Baba of borsspeld?

akkreditasie
Kleef jou baba deesdae aan jou skouer, en sit sy 'n keel op wanneer jy die vertrek verlaat? Dis skeidingsangs- 'n normale deel van haar ontwikkeling.

Jou baba was dalk op ses maande ’n sosiale vlindertjie wat haar armpies uithou vir enigiemand wat haar wil optel, selfs die kelnerin die restaurant. Maar nou, op nege maande, wil sy nét vir ma hê. Ouma is skoon suur daaroor, en jy begin al sien hoe jy gaan sukkel wanneer dit tyd is vir ’n speelskooltjie. Wees egter gerus, en verduidelik maar vir ouma ook dat dit net ’n stadium is. Trouens, skeidingsangs (die deftige naam vir hierdie stadium) is ’n teken dat jou klein borsspeld-baba normaal aan die ontwikkel is.

Op ongeveer nege maande (dit kan ’n bietjie vroeër of ’n bietjie later ook wees) begin jou baba stelselmatig verstaan da tjy en sy twee aparte wesens is, en dat jy soms nie teenwoordig is nie. Omdat sy geen begrip van die verlede of die toekoms het nie – babas leef in die oomblik– voel dit vir haar asof jy haar verlaat elke keer wanneer jy uit die vertrek gaan, al het jy net gou gaan stort. Dis vir haar baie onstellend.

Jý weet natuurlik goed jy kom terug ,maar daarvan verstaan jou baba nog niks. Wanneer sy jou nie kan sien nie, voel dit vir haar asof jy skielik nie bestaan nie, wat haar met vrees en angstigheid vul.

Moet dus glad nie sleg voel as jou baba aan jou klou nie. Dis ’n teken dat jy en sy goed gebind het, en dat jou koestering vir haar die belangrikste ding op aarde is. Dit beteken ook dat haar instink reg is, en dat haar intellektuele ontwikkeling op dreef is. Help haar met groot empatie en geduld om haar vrees geleidelik te oorkom, en so neem julle saam die eerste klein stappie na onafhanklikheid.

Jou empatie-plan

Hou by 'n roetine

As julle elke dag dieselfde roetine volg, sal jou baba geleidelik leer dat spesifieke dinge in ’n spesifieke volgorde plaasvind. Die voorspelbaarheid van ’n roetine wat oor en oor herhaal word, laat jou baba veilig voel en is ’n groot bron van troos.

Gee gerus 'n troosvoorwerp

Jou baba kan troos vind deur altyd ’n bekende, geliefde voorwerp byderhand te hê, soos ’n kombersie of ’n teddiebeer wat al van klein babadae altyd in haar kot was en oral saamgaan. (Wees net gewaarsku dat die hel losbreek wanneer daardie voorwerp wegraak!)

Wen haar vertroue

Oefen gereeld om die kamer vir baie kort rukkies te verlaat. Aanvanklik sal dit dalk net vir 10 sekondes wees. Probeer om terug te keer voor sy ontsteld raak. As jy dit elke dag saam met haar oefen, sal die rukke wat jy uit die kamer kan wees sonder dat sy huil langer en langer raak.

Gebruik jou stem

Maak ’n geluid wat jou baba graag sal wil naboots. Maak die geluidd an oor en weer (roep en antwoord) vir mekaar terwyl jy verder en verder wegbeweeg. Gaan staan agter ’n deur of gordyn en hou aan met die speletjie, sodat jou baba jou kan hoor al kan sy jou nie sien nie. Later kan jy agter ’n toe deur staan.

Leer haar voorwerppermanensie

Dis ’n groot woord wat eintlik maar net beteken dat jou baba moet leer dat ’n voorwerp (soos ’n ma!) wel bestaan, al is dit nie sigbaar nie. Eenvoudige versteekspeletjies oefen dit uitstekend in: Laat sy sien hoe jy ’n lappie oor ’n speelding gooi, en vra haar om die lappie af te trek om die speelding te vind. Sy sal dit oor en oor wil doen. Dis ook hoekom kiekeboe so gewild is by babas van hierdie ouderdom– dis soos towery wanneer ma elke keer agter die handdoek verdwyn en weer te voorskyn kom!

Trek haar aandag af

Kom in die gewoonte om vir haar ’n spesifieke boks gunsteling-speelgoed te gee voor jy die huis moet verlaat. So sal sy hopelik ook ’n positiewe assosiasie begin vorm met jou vertrek sodat dit darem nie net sleg vir haar is wanneer jy gaan nie. Die opwinding van die interessante speelgoed sal haar aandag aftrek van die vrees wat sy voel, en sommer gou is jy vergete.

Moedig binding aan

Sommige ma’s kan jaloers voel wanneer hul baba met ’n ander volwassene bind. As dit soos jy klink, probeer maar om anders daaroor te dink. Moedig ander gesinslede en die kinderoppasser aan om met jou baba te bind – dit sal haar baie meer sekuriteit gee. Hoe meer geliefde volwassenes jou baba in haar lewe het, hoe beter vir haar. Sy sal geleidelik leer dat ander mense ook in haar behoeftes kan voorsien, en dit is ’n goeie ding.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees