5 maniere om jou baba stil te kry

akkreditasie
Al van die 5 S’e gehoor? Dis ’n tegniek wat ’n Amerikaanse pediater ontwerp het om ontstelde babas wat nie wil ophou huil nie, tot bedaring te bring. Die geheim van die tegniek is om baba te laat voel asof sy terug in die baarmoeder is en so haar eie kalmeringsrefleks te laat inskop. Ons verduidelik stap vir stap hoe jy dit kan regkry.

Jou baba se huil is haar kommunikasiemiddel met jou – haar enigste manier om vir jou te sê as iets haar pla. Om op jou baba se gehuil te reageer, is instinktief. Min mense kan dit ignoreer!

In haar eerste 6 maande sal sy nooit huil om jou te manipuleer nie, al voel dit soms so. Haar gehuil is ’n refleks wat vir haar oorlewing moet sorg. Jy kan haar nie bederf deur daarop te reageer nie. Inteendeel, dis belangrik dat jy reageer wanneer sy huil, want dit vorm die basis van die vertrouensverhouding tussen julle.

Hoekom huil sy so?

Lees "Waarom huil hy?" en vind eers uit waarom jou baba so huil. As jy al die voor-die-handliggende redes uitgeskakel het, lees verder.

Dr Harvey Karp se 5 S'e

Ongeveer 1 uit 5 babas kry huilbuie sonder enige ooglopende rede, sê die Amerikaanse pediater dr. Harvey Karp in sy boek The Happiest Baby. Maar daar is hoop.

Harvey glo die sleutel lê in die na-aap van toestande in die baarmoeder. In die baarmoeder is jou baba knus toegewikkel met konstante “aanraking” van die baarmoederwand, sy ervaar voortdurend beweging (soos jy rondbeweeg), en hoor heeltyd geluide soos die bloed wat deur jou are bruis (dink maar wat jy hoor as jy jou kop onder die water hou).

Harvey se babatroos-wenresep berus op 5 eeue-oue tegnieke wat instinktief deur ma’s wêreldwyd gebruik word. Hy beklemtoon egter dat dit presies reg gekombineer moet word om die natuurlike kalmeringsrefleks in jou baba se brein te aktiveer en as’t ware as ’n afskakelknoppie vir jou baba se gehuil te dien.

Die geheim van die 5 s’e

1. Styf toegedraai

Die heel eerste stap behels dat jy jou baba in ’n stywe, knus kokon toedraai sodat sy nie haar armpies kan beweeg nie. (Op Engels word dit swaddling genoem.) Dit sal jou baba herinner aan die knus aanraking van die baarmoeder. Sy sal dalk aanvanklik protesteer, maar byt vas en draai haar stewig vas met haar armpies reguit en styf langs haar sye sodat sy haar nie kan loswikkel nie. Dit keer dat sy ongekoördineerde armbewegings maak, wat haar eintlik net meer ontstel.

“Die nommereen-manier om jou moeilike baba te kalmeer is om haar op te tel en styf in jou arms vas te hou. Dis presies wat met styf toedraai gebeur, behalwe dat jy nou jou hande los kan hê,” verduidelik Harvey.

Styf toedraai aktiveer nie jou baba se kalmeringsrefleks nie, maar dit help haar om aandag te gee aan die ander 4 s’e, wat wel die kalmeringsrefleks laat inskop.

2. Sy- of maagliggende posisie

Hou jou baba in ’n sy- of maagliggende posisie. Dit sal die kalmerende refleks aktiveer en ook voorkom dat die Moro-refleks, wanneer jou baba voel of sy val, aan die gang gesit word. Kalmeer jou baba deur haar in ’n sy- of maagliggende posisie te hou, maar as jy haar neerlê om te slaap, lê haar altyd op haar ruggie neer. Dit verminder die risiko vir wiegiedood beduidend.

Jy kan jou baba in die omgekeerde borsvoedposisie hou, met ander woorde net soos jy haar hou vir borsvoeding, maar met haar gesiggie na buite pleks van binne en haar koppie ondersteun deur jou hand, of jy kan haar met haar magie plat op jou arm laat lê sodat haar armpies en beentjies langs die kante afhang (as sy nie toegedraai is nie). Jy kan baba ook regop teen jou skouer laat lê.

3. Sjj!

Baie ma’s het al ontdek dat hul babas rustiger is of makliker aan die slaap raak as hulle die haardroër aansit of in die motor ry. Dis omdat hierdie wit geraas met die bekende sjj-klank, baba aan die baarmoeder herinner en ook haar kalmeringsrefleks aktiveer. Dis ook instinktief die klank wat uit ervare ma’s monde kom wanneer hulle ’n baba probeer rustig kry!

Harvey beveel aan dat, terwyl jy jou styf toegedraaide baba in ’n maagliggende posisie hou, sowat 4 tot 8 cm van haar oortjie af sjj sê. Pas die volume van jou sjj aan by hoe hard jou baba huil. As sy hard huil, sjj harder as wat sy huil (moenie skaam wees nie!) en verminder die volume wanneer sy sagter begin huil en rustiger raak.

4. Swaai en sus

Al ooit jouself betrap dat jy onbewustelik heen en weer wieg in die supermark terwyl jy ’n baba naby jou hoor huil? ’n Ma wil instinktief haar ongelukkige baba wieg en sus. Met rede: Omdat jou baba heeltyd in die baarmoeder beweging ervaar het, aktiveer beweging outomaties haar kalmeringsrefleks.

Vir ’n werklik erg ontstelde baba is ’n sagte gewieg nie genoeg nie; dan moet jy harder sjj en harder wieg. Span klein, maar intense, vinnige bewegings in – haar koppie sal soos jellie sagkens heen en weer beweeg, maar moet in lyn met haar lyfie bly en nie heen en weer ruk nie.

Namate jou baba rustiger raak, kan jou eie bewegings ook kalmer en stadiger raak. Jy kan haar ook in ’n elektroniese swaai sit wat op sy vinnigste gestel is.

5. Suig

Om te kan suig is die kersie op die koek en dikwels die laaste ding wat jou baba nodig het om volkome rustig en aan die slaap te raak. Ook dít aktiveer die kalmeringsrefleks. Jy kan haar aan jou vinger laat suig of aan ’n foppie.

Net soos met alle vaardighede sal troos met die hulp van die 5 s’e nie oornag kom nie. Druk deur, oefen dit gereeld en jy sal die salige verligting van stilte ná ’n gehuil sommer baie makliker beleef!

Bron: The Happiest Baby deur dr. Harvey Karp (Penguin Books)

Die ruitveër posisie: kombineer al 5 S’e maklik

  1. Draai jou baba styf toe.
  2. Kry ’n gemaklike stoel waar jy met albei voete plat op die grond kan sit.
  3. Sit met jou knieë bymekaar en voete so 20 tot 30 cm uitmekaar.
  4. Laat jou baba op haar regtersy in die gleuf op jou bene lê, met haar knie en kop in jou linkerhand op jou knieë. (Haar voete kan half onder jou arm verbysteek.)
  5. Sit jou regterhand ook onder haar koppie sodat jou hande haar koppie losweg vashou.
  6. Rol haar deels op haar magie.
  7. Leun vorentoe en sê Sjj by haar oor so hard as wat sy huil.
  8. Swaai jou knieë heen en weer – nie met groot, wye bewegings nie, maar klein, kort, vinnige bewegings. Hoe harder sy huil, hoe vinniger swaai jy, maar hoe kleiner maak jy jou bewegings.
  9. Druk jou linkerduim in haar mondjie.

Het jy geweet?

Teen 2 weke oud huil 25% van babas vir meer as 2 uur ’n dag. Teen 6 weke huil 25% vir meer as 3 uur ’n dag. Teen 3 maande huil bitter min babas meer as ’n uur ’n dag.

Word ’n toedraaimeester

  1. Vou ’n groot vierkantige kombers plat op jou bed in ’n diamant.
  2. Vat die boonste punt en vou dit af tot in die middel van die kombers. Lê baba met haar nekkie op die gelyke bokant neer.
  3. Hou baba se regterarm reguit teen haar sy en vou die kombersie styf skuins ondertoe oor haar skouer en lyfie sodat sy nie haar arm kan buig nie en druk dit aan die ander kant onder haar lyfie in. Trek dit styf.
  4. Maak haar linkerarm reguit en bring die onderste hoek reguit op en druk dit bo haar skouer in.
  5. Vou die kant van die kombers onder haar lyfie in, met haar linkerarm styf teen haar lyfie.
  6. Vou die boonste linkerhoek ferm skuins na onder en bring dan die res van die linkerflap styf oor haar lyfie. Draai dit reg rondom en druk dit in waar dit begin het.
  • Witwarm toedraai-wenke: Moenie jou baba lossies toedraai nie, die geheim is om dit styf te doen. Maak seker haar armpies is reguit langs haar lyfie en nie gebuig nie. Moenie die kombersie aan haar wang laat raak nie – dit sal haar suigrefleks aktiveer en haar frustreer.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees