Bobaas met borsvoeding

akkreditasie
Borsvoeding is beina soos 'n dans.Hoe kan jy jouself voorberei op hierdie dans en seer tone vermy?

Borsvoeding is byna soos dans. Dit is ’n natuurlike handeling maar terselfdertyd ook ’n vaardigheid wat geleer moet word. In dié dans is daar twee van julle, en julle moet mekaar se ritme vind.

Aanvanklik gaan julle op mekaar se tone trap, maar met goeie afrigting en die regte ingesteldheid sal dit ontwikkel in ’n gemaklike, vloeiende vertoning en ’n diep emosionele ervaring. Hoe kan jy jouself voorberei op hierdie dans en seer tone vermy? Vind mekaar se ritme sé...

Voor jou baba se koms:

1. Kry jou kop reg

Daar is hope filosofiese, sielkundige en mediese voordele en ma’s wat dit suksesvol gedoen het, bestempel borsvoeding as een van hul beste ervarings ooit. Dit kan egter harde werk én trane verg. Daarom is dit belangrik dat jy jouself geestelik goed voorberei.

2. Kennis is mag

Daar is ewe veel bangmaakstories as mooi stories. Maak dus seker jy ken die feite. Wees ingelig oor dinge soos mastitis, waarom vroue gebarste tepels kry en wat om te doen as jou melk aanvanklik te min is.

Gaan klop aan by dié webadresse (sien die kassie vir boeke wat as goeie bronne beskou word):

  • www.BreastfeeedingMadeSimple.com
  • http://www.asklenore.info
  • www.kellymom.com
  • http://www.breastfeedingonline.com

3. Borsvoeding-benodigdhede

Hoewel jy natuurlik alles het wat nodig is om te borsvoed, kan díé hulpmiddels ook help:

  • ’n Gemaklike stoel. Jy hoef nie een te gaan koop nie. Beproef soos Gouelokkies eers elke stoel in jou huis tot jy een kry wat lekker laag is met ’n armleuning wat ruimte laat vir ’n kussing waarop jy jou arm kan sit terwyl jy jou baba vashou.
  • ’n Voedingsbra of twee. Dis selde nodig om meer as een grootte groter te koop as die bra wat jy nou dra.
  • Borsdoekies. Borsmelk lek dikwels. Doekies sal help om jou klere te beskerm. Daar is ’n taamlike groot verskeidenheid op die mark, weggooibaar en wasbaar.
  • ’n Borspomp. As jy wil aanhou borsvoed wanneer jy teruggaan werk toe, is dit ’n moet. Daar is weer eens ’n groot verskeidenheid beskikbaar.

4. Sluit by ’n steungroep aan

By ’n borsvoedingsondersteuningsgroep kan jy ma’s wat voed dophou en al die vrae wat jy wil vra, vra. Hier sal jy ook professionele hulp en goeie boeke oor borsvoeding kry en nuwe vriende maak. Dít alles gaan later vir jou van onskatbare waarde wees.

Skakel die Borsvoedingsvereniging van Suid-Afrika by 021-686-8363 of besoek http://www.llli.org/SouthAfrica.html om uit te vind waar jou naaste La Leche League-groep is. La Leche League is ’n erkende internasionale borsvoedingsondersteuningsgroep.

Wanneer jou baba gebore is:

1.    Moenie tyd mors nie
Soos enige pasgebore diertjie is dit ook jou baba se instink om dadelik aan jou te begin drink. Sy suigrefleks is die sterkste net ná geboorte. Herinner die verpleegsusters daaraan dat hulle hom so gou moontlik vir jou moet bring sodra die waarnemingstydperk verby is.

2.    Goed begin is halfpad gewin
Dit maak ’n groot verskil as jy met die eerste voeding ’n kundige byderhand het. Vra ’n verpleegsuster of borsvoedingskonsultant om jou te help om jou baba die eerste keer reg aan die bors te sit.

3.    Is daar belangstelling?
Hierdie stap is nie belangrik met jou heel eerste voeding nie, maar in die volgende paar dae en vir solank as wat jy gaan voed, moet jy eers seker maak jou baba wíl drink. Kyk uit vir hierdie tekens (selfs al hy is baie slaperig): kriewelrigheid, ’n mondjie wat beweeg of handjies wat na sy mond beweeg. Van hier af is dit amper soos op jou merke, gereed en weg!

4.    Rig jouself in
Vra vir ’n glas water, koppie tee of vrugtesap (en hou dit in die toekoms altyd byderhand). Voeding ontwater jou en jy sal verbaas wees hoe vinnig jy na die glas wil gryp. Kry dan jou en baba se klere uit die pad en ontspan.

Sit ’n kussing agter jou rug (as jy ’n spesiale skootkussing gebruik, maak seker dit ondersteun jou arm en nie jou baba nie). Jy moet heeltemal gemaklik wees. Bring dan jou baba se kop tot op dieselfde vlak as jou tepel.

5.    Ondersteun jou baba
Jou arms en bolyf moet jou baba ondersteun, nie jou skoot nie. As jy die madonna-styl verkies, sal jou baba horisontaal lê met sy kop, bors, naeltjie en knieë in jou rigting. Jy kan ook die rugbybalstyl kies, waar jy jou baba stewig onder jou arm vashou soos jy ’n rugbybal sou vashou. (Later kan jy selfs jou baba lê en voed.)

Jou hand moet slegs die onderkant van jou baba se kop ondersteun en jou vingers moenie aan sy wange raak of teen sy agterkop druk nie.

6.    Ondersteun jou bors
Hou jou hand en vingers plat teen jou ribbekas met jou wysvinger in die vou onder jou bors. Roteer dan jou hand sodat jou bors in ’n u-vorm tussen jou duim en vingers rus. Druk dan jou bors tot dit soos ’n ovaalvormige toebroodjie lyk. Hou jou wysvinger so ver as moontlik van die areola (die donker deel wat jou tepel omring).

7.    Sit jou baba aan jou bors
Jy is nog steeds besig om gereed te maak. Hou jou tepel eers weg van jou baba se mond. Plaas sy onderlip ’n hele ent onder jou tepel. As sy mondjie nou nie vanself oopgaan nie, druk dit liggies. Plaas dan sy onderkaak ferm op jou bors. Dit is dié kaak en sy tongetjie wat die werk gaan doen. As sy onderkaak te naby aan jou tepel is, gaan hy jou tepel kou.

Maak nou seker sy neus is naby aan jou tepel, nie sy ken nie. Navorsers het al lipstiffie op babas wat reg drink se lippies, neusies en kennetjies gesit. As dié babas klaar gedrink het, was daar ’n swaar kenafdruk en ’n baie dowwe neusafdruk op die ma se bors. Die afdruk van die onderste lippie was heelwat verder van die tepel as die afdruk wat die boonste lippie gelaat het. Nou kan jy wegspring!

8.    Laat jou baba drink
Jou tepel moet die laaste ding wees wat sy mond binnegaan. Bring jou baba se skouer nader aan jou. Sy kop sal volg, moet dus nie op sy kop druk nie. Jou tepel moet nou agter in sy keel wees en daar bly.

As jy nou die hoek van jou baba se mond kon sien, sal dit baie wyd wees, bykans 140 grade. Sy onderlippie sal teruggerol wees in die rigting van sy ken en sy kop liggies agteroor gegooi, soos wanneer ’n mens aan ’n blom ruik.

9.    Is jul albei gemaklik?
As jy nie gemaklik voel nie of jou baba nie gemaklik lyk nie, haal hom van jou bors af en begin van voor af. As jou bors oorvol is, druk ’n bietjie melk met jou hand uit om dit sagter te maak.

10.   Spits jou ore
Dit is belangrik dat jy jou baba hoor sluk. As jy nie kan nie, hou sy kake dop. Aan die begin van die voeding sal dit kort bewegings wees. Dan volg langer, diep hale. Bykans een beweging per sekonde is ’n goeie maatstaf. As hy sluk – meestal met elke derde beweging – sal jy ’n hikgeluid hoor. Hy sal ook hier en daar ’n ruskans neem en dan weer begin met kort hale wat oorgaan in die dieper hale.

11.    Vergeet van die horlosie
Hou liewer jou baba as die horlosie dop. Ons eet nie almal teen dieselfde tempo nie; net so het babas hul eie tyd. Sit jou baba op die ander bors as hy stadiger begin drink of self van die tepel lostrek. As hy aan die slaap raak tydens ’n voeding, tik hom liggies op sy ken.

12.    Breek die seël
As jy jou baba van die bors wil afhaal, trek sy mondhoek terug of druk jou vinger in sy mond tussen sy vel en tandvleis.

13.    Vra hulp
Baie ma’s dink seer en gebarse tepels is deel van borsvoeding. Dit is nie! Moenie huiwer om hulp te vra as borsvoeding vir jou ongemaklik of seer is nie. Hoewel jou tepels die eerste paar dae baie sensitief sal wees, behoort borsvoeding ’n plesier vir jou én jou baba te wees.

Boeke oor borsvoeding

Daar is ’n magdom boeke en webblaaie oor borsvoeding. Ons het ’n borsvoedingskonsultant gevra om drie uit te sonder.

  1. The “Natural Laws” of Breastfeeding deur Nancy Mohrbacher en Kathleen Kendall-Tackett (uitgegee deur New Harbinger).
  2. Dr Jack Newman’s Guide to Breastfeeding deur dr. Jack Newman en Teresa Pitman (uitgegee deur HarperCollins).
  3. The Ultimate Book of Breastfeeding Answers deur dr. Jack Newman en Teresa Pitman (uitgegee deur Prima Publishing).
  • Baie dankie aan Jean Riddler, ’n borsvoedingskonsultant van Kaapstad, vir haar waardevolle hulp met dié artikel.
  • Bykomende bronne: Suster Lilian se Swangerskap- en Geboorteboek; http://www.internationalbreastfeedingjournal.com; www.ilca.org en http://www.massbfc.org/
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees