Baba se vingerbuffet

akkreditasie
Starting your baby on solids
Starting your baby on solids
Vingerkos eet is ’n belangrike stap na groter onafhanklikheid – dis immers die eerste treetjie na self eet. Hoe pak jy dit aan?

Jy het klaar die bruggie na vaste kos oorgesteek en nou lyk dit of jou baba gereed is vir nog ’n stap vorentoe.

Vingerhappies sal jou in staat stel om hom ’n groter verskeidenheid kosse aan te bied, wat die basis vir gesonde eetgewoontes lê. Dit gee ook jou kleinding ’n mate van beheer oor hoeveel en wat hy eet. Jy kan maar seker wees dat hy soms net met die kos gaan speel, terwyl hy ander kere met groot erns sal probeer om daardie kos in sy mond te kry.

Vingerkos speel ook ’n baie belangrike rol in jou kleinding se ontwikkeling: Dit stel jou kind bloot aan hope nuwe, growwe teksture en ’n verskeidenheid smake waarmee hy kan eksperimenteer. Dit gee sy kake, tong en mond goeie oefening wat later kan help met spraak.

Boonop oefen die raakvat van die kos jou baba se fyn motoriese vaardighede en hand-oog-koördinasie.

Wanneer is baba reg?

Jou baba kan enige tyd tussen 7 en 10 maande gereed wees vir vingerkos.

Tekens dat hy oorgehaal is om self te begin eet, sluit in:

  • Hy kan sy kop regop hou en sonder hulp sit.
  • Hy het al ’n tandjie of twee (maar nie noodwendig nie).
  • Hy kan al “kou” deur kos met sy tandvleis of tandjies fyn te maak.
  • Hy stel belang in wat julle eet en geniet dit ál meer om nuwe smake en teksture te beproef. Hy reik uit na kos en sit graag goed in sy mond.
  • Hy het die nodige fyn motoriese vaardighede om klein en meer presiese bewegings uit te voer.
  • Hy kan goedjies al met ’n knypergreep tussen sy duim en voorvinger optel en dit vashou en manipuleer.

Superwenk Omdat jou baba aanvanklik nog ietwat onhandig is, kan jy hom gerus steeds met ’n lepel voer en die vingerhappies apart voorsit.

Waar om te begin

Baba se eerste vingerkosse behoort sag genoeg te wees dat hy dit sonder te veel moeite tussen sy tandvleis kan fyn druk. Dit moet byna in die mond wegsmelt.

Sny die vingerkos groot genoeg dat hy dit kan optel en vashou. Die grootte sal afhang van die soort vingerkos. Harder kosse moet in kleiner stukkies gesny word sodat jou baba nie verstik nie, terwyl sagter kosse wat in die mond smelt (soos waatlemoen), beter werk as groter stukke. Verwyder alle pitte, beentjies of grate.

As dit by die eetslag kom, moet jou kleinding verkieslik regop en gemaklik in sy eetstoeltjie sit.
Kies ’n tyd wanneer hy honger is – verkieslik voor jy hom voer. Moet hom nie met ’n te groot verskeidenheid oorweldig nie.

Superwenk

Vingerkos kan soms ’n morsige storie word; maak dus maar ’n lekker groot borslap om baba se nek vas en pak genoeg koerantpapier onder die eetstoeltjie.

Wat kan baba eet?

Vrugte stukkies

Ryp piesang, ingelegde vrugtestukkies, avokado, snytjies gaar appel, sagte snytjies peer, komkommerstokkies, spanspekstukkies, waatlemoenstukkies, kiwi, stukkies ryp veselperske en gekookte perske.

Saggekookte groente

Wortel, soetpatat, aartappel, botter¬skorsie, broccoli, blomkool, aspersies en groenboontjies. Sny alles in blokkies of repies.

Vleis stukkies

Hoender (baie klein of in repies gesny), visvingers, snytjies koue vleis, klein frikkadelletjies.

Ander goed

Gekookte pasta, Fruit Loops- of Cheerios-ontbytgraan, repies sagte kaas, roosterbroodvingers, ryskoekies of tofublokkies.

Moenie jou baba vol lekkergoed begin stop nie. Dis nou die ideale tyd om hom gesonde eetgewoontes te begin leer.

Superwenk

As jou baba aanvanklik nie van ’n sekere soort vingerkos hou nie, bied dit ’n paar weke later weer aan. Dit verg soms ’n hele paar probeerslae voor ’n baba aan ’n nuwe smaak of tekstuur gewoond raak en dit aanvaar.

Veilig met vingerkos

Die risiko van verstikking vergroot met vingerkos.

  1. Moenie dat jou baba oral in die huis rondbeweeg terwyl hy eet nie. Hy moet regop in sy eetstoeltjie sit en eet om verstikking te voorkom.
  2. Maak seker die kos is geskik vir sy kouvermoë. Vermy harde, groot stukke kos, veral harde vrugte of stukke rou groente, rosyntjies, springmielies en heel druiwe en kersietamaties.
  3. Moet nooit jou baba alleen laat terwyl hy besig is om vingerkos te eet nie.

Resepte

  • Soetpatatblokkies

Was en skil ’n patat en sny in klein blokkies. Sit die blokkies in ’n glasbak met ’n deksel en kook in die mikrogolfoond op hoog tot sag. Sprinkel ’n bietjie fyn gemmer oor.

  • Piesangpannekoek

Maak pannekoekdeeg aan volgens jou gewone resep. Sny die piesang in dun skyfies en voeg by die deeg voor jy dit in die pan skep en bak. Sny in stukkies.

  • Anderste vrugteslaai

Kook ’n halwe pak skulpienoedels tot gaar. Meng een groot piesang (in ringetjies gesny), ’n snytjie spanspek (in blokkies gesny), een kiwivrug (in blokkies gesny) en sowat 2 eetlepels koringkiem in ’n mengbak. Gooi sowat 125 ml natuurlike jogurt oor en meng. Plaas ’n uur in die yskas en sit voor.

  • Kaneelappel

Skil een of twee Golden Delicious-appels. Ontpit en sny in dun skyfies. Sit dit in ’n plastieksak en sprinkel ’n bietjie kaneel oor. Skud die sak sodat die kaneel eweredig oor al die snytjies versprei. Plaas dit in ’n glasbak met ’n deksel en mikrogolf 3 minute op hoog tot sag. Laat 5 minute staan. Sit koud voor.

  • Gebraaide piesang

Skil ’n piesang en sny dit in die lengte in die middel deur. Smelt 1 eetlepel botter in ’n pan. Sit die piesang in die pan en braai 5 minute aan elke kant tot goudbruin (versigtig met die omdraaislag – dit breek maklik). Sprinkel ’n bietjie kaneel oor. Sit lou voor.

  • Gebraaide soetpatat

Voorverhit die oond tot 180 °C. Sny omtrent vyf geskilde soetpatats in dun skyfies. Meng sowat
50 ml olyfolie met ’n knypie bruinsuiker en kaneel. Voeg dit saam met die patat in ’n plat oondbak en meng goed. Bak tot sag.

  • Lekker hoenderhappies

Skil en rasper 1 wortel, 1 appel, ½ knoffelhuisie en ½ klein uitjie. Meng met 1 koppie gemaalde hoender. Voeg geklitste eiergeel by, asook ¼ koppie broodkrummels, ’n bietjie tiemie en swartpeper. Meng goed. Rol die mengsel in klein worsies en plaas op ’n gesmeerde pan. Braai onder die rooster van die oond tot gaar. Laat afkoel en sit voor.

  • Broccolihappies

Kook sowat 1 koppie broccoli tot goed sag en dreineer. Meng met 1 koppie droë, gegeurde brood-krummels, 1½ koppie gerasperde cheddarkaas, 2½ eetlepels water, 2½ eetlepels olyfolie en 1½ teelepel bakpoeier. Verhit die oond tot sowat 180 °C. Vorm die mengsel in klein ronde balletjies en plaas op ’n gesmeerde pan. Bak sowat 20 tot 25 minute. Draai halfpad om. Sit warm voor.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees