Badtyd vir jou baba

akkreditasie
Badtyd is meer as 'n geleentheid om jou baba skoon te kry - dis tyd om die band tussen ma en baba te vorm en om daardie knus lyfie werklik te leer ken.

Dit maak nie saak of jy ’n pap baba of ’n woelige kleuter het nie – beplanning is die sleutel tot ’n suksesvolle badsessie.

Kry alles voor die tyd reg

Dis gerieflik om alles byderhand te hê en ook veel veiliger omdat jy dan nie in die versoeking kom om jou kind alleen te laat terwyl jy iets gaan haal wat jy vergeet het nie.

Kry die water reg

Gebruik ’n badtermometer as jy onseker is. Hou die water maar vlak. Wat seep betref: Kies iets wat spesiaal vir babas gemaak is. Sterk seep en sjampoe wat vir grootmense bedoel is, is nie geskik nie en kan jou baba brand. Moenie seep op die gesig gebruik nie.

Was altyd van bo na onder en van voor na agter

Gebruik die sagste waslap wat jy kan kry en kies elke keer ’n skoon een. Skaf gerus ook sagte handdoeke aan vir die afdroogslag. Jou baba se vel is sensitief en ’n growwe handdoek kan seermaak. Moenie hard vryf nie, druk jou kind liewer liggies droog.

Bind met baba

Badtyd is heerlike bindingstyd. Praat met jou baba en vertel stap vir stap wat jy doen. Jou stem is vertroostend en laat jou baba gelukkig voel.

Gee baba ’n liefdevolle drukkie wanneer al sy kleertjies uitgetrek is. Dit help hom om geborge te voel. Draai hom ná die bad styf in ’n snoesige handdoek toe. Dis ’n goeie tyd vir massering, of om elke stukkie vel op sy lyfie te soen.

Pap baba

Wag met die eerste regte bad tot die naelstring afgeval het – of as jou seuntjie besny is, tot die wond heeltemal genees het. Tot dan kan jy ’n “bo en- onder”-bad gee (sien die kassie hier onder).

  • Jou tydsberekening is belangrik. Bad baba wanneer sy nie moeg of honger is nie en ook wanneer sy taamlik onlangs gepoef het, anders gebeur dit dalk in die bad.
  • Maak die kamer lekker warm en sorg dat daar geen trek is nie. Sit ’n stoel langs die bad neer sodat jy kan sit as jou rug moeg word.
  • Wees gewaarsku dat ’n nat baba glibberig kan wees, en ’n nat, seperige baba nog glibberiger. Hou by ’n paar druppels seep; meer is nie nodig nie. Dit kan help om ’n handdoek onder in die bad te sit. Jy kan ook ’n waslap oor jou hand plaas om ’n beter greep te kry.
  • Hou die water vlakkerig sodat jou baba se boude op die bodem rus en sy nie begin dobber nie. In dié sitlêposisie – jy moet haar koppie ondersteun – kan die water tot net onder haar armholtes kom. Sit haar voete eerste in die water en glip haar lyfie dan geleidelik in sodat sy nie skrik nie.
  • Was haar lyf van bo na onder en van voor na agter.
  • Was die hare laaste, want nat hare kan haar laat koud kry. Was haar hare en kopvel baie liggies en versigtig met spesiale babaseep of -sjampoe. Jy hoef dit net een keer per week te doen. Spoel die hare met die waslap af.
  • Draai haar styf toe en droog haar sagkens af.

Onder 1 jaar

Vroegaand is ’n goeie tyd vir bad, want dit kan help om jou baba voor slaaptyd te laat ontspan. Belê gerus in een van die spesiale badprodukte op die mark wat laventel bevat, want dit het ’n kalmerende uitwerking.

Al kan jou baba sit en al het jy glymatjies, ’n badring of badsitplekkie, mag jy steeds nooit, ooit jou baba alleen in die bad laat nie. Probeer om die heeltyd ’n hand op hom te hou. ’n Baba wat omdop, kan baie groot skrik en dan bang wees vir water.

As jy die aandroetine korter wil maak, kan jou ouer baba sommer in die bad sy aandpap eet. Die bad is ook ’n goeie plek om medisyne te gee, want dit maak nie saak as jy mors nie.

Onder 2 Jaar

Badtyd is nou al roetine, en jy sal aan die donker badring kan sien hoe vuil jou kind homself elke dag speel. Onthou, dis ’n goeie ding. Speel is immers peuters se werk.

Hare was kan op hierdie ouderdom ’n uitdaging word. Jy sal moet eksperimenteer om uit te vind wat vir julle werk. Sommige kinders sal plat in die water lê om hul hare te laat afspoel, maar as jou kind geneig is tot oorinfeksie is dit nie ’n goeie plan nie. As julle dit so wil doen, hou die water vlak op harewasdag.

Ander kinders verkies dit weer om ’n droë waslap oor hul oë te druk sodat Ma vinnig ’n paar bekers water kan oorgiet. En ander verkies ’n stortkop en om hul kop agteroor te hou. Dit werk dikwels beter as hulle dan in die bad staan eerder as sit.

As jou kind elke keer ’n keel opsit sal jy baie geduldig moet wees. Skree en dreig help niks en maak die hele ervaring net nog meer onaangenaam. Bad saam met jou peuter en gee haar ’n beurt om jou hare te was en af te spoel. Wys dan hoe jy die water uit jou oë hou.

Onthou, dis nie nodig om elke dag hare te was nie. Een keer per week of self een keer elke 10 dae is genoeg.

Onder 3 jaar

Die badkamer kan ’n klaskamer wees. Jou kleuter is ontspanne, maar gefokus en dis dus die ideale geleentheid vir leer. Laat hy met bekers speel en water skink, en ontdek hoe dit deur ’n sif sypel. Dié spel stimuleer sy tassin en oefen sy skouerspiere.

Die bad is ook ’n goeie plek om te leer seepbelle blaas, wat kan help met spraakontwikkeling. Lekker badspeelgoed sluit in ’n waterwiel, speelgoed van verskillende teksture en speelgoed wat dryf.

As jou kind nie graag bad nie, kan jy hom bad toe lok met kleurryke badkryte of produkte wat die kleur van die water verander. Laat hom kies in watter kleur hy wil bad.

En wanneer julle kom by die ernstige deel van die bad - om hom skoon te kry - kan jy die geleentheid gebruik om hom al die name van sy liggaamsdele te leer terwyl julle dit was. Onthou om badspeelgoed gereeld te ontsmet.

Velig bad:

  • Ons sê dit weer: Moet nooit, ooit jou kind alleen in die bad laat nie.
  • Tap eers die koue water in en dan die warm water. So keer jy dat jou kind per ongeluk in ’n vuurwarm bad beland.
  • Koel die kraan af deur koue water ’n paar sekondes lank daardeur te laat loop.
  • Vermy oormatige gebruik  van badskuim. Dit kan veral by dogtertjies tot blaasontsteking lei, en baie kinders kry ’n veluitslag daarvan.

Bo en onder

  • Lê jou baba op haar doekruilstasie of op die bed op ’n sagte handdoek neer. Sorg dat jy warm water byderhand het. Trek jou baba se boonste klere uit. Doek en broek kan vir eers aanbly.
  • Begin met die ogies. Gebruik ’n klam watteballetjie vir elke oog en vee van die binnehoek na die buitehoek. Seep is onnodig.
  • Doop dan ’n skoon, sagte waslap in die warm water – jy kan ’n paar druppels seep byvoeg – en druk die oortollige water uit. Vee jou baba liggies skoon. Gee veral aandag aan die voue van die nek, agter die ore en tussen haar vingers, want dit is waar melk en spoeg kan saampak. Lig ook haar armpies op en vee daar skoon.
  • Trek skoon klere bo aan en trek haar onderste klere uit. Bedek haar kop met ’n handdoek as haar haartjies nog nat is.
  • Was dan haar onderlyf. Vee altyd van voor na agter. Onthou om tussen die toontjies te was. Droog haar af en trek skoon klere aan.

Nuttige wenke:

  • ‘Smeer ’n bietjie vaselien bo jou baba se wenkbroue. Dit keer dat water in haar oë beland.’
    - JANA M, MA VAN DEON (9 WEKE)
  • As jou baba nie van bad hou nie, kan julle gerus saam bad. Hou haar op jou skoot teen jou bors vas terwyl julle saam in die bad sit. Laat jou man help met die in- en uitklimslag. Dit werk veral goed as jou baba knieserig of siek is.’
    - YOLANDI R, MA VAN EMILY (8 WEKE)
  • ‘Ek druk altyd die handdoek voor by my broek in. Wanneer ek my baba uit die bad tel, gaan sit ek onmiddellik op ’n stoel en kan ek my baba net so op my skoot op die handdoek neersit.’
    - EMMA B, MA VAN RETHA (9 MAANDE)
  • ‘Omdat my kind niks van hare afspoel hou nie, sien ek nie kans om nog opknapper ook te gebruik
    nie. Ons gebruik dus J&J se No more Tangles-sproei en dit werk soos ’n bom.’
    - HELENA C, MA VAN SUZY (1½ JAAR)

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees