Begin met vastekos

akkreditasie
Om jou baba aan vaste kos bekend te stel hoef nie `n taai tameletjie te wees nie. Hier is al die inligting wat jy nodig het om hierdie opwindende nuwe fase met selfvertroue in te gaan.

Die bekendstelling van vaste kos is vir menige nuwe ma `n groot uitdaging en daar is so baie (dikwels teenstrydige) inligting daaroor te kry, van die tannie langsaan tot jou skoonma tot die ander ma’s op jou Facebook-kletsgroep. Maar eintlik is dit heel eenvoudig – die geheim is om stadig te begin en enige veranderinge geleidelik te maak, en voor jy weet het jy `n fynproewer grootgemaak.

Stap 1: Wanneer is my baba gereed vir iets meer as melk?

Die konsensus onder kenners is dat jy nie voor 4 maande met vaste kos moet begin nie, of te lank ná 6 maande moet wag nie. Voor 4 maande is jou baba se verteringstelsel beslis nie reg nie, en sy sal ook weens haar tongstootrefluks sukkel om te sluk. Buitendien voorsien borsmelk in al haar voedingsbehoeftes, en as jy te vroeg begin, kan dit lei tot allergiese reaksies.

As jy te lank na 6 maande wag, loop jy weer die risiko dat jou baba nie optimaal gevoed word nie, want haar voedingsbehoeftes en energiebehoeftes raak meer kompleks. Hoewel jou borsmelk steeds `n uitstekende bron van voeding is, is borsmelk alleen na 6 maande nie voldoende nie. Dit is ook vir jou baba se ontwikkeling belangrik dat sy nou blootstelling begin kry aan ander smake, en eet-ervarings.

Maar hoe weet jy wanneer presies in hierdie vensterperiode jóú baba gereed is? Dis nie sommer `n lukrake besluit nie. Gelukkig gee jou baba jou baie tekens wat dui op gereedheid.

Hier is `n lys wat jou kan help om te besluit:

  • Jou baba sit mooi regop en het goeie kop- en nekbeheer.
  • Jou borsbaba tel nie meer so vinnig gewig op soos vroeër nie.
  • Jou bottelbaba is nie meer vir lank tevrede as sy bottel klaar gedrink is nie.
  • Sy kan uitreik en `n voorwerp na haar mond bring.
  • Sy stel belang wanneer sy sien dat jy eet.
  • Haar tongstootrefleks (wat haar teen verstikking beskerm) is aan die verdwyn, en sy maak koubewegings met haar kake.
  • Haar geboortegewig het verdubbel. (Let wel, dit kan voor 4 maande gebeur, maar dit beteken nie dan dat jou baba gereed is nie.)

ROOI LIG

Moenie vroeg met vaste kos begin omdat jy dink dit jou baba gaan help om deur te slaap nie. Dit doen meer skade as goed, en sal geen positiewe uitwerking op slaap hê nie.

Stap 2: Wat moet ek gee?

Wanneer jy seker is jou baba is reg, onstaan die volgende vraag. Wat moet jy gee? Daar is 3 gewilde opsies vir die heel eerste kossies.

Ryspap

Maak dit baie slap aan, volgens die aanwysings op die boks. Bied dan vir jou baba `n titseltjie op die voorpunt van `n sagte lepeltjie. As sy dit goed ontvang, kan jy elke dag `n bietjie meer gee, altyd op dieselfde tyd van die dag.

Vrugte-puree

Babas hou van appel, piesang, perskes en pere. Sorg dat die puree baie slap is en bied `n titseltjie op `n slag aan. Vermeerder die hoeveelheid elke dag vir `n week.

Groente-puree

Gewilde keuses is soetpatat, botterskorsie, wortel of pampoen. Maak dit lekker slap deur borsmelk by te voeg. Bied `n klein titseltjie aan, en vermeerder die hoeveelheid geleidelik.

Die geheim is om aanvanklik slegs een nuwe kossoort op `n slag aan te bied, vir ongeveer 5 dae lank. So kan jy sien of jou baba `n negatiewe reaksie toon. Wanneer ryspap, vrugte- en groente-puree goed aanvaar word, kan jy begin om kombinasies daarvan aan te bied.

Jy kan die hoeveelheid geleidelik vermeerder, sonder om druk op jou baba te sit, totdat sy sowat 3 eetlepels per maaltyd inkry, 2 keer per dag. Hou die kos eers baie slap, en begin dit geleidelik dikker maak.

Stap 3: Hoe doen ek dit?

Vir die heel eerste vaste kos, is dit raadsaam om `n tyd te kies wanneer julle altwee rustig is: laatoggend of vroegmiddag. Gee eers `n bietjie melk sodat die ergste honger gestil is, en bied dan `n titseltjie van die slap, eerste kossies aan.

Sit aan tafel met baba in haar hoëstoeltjie. Gebruik `n sagte spesiale lepeltjie. Wees ontspanne, vriendelik en aanmoedigend. Moet jou baba nie dwing nie.

Bly ook kalm as daar `n gemors is; dis heeltemal normaal. Wees voorbereid met `n borslappie vir baba en `n skoon jammerlappie byderhand. As jou baba haar hand in haar mond sit saam met die kos, en dit dan aflek, is dit in orde, en net nog `n manier waarop sy die hele ervaring van kos kan ontdek.

As sy nie van iets hou nie, los dit eers vir `n week of wat, probeer iets anders, en probeer dan weer die kos waarvan sy nie gehou het nie. Aanhouer wen. Studies toon jy moet jou baba rustig tot 10 keer aan die ongewilde kos bekendstel voordat sy daarvan sal hou.

As jou baba siek is, of tandesny, is dit raadsaam om vir `n week of wat nie te avontuurlustig te wees nie, en maar te hou by kosse wat sy reeds aanvaar het. Wanneer sy beter voel, kan julle weer met nuwes begin.

Stap 4: Wat’s volgende?

As jou baba goed op dreef is en ryspap, vrugte en groente eet, en ook kombinasies daarvan kan hanteer, is dit tyd om nog nuwe ervarings bekend te stel.

  • Tussen 7 en 9 maande moet sy begin gewoond raak aan tekstuur, en jy moet dus begin om sagte klonte in die kos te los.
  • Dis ook die tyd waarop jou baba `n vleisie kan begin eet, soos bees, lam of hoender, wat saam met die sagte kos opgemaal word.
  • Jy kan ook begin om peulgroente en graangebasseerde kosse bekend te stel, sowel as jogurt en kaas.
  • Gaar eiergeel is ook aanvaarbaar, maar bly vir eers weg van eierwit.
  • Jy kan aanhou om die hoeveelhede en hoeveelheid maaltye geleidelik te vermeerder, maar moet haar nooit dwing nie. Wanneer sy wegdraai en nie haar mond wil oopmaak nie, het sy genoeg gehad.

Hoeveel melk?

Tot op 6 maande sal jou baba nog tussen 800 ml en 1 000 ml melk per dag drink. Soos wat maaltye met vaste kos dan die melkvoedings begin vervang, kan die melkhoeveelheid afneem na tussen 600 ml en 700 ml in die ouderdom 7 tot 9 maande. Op `n jaar is sowat 500 ml melk aanbeveel.

Bly weg van...

  • Dit is vir babas oorbodig om suiker en sout by hul kos te voeg. Oppas ook vir versteekte sout in gerookte, geprosesseerde kos – dis nie geskik vir babas nie.
  • Koeimelk, tot jou baba `n jaar oud is. Kaas en jogurt (natuurlik en onversoet) is egter makliker verteerbaar en kan vanaf 7 maande gegee word, solank dit gepasteuriseer is.
  • Skulpvis.
  • Heuning.
  • Eierwit.
  • Sitrus.
  • Neute, as daar `n familiegeskiedenis van allergieë is.
  • Kos wat in vet gebraai is.
  • Rosyntjies, druiwe, vrugte met pitte en springmielies hou `n verstikkingsgevaar in.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees