1. 'n Nagvoeding vir manlief

Ja, jy is jou baba se enigste bron van voeding, maar dit beteken nie dat ander nie kan help nie. Melk uit en vra vir pa om die tweeuur-voeding waar te neem sodat jy ’n langer ruk ononderbroke kan slaap en meer verfris voel wanneer dit weer jou beurt is om op te staan.

2. Aanvaar hulp van ander

As jou kop aanhoudend raas en jy gestres voel omdat jy nooit by die wasgoed of kos maak uitkom nie, vra iemand anders om dit te doen sodat jy dié taak van jou lysie kan afkrap.

Vriende en familie bied altyd aan om te help en sal nie omgee om hand by te sit nie. Jy kan natuurlik ook ’n huishulp aanstel, al is dit net tot dinge weer normaal is. Gee jouself ’n geskenk deur te besluit dat jy in dié tyd met jou baba nie huishoudelike take ’n groot prioriteit gaan maak nie. Slaap en rus is belangriker as ’n skoon huis.

3. Rus wanneer baba slaap

Dis mos almal se raad: Slaap wanneer baba slaap. Dis egter nie altyd moontlik om jou net so af te skakel en te slaap nie. Neem jou dus liewer voor om in dié tyd te rus. Lê op die bed, maak jou oë toe, mediteer of lees ’n boek en drink ’n koppie rooibos.

Dit kan net so verfrissend wees soos slaap. Deur te besluit jy gaan rus, plaas jy minder druk op jouself om ander takies in dié tyd te verrig. ’n Middagslapie moet eintlik 90 minute lank wees om regtig van nut te wees, en dit pas nie noodwendig by jou baba se skedule nie. Gewone rustyd kan dus meer vir jou beteken as ’n slapie wat kortgeknip moet word.

4. Gaan slaap self vroeg

As jy sukkel om soggens of smiddae te slaap, oorweeg dit om ’n ruk lank saans vroeër te gaan slaap. Mik na agtuur. Dis waar dat daardie aandure dikwels die enigste alleentyd is wat jy saam met jou man kan deurbring, maar as jy in elk geval so moeg is dat jy skeel kyk, gaan julle net vassit.

Besluit om ’n week lank agtuur saans in te kruip. Wanneer jou baba ouer word en nie meer tienuur snags wil voed nie, kan jy weer later gaan slaap en steeds ’n lekker lang sessie inkry. Dit maak die wêreld se verskil.

5. Praat met jou dokter

As jou gebrek aan slaap ernstig raak en postnatale depressie begin dreig, is dit tyd om die dokter te spreek. Vra uit oor medikasie wat nie met borsvoeding inmeng nie. Skep moed uit die feit dat die moegheid net ’n fase is en ook sal verbygaan.