Breinontwikkeling wanneer jou baba slaap

akkreditasie
breinontwikkeling
breinontwikkeling
Wat gebeur in jou kind se brein wanneer hy slaap.

Jou klein bondeltjie kan tot 20 van die 24 ure in elke dag slaap. Maar moenie dink sy doen niks terwyl
sy in droomland kuier nie. In hierdie kosbare ure verwerk en liasseer ’n baba se brein die magdom
inligting wat dit in die loop van die dag ontvang het.

Slaap hulle vas terwyl hulle dit doen? Dr. Alison Bentley, ’n navorser by die Wits Dial.a.Bed-slaaplaboratorium in Johannesburg, sê ons brein het duidelik onderskeibare slaap- en wakkerpatrone,
en dat verskillende dinge in die brein gebeur in die verskillende fases van slaap.

Niks kan daardie breintjie rem nie

Baie van ons ken die twee hoof-slaapfases, REM-slaap en nie-REM-slaap. REM is die afkorting van rapid eye movement en is die slaapfase waarin mense vlak asemhaal en hul hart vinnig klop, maar al hul willekeurige spiere – behalwe dus die oog-, hart- en diafragmaspiere – is heeltemal ontspanne.

In REM-slaap beweeg ons oë vinnig heen en weer. As ons breingolwe in dié fase gemeet word met ’n masjien wat ’n elekro-ensefalograaf genoem word, sal dit baie ooreenstem met ons breingolwe
terwyl ons wakker is! REM-slaap is dus allesbehalwe rustyd vir jou brein.

Dinge verloop ook nie rustiger in jou baba se brein nie. Babas se eerste ses maande word byna net in REM-slaap en die tweede fase van nie-REM-slaap (lees die kleurkassie hiernaas) deurgebring, sê Alison. Nie een van dié soorte slaap is stadigegolf- slaap, wat die diepste vorm van nie-REM slaap is nie.

’n Baba se slaapsiklus is korter as ‘n grootmens s’n. Maar teen omtrent ses maande oud begin hul slaappatrone en -siklusse ál meer en meer soos volwassenes s’n lyk.

Slaapfases:

Slaap word in vyf fases ingedeel. In fase 1 slaap jy lig en kan jy maklik wakker gemaak word, fase 2 is dieper, fase 3 is die eerste stadium van diep slaap en fase 4 is die tweede fase van diep slaap. Dan is dit baie moeilik om jou wakker te maak.

Hierna volg REM-slaap. Dan kan jy na een of twee van die vroeër fases terugkeer voor jy kortstondig
wakker word en die hele siklus van voor af begin.

Hoekom is slaap so belangrik vir die brein?

Namate jou kind ouer word, begin hy ál meer teëskop wanneer jy hom bed toe wil stuur. Vir baie kleingoed is daar altyd iets opwindender om te doen as slaap, maar ’n goeie nagrus is een van die beste
dinge wat hulle kan doen.

Hier is drie belangrike redes waarom:

  • Wanneer ons slaap word verskeie hormone afgeskei waarvan testosteroon en prolaktien maar net twee is. Hierdie hormone help onder meer met dinge soos liggaamlike groei en ontwikkeling, geheue en metabolisme. Navorsers reken selfs babas se hare en naels groei en herstel tydens slaap.
  • Terwyl ons slaap, word breinnetwerke geoefen wat andersins net sou verdwyn.
  • Slaap help jou om jou geheue te rangskik. Dis veral REM-slaap wat belangrik is vir memorisering, die verfrissing van geheue en leervermoëns.
  • Sommige kenners sê daar is eintlik net twee hoofredes waarom ons slaap: herstel en aanpassing. Slaap help jou liggaam om te herstel van al die werk wat hy gedoen het terwyl hy wakker was, en dis waarskynlik die belangrikste rede waarom ons slaap. Die aanpassingsfunksie van slaap het weer te doen met ons oorlewing. Dink maar aan diere wat liewer bedags kos soek en snags rus om gevare te vermy soos dat hulle van ’n hoë krans kan aftuimel.

Hoe weet navorsers al dié dinge?

Navorsers span elektro-ensefalograwe in om te meet wat alles in die menslike brein aangaan terwyl ons slaap. Dié masjien meet elektriese aktiwiteit in die brein en gee dit dan op ’n elektroensefalogram
(EEG) weer.

Om dit te kan doen, moet elektrodes aan die skedel vasgesit en met die elektro-ensefalograaf verbind word. Die masjien word ook gebruik om spiertonus en oogbeweging tydens slaap te meet en monitor, sê Alison.

Hoekom droom ’n baba?

Ons droom – en babas en kinders is nie uitgesluit nie – meestal tydens REMslaap. Gewoonlik vergeet ons wat ons gedroom het, maar as iemand ons wakker maak terwyl ons in REM-slaap is, weet ons wat ons pas gedroom het.

Wetenskaplikes kibbel al dekades lank oor waarom ons droom, maar die meeste stem saam dat droom ons brein se manier is om sin te maak van alles wat gedurende die dag met ons gebeur het. Droom help ons waarskynlik ook om die koring van die kaf te skei, oftewel om die belangrike inligting van die dag iewers in die brein te gaan bêre en van die minder belangrike inligting ontslae te raak sodat die brein nie oorlaai word nie.

Kenners sê drome se pad deur die brein begin in die middelbrein en eindig in die ensefalo, die deel van die brein waar leerprosesse plaasvind. Hierdie droomroete gee hulle ’n goeie rede om te glo dat drome belangrik is vir moeilike breintake.

Dit verklaar waarskynlik ook waarom REM-slaap so nodig is om kinders se brein normaal te help ontwikkel, en waarom babas so baie daarvan nodig het. Wetenskaplikes reken ook dat ons geheue-netwerke kontak maak met ander netwerke wanneer ons droom.

Is jou kinders se drome belangrik?

Drome is in jou kind se lewe net belangrik as dit by nagmerries kom, sê Alison. Jy moet veral bekom- merd wees as jou kind dieselfde nagmerrie oor en oor droom. “Dis gewoonlik ’n aanduiding dat daar trauma in die lewe van die kind is of was,” sê Alison.

Klaas Vakie woon in die brein

Binne-in ons breine is daar ’n struktuur (met die naam suprachiasmatiese kern) wat self nie veel groter as ’n koppiespeld is nie, en wat op ligprikkels van die retina (netvlies) in die oog reageer. Dié struktuur werk saam met die pineale klier in die brein. Die klier, wat baie soos ’n horlosie werk, skakel die slaaphormoon melatonien aan en af.

Volgens wetenskaplikes neem die hoeveelheid melatonien wat in ons liggame afgeskei word, met sonsondergang toe by alle mense behalwe - ja, sowaar! - tieners. Dis ook in dié deel van die brein
waar ander liggaamsfunksies soos liggaamstemperatuur, hormoonafskeiding en urinering – wat almal met slaap en wakker verband hou – gesinchroniseer word.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees