied tot 25 persent afslag as jy hulle teen 30 weke ten volle betaal.

11. Kontant bly koning. Jy kan dikwels afslag beding as jy die hospitale en dokters vooraf met kontant betaal.

12. Stel vas wie watter kraampakket het as jy nie ’n mediese fonds het nie, maar by ’n privaat hospitaal wil kraam.

13. Gaan so gou moontlik ná die geboorte huis toe. Drie dae is die standaardverblyf in ’n privaat hospitaal ná ’n normale geboorte, maar as jou dokter tevrede is, is daar geen rede waarom jy nie ná ’n dag huis toe kan gaan nie. Elke ekstra dag in ’n privaat kraamafdeling kan jou R3 000 of meer kos.

14. Stel vas of daar ’n verskil is tussen die koste van ’n privaat en ’n gedeelde kamer. Jy sal in elk geval ’n toeloop van besoekers en verpleegsters in jou kamer hê en die privaatheid van ’n privaatkamer is dus nie gewaarborg nie.

15. As jy nie omvattende mediesefondsdekking het nie of dalk glad nie ’n mediese fonds het wat vir ’n privaat hospitaal opdok nie, kan jy gerus die veel goedkoper staatshospitaalopsie oorweeg. Of kies ’n tuisgeboorte – ’n mediese kundige moet jou net ondersoek en seker maak dat die gevaar van komplikasies laag is.

Nie net is borsvoeding gratis nie, dis ook uitstekend vir jou baba.

Ná baba se koms

16. ’n Nuwe elektriese borspomp is duur – huur liewer een by ’n borsvoedingskonsultant. Jy kan met veiligheid alles deel, net nie die plastiekaanhegsels nie, en dié kan jy gewoonlik apart koop.

17. Vra produkmonsters by die hospitaal, die apteek en die pediater. So koop jy nie duur produkte wat dalk nie goed werk nie. Die monster is dikwels al wat jy nodig het.

18. Dis voordelig om by die groot maat te koop, veral wanneer dit by doeke kom.

19. Hou spaargeld byderhand vir wanneer noodsaaklike items uitverkoop word sodat jy voorraad kan opbou en kan spaar.

20. Sluit aan by lojaliteitsklubs, veral dié wat gereelde aankope van babaverwante produkte beloon. Jy kan heelwat spaar deur jou eie babakos te maak.

21. Jy hoef nie ’n Kokkedoor-wenner te wees om kos fyn te maak en te vries nie.

22. Moenie vir jou kleinding duur speelgoed koop nie. Jou baba sal ewe lekker speel met jou plastiekbakke, potte en panne. En geen kind kan ’n kartondoos weerstaan nie!

23. Moenie vir jou baba skoentjies koop voor hy begin loop nie. Sokkies werk ewe goed tot hy daardie eerste treetjies gee.

24. Oorweeg lapdoeke. Jy kan R10 000 of meer spaar as jou baba tot op twee en ’n half jaar heeltyds lapdoeke dra.

25. Begin met potjielesse sodra jou kleinding reg is. Jy sal sommer voel hoe jou beursie beter asemhaal wanneer jy nie meer doeke of boudjieroom hoef te koop nie.

26. Hou altyd ’n kosblik met snoephappies byderhand. Dit spaar heelwat as jy nie elke keer snoepgoed in ’n winkel moet koop as kleinding lus raak vir iets te ete nie.

27. Leer julle pediater goed genoeg ken dat jy hom kan bel en jou kwellinge kan bespreek sonder dat jy altyd ’n afspraak hoef te maak. Dikwels weet die pediater of dit die moeite werd is om in te gaan of nie, en so spaar jy konsultasiegeld.

28. Maak aan die einde van elke ontwikkelingsfase kas skoon en verkoop klere, speelgoed en ander hulpmiddels wat te klein is of nie meer nodig is nie op webtuistes soos Gumtree. Gebruik dan die geld om benodighede vir die volgende fase te koop – tweedehands, natuurlik.

29. Begin nou al vir jou kind se skoolgeld spaar. Van kleuterskole tot hoërskole bied dikwels beduidende afslag as jy die volle jaar vooruit betaal. As jy slim is en nou reeds spaar, sal jy elke jaar vroeg kan betaal en intussen kan jy rente op jou spaargeld verdien.

30. As jul jaarlikse huishoudelike inkomste R180 000 of minder is, kwalifiseer julle vir ’n Fundisa-fonds. Hierdie regeringsondersteunde fonds moedig ouers aan om vir hul kind se opleiding te spaar deur ’n bonus van tot 25 persent vir elke jaar se spaar (maksimum R600 per kind) te bied. As jy dus ’n jaar lank elke maand R100 spaar, sal ’n bonus van R300 aan die einde van die jaar in jou kind se spaarrekening betaal word. Gaan na asisa.org.za om nog inligting te kry.

NUTTIGE WENK
Hou jou oë oop vir stootwaentjies wat die einde van ’n reeks is. Wanneer ’n nuwe model binnekort bekendgestel gaan word, hou handelaars daarvan om van ou voorraad ontslae te raak en gee dikwels afslag daarop.

Dis gratis!

  • Nie net is borsvoeding gratis nie, dis ook uitstekend vir jou baba. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel eksklusiewe borsvoeding vir die eerste ses maande aan en dan verdere borsvoeding tot twee jaar en selfs langer. Hoe langer en meer jy borsvoed, hoe meer sal jy spaar.
  • Sukkel jy om te borsvoed? Die meeste staatsklinieke het ’n suster wat kennis het van borsvoeding, terwyl staatshospitale met kraamafdelings gewoonlik ’n borsvoedingskonsultant op die personeel het. En dis alles vir mahala.
  • Daar is geen fooi vir die weeg, meet en monitor van jou baba se ontwikkeling by ’n staatskliniek nie, terwyl hierdie besoeke by privaat babaklinieke R100 of meer per besoek kos.
  • Moenie ’n vreemdeling betaal om jou baba op te pas nie – kry eerder jou naaste geliefdes om gehaltetyd met baba deur te bring terwyl jy ’n welverdiende ruskansie geniet.