Borsvoed, kom wat wil

akkreditasie
Daar’s ’n enorme verskil tussen iets wat “natuurlik” is en iets wat “maklik” is – vra net die ma’s wat hul stories hier vertel! Borsvoeding is ongetwyfeld die natuurlikste – en gesondste – manier om ’n baba te kos te gee, maar dit maak dit nog lank nie maklik nie . . .

Maak borsvoeding maklik

  • Hoewel dit vroeër geglo is dat jy vooraf jou borste op borsvoeding moet voorberei deur dit gereeld te “brei”, word dit deesdae nie meer as nodig beskou nie. Seer tepels ontstaan wanneer baba verkeerd vassuig, nie omdat jou borste nie goed genoeg voorberei is nie.
  • Die meeste vroue se grootste frustrasie is dat hulle glad nie weet of baba genoeg melk inkry nie. Jou baba kry genoeg as hy gewig aansit, gereeld ’n nat doek het, gesond lyk, ná ’n voeding gelukkig en tevrede lyk, en as jou borste sekere tye van die dag vol voel.
  • As jou baba te stadig gewig aansit, kan jy meer gereeld borsvoed. Onthou, hoe meer jy voed, hoe meer melk maak jou lyf.
  • Onthou om na jouself te om te sien terwyl jy borsvoed: Volg ’n gesonde, gebalanseerde eetplan wat jou melkproduksie sal aanspoor.
  • Altesaam 99 uit 100 vroue kan borsvoed. As jy regtig ernstig is oor borsvoeding, is dit nie ’n goeie plan om jou kind voor ses weke oud enige formulemelk te gee nie omdat jou liggaam nog besig is om jou melkvoorraad uit te sorteer. Die oomblik wanneer jy formulemelk begin gee, daal jou melkproduksie outomaties.
  • Die grootte van jou borste het geen invloed op die hoeveelheid melk wat jy produseer nie.
  • Jou borsmelk sal nie opraak nie. Die vervaardiging van borsmelk werk op die beginsel van behoefte en voorsiening.
  • Die meeste vroue vertel dat borsvoeding ná ses weke aansienlik makliker geword het. As jy regtig baie graag wil borsvoed, probeer dus deurdruk tot ses weke!

Dié drie ma’s was egter vasbeslote om daarmee deur te druk, al moes hulle in die proses van sproei en borsontsteking tot ’n ondergewig baba en vol skedule leer hanteer.

Carla van Niekerk (33)
Dieetkundige, Randparkrif, Gauteng

Ek het my al voor die geboorte van my oudste dogtertjie, Talje (nou 3), voorgeneem om haar te borsvoed. As ek nou daaraan terugdink, was ek seker ’n bietjie onversetlik. Ek het allerhande vooropgestelde idees gehad oor borsvoeding....

Ek het ’n keisersnee gehad en die hospitaalpersoneel het haar al in die herstelkamer aan my bors gesit. Sy het sommer uit die staanspoor goed vasgesuig. Ek het haar die hele middag by my gehad en dit het baie goed gegaan.

Toe die nuwe personeel egter daardie aand aanmeld, was hul eerste woorde aan my dat Talje die grootste baba in die saal is (sy het 3,92 kg geweeg) en ek nooit genoeg melk sou kon hê vir so ’n groot baba nie. Hulle wou sommer dadelik wegtrek en vir haar formulemelk bygee. As dieetkundige het ek gelukkig presies geweet hoe voedsaam borsmelk is en voet by stuk gehou. Ek het eenvoudig daarop aangedring om haar eksklusief te borsvoed, want ek het geglo ek het genoeg melk.

Ek het gelukkig ook vooraf gelees dat kolostrum maar aanvanklik min lyk, maar dat dit so voedsaam is dat dit meer as genoeg is. Pasgebore babatjies drink in elk geval nie so baie nie. En wanneer jou melk wel ná ’n dag of drie inkom, maak jy meer as genoeg. Ongelukkig het my kennis nie die verpleegpersoneel gekeer om my kort-kort van die teenoorgestelde te probeer oortuig nie.

Die tweede nag het Talje amper die hele nag deur gehuil en ek was later só radeloos dat ek maar ingegee het toe die personeel weer daarop aandring dat sy honger is. Ek het ’n bietjie formulemelk toegelaat, maar hulle aangesê om haar dié melk met ’n inspuiting gee. Ek was doodbang vir die tepelverwarring waarvan ek gehoor het.

Sy het ná die formulemelk net so baie soos daarvoor gehuil en later het ons besef sy was maar net ’n koliekbaba. As haar magie gepyn het, wou sy suig, hoewel sy nie noodwendig honger was nie. ’n Fopspeen het nogal vir dié probleem gehelp. Hoewel baie mense meen dat borsbabas gewoonlik nie koliek kry nie, was Talje ’n uitsondering. Maar ek het aangehou borsvoed en deurgedruk. Op die ou end het sy agttien maande lank eksklusief aan my gedrink en behalwe vir die aanvanklike koliek, was sy ’n baie gesonde baba.

Met die geboorte van ons tweede dogtertjie, Elisha, was dit vanselfsprekend dat ek weer sou borsvoed. My melk het gelukkig ook dadelik ingekom en dit het goed gegaan met die borsvoeding . . .Elisha het egter so op ses weke skielik só gulsig begin drink dat sy vreeslik winde gesluk het. En elke keer wanneer sy ’n wind gesluk het, het sy so kwaad geraak dat sy nie meer wou drink nie. Die gevolg was dat sy die hele tyd honger was en die hele tyd wou drink.

Ek het besef dat sy beter drink wanneer sy vaak is, want in die nag het ons nooit dié probleem gehad nie. Ek het haar toe maar eers halfpad aan die slaap gemaak en dan laat drink. Omdat sy nie lekker gedrink het nie, het sy nie genoeg gewig aangesit nie en met haar sesweke-ondersoek het die pediater gesê sy moet ’n byvoeding kry. Dit het vir my soos verdoemende woorde gevoel. Ek het geweet as ek bottel begin gee, is dit die begin van die einde van borsvoeding.

Ek het besluit om haar liewer net nog meer te voed en meer gereeld. Ek het haar elke drie uur laat drink en as sy geslaap het, het ek haar wakker gemaak. Dit was egter nog lank nie die einde van ons probleme nie. Elisha was agt weke oud toe sy skielik glad nie meer wou drink nie. Aanvanklik het ek nie ’n idee gehad wat haar makeer nie, maar my tepels het skielik bloedrooi geword met eienaardige wit spikkeltjies reg rondom. Die vel rondom albei my tepels het gebars.

Ek het uitgevind Elisha het hewige sproei in haar mondjie en dit het na my borste versprei. Teen die tyd dat ek by ’n dokter uitgekom het, het ek ernstige Candida binne-in my bors gehad. Maar dit was nie onderhandelbaar nie – ek wou aanhou borsvoed. Ek het geweet dis net ’n tydelike hindernis waaroor ons moes kom en het soveel moontlik inligting begin inwin oor hoe om Candida te behandel.

Ek het ’n week of twee gesukkel voor dit heeltemal weg was. Daar was dae in daardie twee weke dat ek soms gekrul het van die pyn. Soms het ek net my oë toegeknyp en hard op my tande gekners, veral as Elisha vasgesuig het. Maar ek wou aanhou voed, juis omdat ek geweet het dis so goed vir my baba. Ek wou nie iets wat net tydelik is en wat wel oorkom kan word, in die pad laat staan van ’n jaar of twee se borsvoeding nie.

En ja, ek voed Elisha nog steeds eksklusief en sy is al ouer as ’n jaar. Die sproei het wraggies weer ’n keer of wat teruggekom, maar ek het dit vinniger agtergekom en behandel. Mense sê te maklik vir nuwe ma’s om maar eerder ’n bottel te begin gee, maar jy verloor so baie as dit kom by jou kind se immuniteit. En boonop beteken borsvoeding baie vir die band tussen jou en jou baba.

Ek werk darem ook nie heeltyds nie en dit was dus vir my makliker om albei my kinders eksklusief te borsvoed. Ek het seker genoeg rede gehad om op te hou, maar die redes was nooit vir my goed genoeg nie.

 

Tanja van Loggerenberg (30)
GIS-konsultant, Pretoria

Voor my dogtertjie, Mia (3), se geboorte het ek al besluit ek wil borsvoed. My ma het geborsvoed en ek het eintlik nie baie daaroor nagedink nie. Ek het maar net geweet ek wil dit doen. Mia is met ’n keisersnee gebore en ek het gevoel hulle het ’n bietjie lank getalm voor hulle haar aan my bors kom sit het. Die verpleegpersoneel het haar eers omtrent drie uur nadat sy gebore is, vir my gebring. Ek weet nou nog nie presies waarom nie, want sy was ’n gesonde baba met ’n Apgar-telling van nege.

Miskien was dit omdat my bloeddruk kwaai geval het ná die keiser. Toe sy eindelik aan my begin drink, het sy gesukkel om lekker vas te suig. Kort daarna was my tepels erg gebars en goed seer. Boonop het ek gekrul van die pyn toe my melk drie dae later begin inkom het – ek was oortuig dit is seerder as kraampyne!

Ek het onmiddellik begin om arnica-olie en koolblare op my borste te sit. Ek het effens uitgemelk, maar kon nie veel melk uitkry nie, want my borste was heeltemal te hard. Dit was baie erg.
En tog het ek besluit kom wat wil, ek gaan aanhou borsvoed. Ek onthou nog hoe van my vriendinne my reguit vertel het ek is laf. ’n Bottel sou volgens hulle dadelik ’n einde aan my probleme maak en boonop sou ek presies weet hoeveel sy drink. Maar ek het geweet hoe voordelig borsvoeding is en het voet by stuk gehou. En dit het gewerk, want Mia was die eerste jaar van haar lewe glad nie siek nie.

Met my seuntjie, Ruan (agt maande), het ek gehoop ek sou ’n volle jaar lank kon borsvoed en dat dit uit die staanspoor maklik sou wees. Maar ek was verkeerd!

Dié klein knapie het ook sy mamma se borste stukkend gesuig. Maar gelukkig het ek vroeg al vir laserbehandeling gevra om te keer dat dinge so ver vorder soos met Mia. Toe my melk inkom, het ek weer eens van die pyn gekrul. Ek dink dit is omdat my borste taamlik klein is; dit was regtig verskriklik seer. En ek het my maar weer tot koolblare en arnica-olie gewend. Op vier weke het dit gelukkig al baie beter gegaan.

Ek het reeds met Mia geleer dat ’n mens jou nie veel kan steur aan ’n vaste skedule en patroon wanneer jy ’n baba borsvoed nie. Jy moet voed wanneer jou baba honger is. Ek het wel vooraf besluit dat ek nie gouer as elke twee uur sou voed nie. Ek wou heel aan die begin ook nie ’n langer speling as vier uur gee nie, want anders word baba te honger en suig hy moeilik.

Mia het op agt weke al begin deurslaap (terwyl sy eksklusief borsmelk gedrink het) en Ruan het op vier maande opgehou om snags te drink, hoewel hy nog nie deurslaap nie. Toe Ruan so vier maande oud was, het die knaap skielik kwaai nuuskierig begin word en net ’n paar slukkies op ’n slag gedrink en verder rondgekyk wat om hom aangaan. Omdat hy ál minder gedrink het, het my borste al voller geraak.

En daar kry ek mastitis op vier maande! Ek was oortuig vroue kry dit net aan die begin, maar ek was heeltemal verkeerd. Ek moes onmiddellik antibiotika begin drink en my bors was so seer dat ek skaars daaraan kon raak. Ek het heeltemal begrip gekry vir mense wat ophou borsvoed weens mastitis, want daar is niks so seer nie. Tog het ek nie kans gesien om vir Ruan so vroeg te speen nie. Ek het mos geweet dis maar net ’n tydelike hindernis. Ek het hom selfs aan my seer bors ook laat drink, hoewel ek amper gesterf het van die pyn.

Dit was die moeite werd, want ek voed steeds vir Ruan eksklusief. En daar is regtig op aarde niks so lekker soos ’n groter baba wat teen jou lyf inwriemel om te drink nie! Toe hy ses maande oud was, het ek weer halfdag begin werk, maar gelukkig het hy toe al begin om net drie keer op ’n dag te drink. En teen daardie tyd het hy al drie maaltye per dag geëet. Dit was dus nog nie nodig om vir hom formulemelk te begin gee nie. 

My raad aan vroue wat graag wil borsvoed, is om ’n borsvoedingskonsultant te kry na wie jy luister. Daar is gewoonlik te veel mense wat raad probeer gee . . . Borsvoeding is maar vir almal in die eerste ses weke bitter moeilik en seer. Jy is dit aan jou en jou baba verskuldig om vir minstens ses weke uit te hou. Daarna sal dit beter gaan, jy sal sien.

 

Penny Bierman (32)
Optometris, Greenside, Johannesburg

Toe ek my borste in 2003 laat vergroot het, was dit met die wete dat ek eendag sou kon sukkel met borsvoeding. Maar ek het vooraf besluit dat dit nie vir my ’n probleem sou wees nie, want nog vóór ek my dogtertjie Allegra (nou drie) verwag het, het ek geweet ek wil my kinders eendag borsvoed. Ek is mos ’n intelligente mens en ek weet hoe goed borsmelk vir ’n baba is. En boonop is dit net so goed vir ’n ma ook, want borsvoedende vroue kry hul lywe net soveel vinniger terug . . .
Reeds in die hospitaal ná Allegra se geboorte het die susters vir my gesê dat ek gaan sukkel om te borsvoed omdat ek ingestulpte tepels het. Ek het dadelik ’n tepelskerm aangeskaf en dit het baie gehelp.

Maar toe kry Allegra geelsug en die pediater dring om die een of ander rede daarop aan dat ek my borsmelk moet weggooi en oorskakel na formulemelk. Gelukkig het ek glad nie na hom geluister nie en pleks daarvan ’n fantastiese borsvoedingskonsultant, Brenda Pearce, gevra om my te help.
Ek is van nature iemand wat daarvan hou om in beheer te voel en aanvanklik was dit vir my moeilik omdat ek nie met borsvoeding presies kon weet hoeveel my baba drink nie. Maar Brenda het my verseker dat as my baba floreer, daar geen rede is om bekommerd te wees nie.

Ek het vir Allegra tot op agt maande gevoed en toe het sy haarself gespeen. Sy was regtig ’n baie gesonde baba. Selfs nou nog as sy knieserig is, gooi ek net ’n bietjie borsmelk oor haar pap en sy word feitlik dadelik weer beter.

Met my seuntjie, John-John (vyf maande), het ek ook van die begin af besluit ek wil borsvoed en ek moes met hom ook ’n tepelskerm gebruik omdat my melk so verskriklik sterk vloei. Ek sien nou nog gereeld vir Brenda, net vir my eie gerusstelling. Met John-John het ek vroeg weer tussendeur begin werk en ek onthou hoe ek eenkeer met hom aan die bors moes staan en ’n pasiënt se oë toets! Ek het intussen vir my ’n dubbele Medela-pomp aangeskaf en die tye wat ek moet werk, pomp ek eenvoudig genoeg melk uit. Dit help beslis dat my man, Johan, so ondersteunend is en hy is dol daaroor dat ek ons kinders borsvoed.

Mense dink so maklik borsvoeding gaan gepaard met armsaligheid en dit is glad nie so nie. Ek beskou myself glad nie as armsalig of eenvoudig nie. Dis juis omdat ek ingelig én verlig is dat ek weet wat borsmelk vir my kinders beteken.

As jy regtig wil borsvoed, is my raad dat jy sommer uit die staanspoor ’n goeie borsvoedingskonsultant kry. En moenie allerhande snert glo soos dat jou melk te min is of nie sterk genoeg nie. Hoe meer jy jou baba voer, hoe meer melk vervaardig jou liggaam. Sodra jy met bottels tussenin begin bodder, beïnvloed jy jou melkproduksie.

Ja, as jy borsvoed kan jy die eerste ses weke maar van ’n roetine vergeet en soms voel dit asof jy onophoudelik borsvoed. Maar die beloning wat jy vir dié opoffering kry, is regtig onskatbaar.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees