Babamassering, voordelig vir jou kleinding

akkreditasie
Die wondere van babamasering word wyd en syd besing. Maar presies hoekom is dit so voordelig vir jou kleinding? En hoe kan jy seker maak jy vat raak?

Aanraking is ons eerste taal. So sê Rosa-Marié Olivier, ’n arbeidsterapeut van Alberton. “Die tassintuig
is die eerste sensoriese stelsel wat in die baarmoeder begin werk. Dit is ook die hoofstelsel waarmee ’n baba met die buitewêreld kontak maak tot tyd en wyl taal, motoriese vaardighede en denkprosesse
genoeg ontwikkel het om ook ’n bydrae te lewer.”

In die baarmoeder word babas voortdurend diep en ferm deur die elastiese baarmoederwand aangeraak, verduidelik Rosa-Marié. “Dis baie soos om styf vasgehou te word. Daarom is dit belangrik dat jy ná die geboorte met die gereelde ferm aanraking voortgaan – byvoorbeeld deur massering –
want dis die taal wat jou baba verstaan, en dit vertroos en kalmeer haar.”

Vat raak

Ons tassintuig speel ’n baie belangrike rol. Onder meer beskerm dit ons liggaam en waarsku en verdedig dit ons deur inligting oor pyn, temperatuur en aanraking te verskaf, sê Rosa-Marié.

“Dit speel ook ’n rol in ons emosionele sekuriteit, want tasimpulse verbind met die deel van die brein wat emosies beheer.”

As iemand aan jou raak, verskaf jou tasstelsel inligting oor wie dit is, waar jy aangeraak word en wat die intensiteit van die aanraking is. Daar is dus geen twyfel oor die voordele van liefdevolle, gereelde,
ferm aanraking tydens die vroeë ontwikkeling van ’n baba nie.

Hier is nog ’n klompie redes waarom babamassering so belangrik is.

Beter binding. Massering bevorder die emosionele binding tussen ouer en baba omdat dit ’n baba kalmeer en haar veilig laat voel.

’n Groter liggaamsbewustheid. Gereelde, ferm aanraking maak babas van hul liggaam bewus, wat
belangrik is vir latere ontwikkeling soos oriëntasie.

Beter slaappatrone. Omdat aanraking so kalmerend is, verminder dit stres en angstigheid, en kan dit baba help om beter te slaap.

Verligting van krampe. Massering is uitstekend vir babas wat sukkel met winde en krampe omdat jy jou baba se magie masseer in die rigting waarin haar spysverteringkanaal loop (regsom).

Goeie spysvertering. Navorsing het gewys dat tasstimulasie sekere maag- en dermhormone laat afskei wat help met spysvertering, gewigstoename en ontwikkeling van die senuweestelsel.

Wanneer kan julle begin?

Ida Pretorius, ’n verpleegsuster en babamasseringsafrigter van Alberton, sê daar is nie ’n regte of verkeerde tyd om met babamassering te begin nie, maar sy raai ma’s aan om daarmee weg te spring wanneer hul baba vier weke oud is.

“Jou baba begin teen week drie ‘oopmaak’ vir prikkels, en jy kan dus kort daarna met  massering begin.
“Teen die tyd dat jou baba ses weke oud is en dinge soos maagkrampe begin ontwikkel, sal jy al goed toegerus wees om dit met massering teen te werk.”

Kies ’n kursus

Daar is ’n magdom advertensies vir babamasseringskursusse. Watter een moet jy kies? Is sommiges beter as ander? Moet die opleier ’n kwalifikasie hê?

Ida het hierdie wenke:

  • Maak seker dat die afrigter opleiding ontvang het by die internasionale babamasseringsliggaam, oftewel die International Association of Infant Massage (IAIM). Dié vereniging is die enigste geakkrediteerde liggaam wat hierdie opleiding in Suid-Afrika verskaf.
  • Vind uit of die afrigter aktief klasse aanbied. Lei sy ma’s gereeld op in babamassering, of doen sy dit net een of twee keer per jaar?
  • Hoewel dit glad nie ’n vereiste is nie, is dit gerusstellend as die afrigter ’n mediese agtergrond het soos verpleegkunde, arbeidsterapie of sielkunde.
  • Jou afrigter behoort ook vir jou ’n opsommingskaart van al die tegnieke te gee wat jy by die huis kan opplak en waarna jy kan verwys terwyl jy jou baba masseer. ’n Meer gedetailleerde handleiding vir latere verwysing is ook nuttig.

Hoewel dit ’n goeie plan is om ’n kursus by te woon voor jy jou baba begin masseer, kan jy jou self ook die kuns aanleer. Die meeste boeke wat fokus op die versorging van babas bevat ’n hoofstuk of twee hieroor. (Maak net altyd seker jy bly veilig! Meer inligting oor veiligheid word hier onder verskaf.)

As jy babamassering saam met ’n afrigter en ander ma’s leer, word jy egter veel meer wys as op jou eie, sê Ida. “ ’n Afrigter kan jou byvoorbeeld help om jou baba se liggaamstaal reg te lees, iets wat
nogal moeilik is met net ’n boek voor jou.”

IAIM Suid-Afrika nooi ma’s op hul webtuiste (www.za.iaim.net) om hul hoofkantoor by 011-886-2661 te bel of epos te stuur na margo kilborn@iafrica.com vir inligting oor afrigters in jou omgewing.

Hoe lank en hoeveel?

Die meeste babamasseringskursusse behoort nie langer as vyf weke te duur nie. Die algemeenste struktuur is een les per week en klasse van sowat 90 minute elk. Ida sê hoewel die meeste kursusse binne vier weke afgehandel kan word, is dit belangrik dat daar speling is vir ’n groep waar die ma nie kon konsentreer of deelneem nie as gevolg van ’n knieserige baba of ’n baba wat wil voed. Jy behoort van R350 af te betaal vir ’n goeie babamasseringskursus.

Speel veilig

Babamassering het reëls. Maak seker jy volg altyd dié riglyne:

  1. Vra altyd eers jou baba se toestemming voor jy hom begin masseer, selfs al kan hy dit nog nie woordeliks gee nie. Hoe doen jy dit? Maak oogkontak en vryf jou hande voor sy gesiggie terwyl jy
  2. hom vra of jy sy bene mag masseer. Babas leer om die vrywende hande te verbind met massering en wys later met oogkontak, skoppende beentjies en oop armpies dat hulle dit aanvaar.
  3. Lees altyd jou baba se liggaamstaal en kies ’n tyd wanneer hy rustig, ontspanne en wakker is. Te veel aanraking wanneer hy huilerig, honger of ongelukkig is, sal hom net oorstimuleer en die teenoor- gestelde uitwerking hê.
  4. Kies ’n rustige, stil omgewing sodat jou baba op jou en die aanraking kan fokus.
  5. Sorg dat jou hande warm is en gebruik ferm en vloeiende bewegings. Dit is belangrik om nie jou baba te sag te masseer nie omdat dit dan streling is en nie massering nie. Kyk na die kleur van die vel om te weet of jy ferm genoeg is: Massering moet die vel ligter verkleur en waar jou hande aanbeweeg, verkleur die ligter vel weer na normaal.
  6. Begin altyd by die bene. Dan volg die maagmassering, die bors, die arms, die gesiggie en laastens die rug.
  7. Hou altyd een hand op jou baba se lyfie wanneer jy die ander hand optel en hou jou bewegings egalig en ritmies.
  8. Gee diepdruk-bewegings in die handpalms, op jou baba se voetsole en by die basis van sy vingertjies en tone. Doen dit deur jou vingers met ’n rolbeweging na sy vinger- en toonpunte toe te laat gly.
  9. Hou altyd die gewrigte mooi reguit om skade te voorkom. Moenie ledemate wring of draai nie.
  10. Maak seker jy het genoeg room of olie aan jou hande terwyl jy masseer. Dit moet voel asof jy gesmelte botter op jou hande het.
  11. Moenie masseer of te veel stimuleer wanneer jou baba koors het, siek is of pas ingeent is nie.

Wat as baba ouer word?

Massering is nie meer so maklik wanneer jou baba hier teen sewe maand oud begin beweeglik en woelig raak nie. Ida sê egter dit behoort julle nie van massering te laat afsien nie. “Pas bloot die manier van massering aan deur byvoorbeeld vir hom ’n ‘storie’ op sy rug te ‘vertel’ en beweeg dan aan na die ander liggaamsdele,” sê sy.

Hoe gemaak as jou baba nie van massering hou nie?

Uit die magdom navorsing wat al oor aanraking gedoen is, is dit duidelik dat alle babas aangeraak wíl word. Dit is dus byna nie moontlik dat babas nie van masse ring sal hou nie, reken Ida Pretorius, ’n babamasseringsafrigter en verpleegkundige.

Juis hierom meen sy is dit so belangrik dat ma’s ’n volwaardige babamasserings kursus by ’n geakkrediteerde afrigter volg sodat hulle kan leer wat hul baba vir hulle wil sê as hy byvoorbeeld sy beentjies optrek wanneer jy dit begin masseer.

Babas wat in die neonatale waakeenheid was, verbind aanraking soms met negatiewe ervarings en moet met die hulp van ’n kundige weer geleer word dat aanra king ook lekker kan wees. Rosa-Marié sê tradisionele babamassering sal waarskynlik ook nie werk vir babas wat tassensitief is nie. “Ma’s van sulke babas moet egter nie voel dat hulle misluk omdat hulle nie hul baba kan masseer nie. Daar ís ander maniere om ’n spesiale band met jou baba te vorm,” sê sy.

Dié maniere kan deur terapie vasgestel word, want dan word die baba se hele sensoriese stelsel geëvalueer en sy sensoriese voor- en afkere geïdentifiseer. “Só ’n baba wil dalk liewer styf in ’n kombersie toegedraai en dan heen en weer gewieg word (bewegingstimulasie) as om aangeraak te word.”

As jou baba altyd kriewelrig is tydens massering, hou liewer op en wag ’n week of twee voor jy dit weer beproef. As hy daarna steeds ongelukkig is, kan jy gerus ’n arbeidsterapeut gaan spreek.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees