Borsvoeding mites

akkreditasie
Breastfeeding baby
Breastfeeding baby
Jy moet wegbly van kerrie en kruie terwyl jy borsvoed . . . Borsvoeding is eintlik net in baba se eerste maande van waarde . . . Borsbabas word uiteindelik vet babas . . . Gereelde borsvoeding tas Ma se gemoed aan. . . . O nè? Ma’s borsvoed hul babas al millenniums lank, maar die mites daaroor loop steeds dik. Ons slaan die gewildste wolhaarstories die nek in en onthul ook ’n paar verrassende feite . . .

Borsvoeding mites:


1. As jy borsvoed, moet jy uie, knoffel en sterk kerrie vermy

Vroue in Indië hou nie op om kerrie te eet wanneer hul borsvoed nie en jy hoef dit ook nie te doen nie. Net soos met jou swangerskap moet jy ’n gesonde en gebalanseerde dieet volg terwyl jy borsvoed.

Hou egter die volgende in gedagte:

  • Die enigste kos wat jy werklik moet vermy, is groot roofvisse (by ons is dit veral vars tuna, maar ander soorte sluit in swaardvis, marlyn en haai) wat ’n baie hoë kwik-inhoud kan hê. Een porsie geblikte tuna ’n week is goed, maar moenie sommer ’n groot tunafilet eet nie.
  •  Wees bedag op enige voedsel-allergieë in jou familie. Volgens suster Bonita Jones van die Well Baby-kliniek in Kaapstad kan sekere proteïne soos dié in grondboontjies deur borsmelk na jou baba oorgedra word.
  • Beperk jou alkohol-inname. Die bekende internasionale borsvoedingsorganisasie La Leche League reken een drankie of minder per dag is veilig. Alkohol word in jou melk opgeneem en is die sterkste teenwoordig 30 tot 60 minute nadat dit gedrink is, of 60 tot 90 minute indien dit saam met kos ingeneem is.

2. MIV-positiewe ma’s moenie borsvoed nie
Daar is ’n gevaar dat ’n ma wat MIV-positief is, die virus deur haar borsmelk aan haar baba kan oordra. ’n Mens kan egter die virus in jou borsmelk neutraliseer deur die melk uit te pomp en met hitte te behandel – dit word tuis-pasteurisasie genoem.

Volgens suster Linda Glynn van die Mowbray-kraamhospitaal in Kaapstad volg hulle ’n goedkoop en maklike proses wat deur die Universiteit van Pretoria ontwikkel is: Die melk word uitgepomp in ’n grondboontjiebotter-houer (ja, jy het reg gelees!) en dié word dan vir ’n halfuur in ’n kastrol kookwater staangemaak.

3. Gereelde borsvoeding kan lei tot nageboorte-depressie
'n Studie deur Jill Astbury van die Universiteit van Melbourne in Australië het gevind dat die teendeel waar is: Die voorkoms van nageboorte-depressie is laer by vroue wat hul babas geborsvoed het. Volgens dié studie, wat in die boek Missing Voices: The Experience of Motherhood aangehaal word, lei gereelde borsvoeding dus nie tot depressie nie en kan dit trouens die voorkoms van nageboorte-depressie verlaag of die impak daarvan verminder.

4. Borsvoeding kan later vetsug veroorsaak
Ook hier wys studies presies die teenoorgestelde: Borsvoeding kan voorkom dat kinders later vet word. Volgens navorsing wat vyf jaar gelede in die vooraanstaande mediese joernaal The Lancet verskyn het, is die risiko vir vetsug 28 persent laer wanneer ’n kind geborsvoed is as wanneer sy formulemelk gedrink het. Dit beteken nie dat bottelbabas vet word nie, bloot dat borsvoeding een van dié dinge is wat die gevaar van toekomstige vetsug kan laat afneem. . . .

 

...EN DIE FEITE

1. Borsmelk pas perfek aan by die behoeftes van jou baba
Jou baba hoef vir die eerste ses maande slegs borsmelk te kry, sê Bonita. Selfs wanneer jy met vaste kos begin, bly borsmelk steeds ’n belangrike bron van voedingstowwe. Dit duur sowat twee tot ses jaar voor jou kind se immuunstelsel ten volle ontwikkel is, en borsmelk gee haar immuniteit ’n hupstoot solank as wat sy dit drink.

’n Baba se liggaam absorbeer die voedingstowwe in borsmelk baie goed sodat minder daarvan in haar urine en stoelgang uitgeskei word. Dit verduidelik dalk waarom borsmelk-babas se vuil doeke minder sleg ruik as hul formule-maats s’n !

2. ’n Ma het selfs tydens ’n hongersnood genoeg melk vir haar baba
’n Baie klein persentasie vroue sukkel met melkproduksie, maar eintlik is dit hoogs onwaarskynlik dat jy nie genoeg melk vir jou baba sal hê nie. Vroue kan dan selfs in tye van hongersnood hul babas borsvoed, sê Bonita. “Die geheim van suksesvolle melkproduksie is dat jy gereeld en eksklusief moet borsvoed.” Bonita sê ’n ma maak dikwels die fout om ’n voeding oor te slaan deur ’n formule-bottel te gee met die hoop dat sy met die volgende voeding ’n vol bors sal hê. ”Juis die teenoorgestelde gebeur omdat die liggaam nou dink hy moet minder melk maak. Hoe meer melk jy uit die bors neem, hoe meer melk gaan die bors maak.”

3. Die kans is kleiner dat ’n borsbaba MIV opdoen
’n Studie wat in Maart in The Lancet verskyn het, het die mediese wêreld gaande: As MIV-positiewe ma’s vir die eerste ses maande eksklusief borsvoed, kan die lewe van amper 300 000 babas in Afrika gered word. In dié studie, wat aan die Universiteit van KwaZulu-Natal onder leiding van prof. Hoosen Coovadia gedoen is, is gevind dat daar ’n risiko van 4 persent is dat babas wat tussen ses weke en ses maande oud eksklusief geborsvoed word, die virus ná geboorte by hul ma kry. Dié gevaar verdubbel wanneer ’n baba benewens borsmelk ook formulemelk of dieremelk te drinke kry.

En babas wat vaste kos saam met borsmelk gekry het se risiko om die virus op te doen, was ’n verstommende elf keer groter.

4. Borsbabas het minder fiemies
Borsvoeding is die natuurlike volgende stap ná die slukkies vrugwater wat jou baba in die baarmoeder gedrink het. Volgens Rosemary Gauld, ’n internasionaal gesertifiseerde borsvoedingskonsultant van Kaapstad, word sowel vrugwater as borsmelk “gegeur” deur die kos jy eet. Borsmelk proe dus met elke voeding anders en dit maak dit vir baba makliker om later ’n groter verskeidenheid vaste (en hopelik gesonde) kosse te geniet.

5. Borsvoeding sorg vir gesonder babas (en ma’s)
Wanneer jy borsvoed, dra jy jou eie teenliggaampies aan jou baba oor. Dit help om die voorkoms van onder meer oorinfeksies, diarree en longinfeksies te verminder. Borsvoeding kan jou baba ook teen allergieë, asma, diabetes, vetsug en wiegiedood beskerm! Vir ma’s verminder borsvoeding die risiko vir baarmoeder- en borskanker, dit help jou om ná die geboorte gewig af te skud en dit verlaag die voorkoms van osteoporose.

6. Ek sien die toekoms en daar is seks . . .
Terwyl jy borsvoed, stel jou liggaam oksitosien vry – dieselfde “lekkervoel”-hormoon wat tydens seks vrygestel word. En terwyl ons nou hieroor praat . . . Altesame 40,5 persent van mense wat deelgeneem het aan ’n studie wat in 2000 in die Journal of Midwifery and Women’s Health verskyn het, het gesê dat hulle al seksueel geprikkel gevoel het terwyl hulle hul baba borsvoed. Dis goeie nuus dat jy darem steeds ’n seksuele wese is, al ervaar jy nie op die oomblik witwarm seks in die slaapkamer nie!

En dié mites is sommer verspot verby!

• Borsvoeding laat jou hare uitval. • Baba-aknee is die gevolg van “suur” borsmelk. • Ma’s moenie borsvoed wanneer hulle ongelukkig of in ’n swak bui is nie. • ’n Mens kan kaas maak van borsmelk. • Jy kan nie swanger raak terwyl jy borsvoed nie. • Gereelde voedings gaan jou baba bederf. • Vroue met rooi hare of baie ligte velle kan nie borsvoed nie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees