Beveg só koliek

akkreditasie
Raad vir huilendebaba-sindroom is volop, maar daar's veral 2 strategieë wat werk: 'n verandering in baba se eetgewoontes, en manipulasie van sy rugwerwels

Verander jul eetplan

Hannah Leathem, Johannesburgse dieetkundige:

Die verband tussen kos en koliek is taamlik omstrede en lok baie verskillende menings uit. Die probleem is dat niemand presies verstaan wat koliek veroorsaak nie. Dis ook moeilik om na te vors omdat wetenskaplike toetse op babas as oneties beskou word.

Die meeste kenners stem saam dat ’n onvolwasse spysverteringstelsel ’n rol in koliek kan speel. Daarom probeer ons om kos uit te skakel of te verminder as dit verdere druk op ’n baba se spysverteringskanaal kan plaas.

Hardlywigheid kan ook tot die pyn en ongemak bydra en ’n goeie probiotikum (soos Infantiflora) en prebiotikum (soos Duphalac) kan help.

Babas kan koliek ontwikkel of hulle nou bors- of formulemelk drink. As jou baba formulemelk drink, moet jy verskillende soorte formule beproef, veral die hipersensitiewe soort. Gee elke formule sowat ’n week kans om te sien of dit ’n verskil aan die koliek maak.

Beproef ook verskillende bottels. As jy borsvoed, kan jy gerus jou eie dieet onder die vergrootglas plaas. Allergene (stowwe wat allergiese reaksies veroorsaak) soos koeimelk, eiers, neute, grondbone, koring, soja en vis kan baba ongemaklik laat voel.

Skakel een moontlike allergeen op ’n slag uit. Suiwel het tot twee weke nodig om uit jou sisteem te kom. Maar die grootste verbetering in koliek wat al opgemerk is nadat ma’s hul dieet verander het, was wanneer hulle koeimelk uitgeskakel het.

Ek sê altyd vir borsvoedende ma’s ’n mens moet bewus wees van kosse wat gas kan veroorsaak, maar dis ook onmoontlik om elke liewe kossoort uit te skakel en dit help ook nie om jou te verknies oor elke
kriesel wat jy eet nie. Kyk liewer na die lys van moontlike sondaars en skakel een kossoort op ’n slag uit om vas te stel of dit ’n verskil maak.

’n Klein bietjie ui sal nie so ’n sterk reaksie veroorsaak soos ’n hele gebakte ui nie.

Hieronder is ’n lys van kos wat baba olik kan laat voel, maar onthou dat een soort kos dalk een baba aantas maar nie ’n ander nie.

Groente

  • Peulgroente en bone: groenbone, gebakte bone, lensies, limabone
  • Broccoli
  • Brusselse spruite
  • Kool
  • Blomkool
  • Mielies
  • Komkommer
  • Preie
  • Blaarslaai (veral Iceberg, botterslaai is beter.)
  • Uie
  • Groenertjies, split-ertjies, swartbekboontjies
  • Groenrissies
  • Radyse
  • Suurkool
  • Salotte
  • Sojabone
  • Rape
  • Tamaties
  • Spinasie
  • Aspersies

Vrugte

  • Appels en appelsap
  • Avokado
  • Sitrusvrugte
  • Spanspek
  • Aarbeie
  • Waatlemoen

Ander

  • Neute en grondboontjiebotter
  • Suiker en lekkers
  • Gaskoeldrank en versoete koeldranke
  • Melk en suiwelprodukte
  • Verfynde meel: koek, brood (wit, volgraan en bruin), koekies, pannekoek
  • Sjokolade
  • Kafeïen (tee, koffie, kola) en alkohol
  • Knoffel
  • Brandrissie
  • Kerrie en ander sterk speserye
  • Kunsmatige versoeters
  • Sigaretrook

Tokkel op baba se rug

Dr. Lizette Botha, Johannesburgse chiropraktisyn:

Baie mense gebruik koliek as ’n omvattende term om ’n huilerige baba te beskryf. Die algemene definisie van koliek is ’n onverklaarbare en onbeheerde gehuil by babas jonger as drie maande.

Simptome duur gewoonlik langer as drie uur per dag en kom meer as drie dae per week voor. Dit hou ook langer as drie weke aan.

Die huilerigheid kom gewoonlik gedurende die laatmiddag en aand voor en gaan gepaard met tekens van maagpyn en prikkelbaarheid. Dis waarom baie kundiges die spysverteringskanaal die skuld daarvoor gee. Baie vrae word dus gevra oor voedingspatrone en soort voeding.

In studies wat in Suid Afrika en Denemarke gedoen is, is gevind dat behandeling deur ’n chiropraktisyn verligting vir tussen 70 en 90 persent van babas bring. Die beginsel daaragter is dat stimulasie van ’n baba se senustelsel die spysverteringstelsel beter kan laat werk.

Senuwees in die nek reguleer die outonome senuweestelsel, wat onder meer verantwoordelik is vir die beheer van ingewandsbewegings. Senuwees in die middelrug beheer weer die spiere in die dik- en dunderm.

As beweging van die rugwerwels beperk word, raak dié senuwees geïrriteerd. Dit word as “harde”, teer plekkies op die rugstring gevoel. Nou is dit so dat die ligging van die baarmoeder tydens swangerskap of ’n probleem met die geboorte, die beweging van baba se rugwerwels kan beperk.

As baba so ’n beperking het, kan manipulasie van die gewrigte verligting bring, die ingewande beter laat werk – en die koliek laat opklaar.

’n Chiropraktisyn sal jou uitvra oor baba se voeding, formules en slaappatroon om ander oorsake van koliek uit te skakel. Sy sal vasstel hoe baba se ontwikkeling vorder en hoe hy beweeg. Dan ondersoek die chiropraktisyn die werwelkolom om moontlike blokkasies in beweging op te spoor.

Klein impulsbewegings word op aangetaste gewriggies gedoen om hulle (en die senuweestelsel) te stimuleer. Dié bewegings is baie sag en vinnig en is glad nie ongemaklik of seer nie.

Indien nodig sal die chiropraktisyn ’n paar oefeninge en tuissorg voorskryf. Drie tot vier konsultasies is gewoonlik nodig en baie ouers sien onmiddellik ’n verandering.

Tekens dat jou baba se ruggie dalk aandag nodig het kan insluit:

  • Beperkte nekbeweging
  • ’n voorkeur daarvoor om op een sy te lê
  • As die baba sukkel om vas te suig.
  • Die baba lyk oor die algemeen ongemaklik, trek sy beentjies op en bal sy vuisies.

Om te verseker dat jou baba optimaal ontwikkel moet jy hom liefs van albei kante af voed (veral as jy bottelvoed) en sorg dat hy op albei sye slaap. Die meeste babas kan van dag een af deur ’n chiropraktisyn behandel word.

Dit is ook goed as jy jou baba bring vir opvolgbesoeke wanneer hy begin sit  kruip en loop. Wanneer hy hierdie mylpale behaal verander die stres op die onderrug en heupe. Deur te verseker dat jou baba se gewriggies altyd optimaal beweeg, kan ’n mens baie toekomstige probleme voorkom.

Onthou egter dat die chiropraktyk net koliek behandel wat veroorsaak word deur werwelkolom-probleme. Daar is ander oorsake van kolieksimptome soos voedselallergieë, rektale fistels (abnormale verbinding tussen die rektum en die veloppervlak) en ondervoeding.

Raadpleeg dus liefs eers ’n dokter om vas te stel of jou baba se gehuil nie ’n ander mediese oorsaak het nie.

Nog teenkoliek-planne

Sus jou baba met wit geruis

Het jy al in ‘n motor aan die slaap geraak? Of in jou kantoor terwyl jy luister na die geruis van die lugversorger? Dan is jy as’t ware aan die slaap gesus deur wit geruis (white noise).

Wit geruis is die eentonige klank wat deur ’n alledaagse produk voortgebring word. Daar is ’n White Noise-CD op die mark vir koliekbabas.

Wit geruis sluit blykbaar al die geluide in wat ’n mens se oor kan hoor. Dit help om ander klanke uit te doof. Die idee is dat wit geruis dit vir baba makliker maak om oor te skakel van die rustige atmosfeer van die baarmoeder na die geweldige stimulasie van die wêreld daarbuite.

Sommige wetenskaplikes glo sommige babas se lyfies is nog nie volwasse genoeg om die alledaagse stimulasie te hanteer nie en om af te wen, huil hulle.

Help jouself

Beproef gerus dié raad om baba te sus:

  • Hou baba vas, stap met haar rond of dans met haar. Babas hou van baie aanraking en beweging.
  • Dra jou baba na aan jou in 'n babasak
  • Laat haar in 'n babaswaai wieg
  • Sing saggies vir haar of praat met haar
  • Jy kan dalk jou baba se posisie verander of haar laat regop sit sodat sy kan sien wat om haar aangaan.
  • Sus haar met huishoudelike geluide, soos die skottelgoedwasser, stofsuier of wasmasjien
  • Neem haar vir 'n rit in die motor of op 'n uitstappie in haar stootwaentjie
  • Bied haar 'n fopspeen om aan te suig

Babamasering

Kenners reken massering kan maagkrampe help verlig en is ’n ontspanningsterapie. Dit is nie net ’n goeie manier om jul band te versterk nie, maar hou vir jou baba fisieke voordele in.

  1. Lê haar op haar rug op ’n gemaklike, plat oppervlak.
  2. Gooi ’n bietjie baba-olie of -poeier in jou hand en vryf jou palms warm teen mekaar.
  3. Maak oogkontak met baba en gesels rustig terwyl jy haar masseer.Maak ferm, sagte bewegings.
  4. Sit jou hande teen mekaar op haar borsie en maak herhaaldeboogbewegings na buite.
  5. Vryf haar beentjies van bo, soos wanneer ’n koei gemelk word, en daarna haar armpies.
  6. Draai haar nou op haar maag en vryf haar rug met stadige bewegings van bo na onder.
  7. As sy dit nie geniet nie, beproef fermer of ligter aanraking of los dit eers.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees