Blom as nuwe ma

akkreditasie
10 dinge wat jy in die eerste weke moet doen - maar niemand het jou vertel nie!

1. Bou voorraad op

Koop voor baba se koms genoeg van al jul basiese benodighede soos koffie, tee en kitsmaaltye sodat julle ’n tyd lank sonder die winkels kan klaarkom. (Stuur manlief winkel toe as baba klaar daar is). Dit sal jou in staat stel om rustig by die huis te bly ná baba se tuiskoms, uit te rus ná die geboorte en al jou aandag aan jou nuwe wonderwerkie te skenk.

2. Aanvaar hulp

Die aanpassing by ’n nuwe roetine en minder slaap ná jou baba se koms kan in die eerste weke sy tol eis. Moenie
skaam voel om hulp te aanvaar as iemand dit aanbied nie, al help dit jou net om ’n uurtjie met jou oë toe te lê en te rus.

Bestuur hulp eerder slim en tot jou voordeel: Vra dié wat lekker kan kos maak om vriesbare maaltye te prakseer
wat jy op holderstebolder dae kan ontvries, of vra jou vriendin of sy sal omgee om gou jou wasgoed op te hang. Dan kan jy op jou kleinding fokus, terwyl die res van jou huishouding darem nie heeltemal tot stilstand kom nie. Onthou, mense bied hulp aan omdat hulle graag jou lewe makliker wil maak. 

3. Vaste besoektye

Met die koms van ’n nuwe bondeltjie is daar gewoonlik ’n stroom besoekers. Hoewel dit heerlik is om jou vreugde met familie en vriende te deel, is rus in daardie eerste dae noodsaaklik – vir jou én jou baba – en het julle ook tyd nodig om as gesin met mekaar te bind.

Laat weet dus gerus jou familie en vriende dat as hulle jou baba wil kom ontmoet, hulle dit verkieslik tussen –
sê maar – 15:00 en 17:00 moet doen. Jy kan selfs vra dat hulle in die eerste twee weke glad nie nloer nie sodat
julle tot verhaal kan kom. Moenie skuldig voel nie – doen wat die beste vir jou en jou gesin is.

4. Trek slim aan

Borsvoeding kan ’n tyd lank jou lewe oorneem. Moenie verbaas wees as jy later soos ’n regte melkkoei voel nie! As jou kleinding honger is, wil jy nie sukkel met ’n swetterjoel knopies nie, want teen daardie tyd roep hy dalk al ten hemele.

’n Paar gemaklike hemde vir borsvoeding is wenners en so ook omtrent drie goeie borsvoedingbra’s. As jy nie kans sien om spesiale borsvoedingtoppies aan te skaf nie, belê in pajamas wat voor oopknoop of T-hemde wat jy maklik kan oplig – enigiets wat vinnige en maklike toegang tot jou borste bied.

Borsvoedingbra’s moet ook maklik kan oopknip of opskuif sodat jy diskreet en met min moeite kan borsvoed. Gemak is nou jou eerste prioriteit.

5. Weet hoe werk die motorstoeltjie

Die eerste keer dat jy jou baba alleen uit die huis neem, is ’n spannende gebeurtenis. Of julle nou kliniek toe
moet gaan of iets moet gaan koop, sal jy waarskynlik die huis verlaat met jou handsak plus al baba se bybehore
(wat soms voel of dit kleintjies kry) en natuurlik baba self.

As jy jou hande vol het, help dit baie as jy weet presies hoe jou baba se motorstoeltjie werk. Jy moet weet hoe om hom vinnig en maklik daarin vas te maak, hoe om dit in die motor te installeer, waar in die motor jy dit
moet installeer en natuurlik ook hoe om baba weer sonder te veel drama uit te tel. 

6. Koester jou borste

Borsvoeding is ’n wonderlike ervaring, maar nie sonder sy pyn en drama nie. Selfs al het jy moontlike hegtingsprobleme uitgesorteer, kan jou tepels dalk seer of sensitief raak. Belê uit die staanspoor in ’n goeie
tepelroom, verkieslik een wat jy kan gebruik sonder dat jy dit weer hoef af te was voor jy jou baba voed. As jy met borsvoeding sukkel, klop gerus aan by ’n borsvoedingskonsultant of ’n organisasie soos La Leche League.

7. Belê in 'n goeie handeroom

Bederftyd vir jouself word nou ’n luukse; maak dit dus deel van jou roetine. Al die doekruilery en gepaardgaande
handewassery asook die sterilisasie van bottels kan hul tol van jou hande eis. Belê voor jou baba se koms al in ’n vloeibare handewasmiddel en ’n voedsame room waarmee jy jou hande ná elke doekruiling kan insmeer.

8. Laer verwagtinge

Dis verstommend hoeveel energie en tyd so 'n klein bondeltjie kan opvreet en jy kan jou dalk betrap dat jy manlief vyfuur nog in jou nagklere by die deur verwelkom.

Moenie onrealistiese eise aan jouself stel nie. Dis nie nou die tyd om jou huis skitterskoon te probeer kry of vyfster-etes te kook nie. Verminder die eise, verlaag jou standaard en gebruik eerder die tyd wat jy het om te rus of jou baba te geniet.

9. 'n Stort per dag?

Dis normaal om huilerig, oorweldig en uitgeput te voel ná jou baba se tuiskoms. Die invloed van slaapgebrek moenie onderskat word nie - dis beslis nie altyd goed vir die selfbeeld nie!

Doen moeite om elke dag ten minste gou in die stort te spring en as jy tyd het, selfs 'n bietjie grimering aan te sit. Jy sal soveel beter voel en hierdie stukkie normaliteit sal jou sommer nuwe energie gee.

10. Pas aan by baba se pa

Die meeste van ons het waarskynlik voor baba se koms teen 'n vinnige pas gelewe: Jy is immers jonk en vol woema. 'n Baba verander jou pas en dis belangrik dat jy hierdie kopskuif maak. Al wat jou baba elke dag wil doen is om jou en sy pa by hom te hê - moet dus nie jou skedule te vol prop met mense en dinge wat gedoen moet word nie. Laat jou baba die pas aangee. Lewe rustiger en maak tyd vir saamwees, koestering en om hierdie wonderlike nuwe wesentjie beter te leer ken. Julle bou nou aan 'n lewenslange spesiale band. 

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees