Bloedtoets vir baba

akkreditasie
Het jy geweet dat neonatale bloedtoetse vas kan stel wat die risiko vir aangebore gebreke of metaboliese afwykings is? Hier's die feite.

Wat is dit?

’n Neonatale bloedtoets is ’n spesiale toets wat op ’n pasgebore baba gedoen word, om te bepaal of daar enige risiko is vir ’n aangebore gebrek of metaboliese afwyking. Dit is nie dieselfde as ’n diagnose van so ’n afwyking nie, maar bepaal slegs of jou baba in ’n hoërisiko-groep val. Vir ’n akkurate diagnose is verdere toetse nodig.

Bloed word binne 2 – 7 dae ná geboorte uit jou baba se hakskeentjie getrek en weggestuur na ’n laboratorium soos dié van die Noordwes-universiteit in Potchefstroom. Neonatale bloedtoetse is in baie eerstewêreldlande roetine, maar nie in Suid-Afrika nie. Jy sal spesifiek daarvoor moet vra as jy dit wil hê.

Het my kind dit nodig?

Die siftingstoetse is ontwerp om babas te identifiseer wat die hoogste risiko het vir sekere afwykings. Die idee is om kinders te identifiseer voor die toestand ontwikkel of voor hul liggaam self begin om teen enige foute op te tree. Die behandeling begin so gou moontlik nadat die diagnose gedoen is. Jou kind se kanse op ’n gesonde lewe word aansienlik verbeter as behandeling vroeg al begin.

Die siftingstoetse kan na onnodige moeite klink, maar dis verkieslik bo die angstigheid wat gepaardgaan met ’n laat diagnose en moontlike permanente skade.

Waarvoor word getoets?

Daar word vir ’n verskeidenheid van toestande getoets – sowat 30 spesifieke afwykings. Die meeste hiervan is baie seldsame metaboliese kwale of “foute”. Sowat een uit elke 1 000 babas ly aan ’n aangebore metabolismefout. Hoewel die voorkoms laag is in vergelyking met ander toestande, is die gevolge tragies en sluit dit vertraagde fisieke en breinontwikkeling in, asook breinskade en die nodigheid van permanente sorg indien die toestand nie gou genoeg opgespoor word nie.

Die meeste metaboliese afwykings kan met ’n kombinasie van dieet en medikasie behandel word, wat uiteindelik aan die pasiënt ’n normale en gesonde lewe kan verseker. Vroeë diagnose is egter die sleutel tot suksesvolle behandeling.

Behalwe vir metaboliese afwykings kan ’n risiko vir ander siektes soos genetiese en hormonale af- wykings ook deur die siftingstoetse bepaal word. Hiervoor moet jy egter spesifiek vra.

Wie doen die toetse?

Die Laboratorium vir Aangebore Metaboliese Defekte by die Noordwes-universiteit in Potchefstroom is die bekendste. Tot en met 2004 is babas slegs vir toetse verwys nadat daar vooraf bepalings gedoen is oor die risiko, byvoorbeeld as daar oorerflike genetiese toestande in die familie was of indien ’n vorige kind van dieselfde ouerpaar gesterf het.

In 2005 is ’n neonatale siftingsprogram van stapel gestuur waarmee beoog word om soveel moontlik babas so gou moontlik ná geboorte te toets vir die afwykings met ’n hoë voorkoms. Sekere afwykings het ’n groter voorkoms in sekere bevolkingsgroepe, maar oor die algemeen is die voorkoms van afwykings in Suid-Afrika op dieselfde vlak as in ander lande.

Die laboratorium bedien tans die hele Suid-Afrika en sy buurlande. Daar is onlangs ’n ooreenkoms gesluit met privaat-patologiegroepe vir die vestiging van ’n permanente netwerk van toetse. Labora- toriums onder die vaandel van die National Pathology Group het ook ingestem om bloedmonsters teen minimale koste te versamel en te vervoer.

Wat gaan dit my kos?

Die koste van ’n volledige stel toetse is ongeveer R540. Die meeste mediese fondse betaal nie daarvoor nie. Jy sal egter by jou plaaslike patologielaboratorium moet uitvind wat die toetse presies kos, omdat minimale vervoerkoste na Potchefstroom ingereken word.

Wie moet ek kontak?

Jou naaste patologielaboratorium behoort jou te kan vertel hoe om te werk te gaan. Laboratoriums soos PathCare en Ampath en Drs. Du Buisson, Kramer, Swart, Bouwer Inc./Ing. is van die belangrikste privaat-laboratoriums wat die bloedmonsters neem en aanstuur.

Jy kan ook die biochemie-departement by die Noordwesuniversiteit by 018-299-2310 bel om meer oor die toetse uit te vind.

Wat is die prosedure?

Wanneer jy die naam van ’n kontakpersoon by jou naaste laboratorium het, moet dié persoon ná die geboorte van jou baba in kennis gestel word. Die toets moet binne die eerste sewe dae van jou kind se geboorte gedoen word, maar nie vóór 48 uur sedert geboorte nie. As jy die toets kort ná 48 uur doen, gee dit die laboratorium genoeg tyd om die resultate binne 10 dae by jou terug te kry. Enige behandeling moet binne die eerste 10 dae van jou kind se lewe begin.

’n Opgeleide laboratorium-assistent sal bloed uit jou baba se hakskeen trek deur die hakskeen te prik. Die resultate van die toets word aan jou pediater of huisdokter gestuur en hulle sal jou van die uitslag in kennis stel en enige verdere toetse bespreek. Dit is belangrik om enige toetse wat herhaal moet word, of enige verdere toetse wat aanbeveel word, so gou moontlik te laat doen.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees