Chiropraktisyns praat klaar met koliek

akkreditasie
Dis net ’n rukkie hier en ’n plukkie daar en siedaar, weg is baba se koliek... Klink dit te goed om waar te wees? Tog sweer talle ma’s dat chiropraktisyns hul baba van koliek genees het. En wanneer ’n mens besef dat daar tussen die rugwerwels ’n venster is waardeur die senuwees loop en dat dié senuwees met baba se maag verbind is, maak dit sin dat ’n klein bietjie manipulasie van die rugwerwels wondere kan verrig.

Nege maande lank het Camilla Rankin (31) uitgesien en gedagdroom oor die geboorte van haar babadogtertjie. Selfs die feit dat sy normaal wou kraam en uiteindelik met ’n keisersnee tevrede moes wees, het geen verskil gemaak aan haar vreugde toe die skattige klein Kate uiteindelik op 25 Januarie vanjaar gebore is nie. Kate was uit die staanspoor ’n rustige babatjie wat die eerste 5 dae van haar lewe omgeslaap het.

Maar op die vyfde dag het sy ontwaak! “Ons het daardie nag net mooi niks geslaap nie en die volgende oggend het ek een van my vriendinne in trane gebel. Sy het haar na my huis gehaas en Kate ’n hele dag lank geleer om ’n fopspeen te suig. Dit het baie gehelp,” vertel Camilla.

Maar toe Kate 2 weke oud was, was Camilla op die rand van moedeloosheid. Die baba was bedags onrustig en wou niks slaap nie. Sy’t nooit vreeslik geskree nie, maar elke keer wanneer sy klaar gedrink het, het sy gesteun en gekreun asof sy in pyn is. Saans was sy só moeg en uitgeput dat sy eintlik heel goed geslaap het.

Die gedagte dat dit koliek kon wees, het toe reeds in Camilla se agterkop begin broei en haar vrees is deur die klinieksuster bevestig. Toe Kate 3 en ’n half weke oud was, het Camilla begin om vir haar Buscopan te gee en dit het baie gehelp. Omdat Kate boonop refluks gehad het, was dit die begin van ’n baie frustrerende proses waar sy elke 4 tot 6 uur Buscopan én Gaviscon (vir die refluks) moes kry.

Daarby het Camilla bly onrustig voel omdat sy haar baba so jonk reeds aan so baie medisynes moes blootstel. Sy het onthou hoe van haar vriendinne vertel het dat ’n chiropraktisyn die wêreld se verskil aan hul koliekbabas gemaak het. Toe die klinieksuster dit voorstel toe Kate 7 weke oud was, het sy besluit om dit te beproef – teen daardie tyd sou sy enigiets verwelkom wat haar baba se lyding kon verlig.

En dis hoe haar pad gekruis het met dr. Michael Marinus, ’n chiropraktisyn van Blairgowrie in Randburg.

“Michael se eerste vraag aan my was hoe Kate gebore is, want blykbaar is 90% van sy koliekpasiëntjies keiserbabas. Aanvanklik was ek bang dat hy my baba sou ‘ruk en pluk’, want dis mos wat ’n mens van ’n chiropraktisyn verwag. Maar al wat hy gedoen het, was om Kate by my te neem, haar koppie op sy handpalm te laat rus en haar ’n paar keer om te draai en ’n bietjie te skommel.

“Dit het eintlik gelyk asof hy besig is om haar te kielie! Hy het Kate nie een keer getrek of hardhandig met haar gewerk nie.

“Ná ’n rukkie het Michael gesê Kate se ruggie is te styf en daar is inflammasie in haar skouertjies. Dít het veroorsaak dat haar nekkie styf is en omdat die ontsteekte senuwees met haar magie verbind word, het dit koliek veroorsaak,” verduidelik Camilla.

Michael het daardie oggend die senuwees tussen Kate se skouertjies so ’n bietjie losgewikkel en binne oomblikke kon Camilla ’n verskil aan haar baba sien. “Nog voor ons uit die dokter se spreekkamer is, was sy al ’n ander baba. Ek het daarna nog 3 keer teruggegaan net sodat hy kon seker maak dat alles in plek is en dit was die einde van haar koliek! Sedertdien is sy die rustigste baba onder die son. Sy slaap goed, drink goed en is mal oor gesels en grappies maak.

“Ons het nog 2 keer ná haar besoeke aan die chiropraktisyn vir haar Buscopan gegee, maar daarna nooit weer nie.

“Ek weet van nog ’n ma met ’n koliekbaba wat ook na ’n chiropraktisyn is, maar vir hulle het dit nou weer glad nie gewerk nie. Ek dink egter steeds dis die moeite werd om die kans te waag.”

Keisersnee en koliek

Teen 11am op ’n Maandagoggend het Michael gewoonlik reeds digby 15 koliekbabas behandel en een ná die ander sê die mammas dit het gewerk. Volgens dié koliekghoeroe het dit alles te make met die manier waarop ’n baba net ná haar geboorte gestrek het. Soms oorvergoed keiserbabas omdat hul werwels nie lekker in plek gedruk is soos dié van hul eweknieë wat normaal gebore is nie, en dan druk hulle hul ruggies te veel agtertoe. Met ander woorde, in die teenoorgestelde van die fetusposisie.

In die proses steek daar dikwels senuwees vas, en omdat al die senuwees met die organe (soos die maag) verbind is, veroorsaak dit ongemaklikheid in die maag, oftewel koliek. Gewoonlik begin dié koliek binne die eerste 2 weke ná geboorte, verduidelik Michael.

Hoewel hy ook babas sien wat natuurlik gebore is, is hulle verreweg in die minderheid. “Babas wat natuurlik gebore is, maar in die geboortekanaal vasgesit het en met instrumente verlos moes word, is ook meer geneig tot koliek,” sê hy.

Wat doen ’n chiropraktisyn?

Volgens dr. Morné du Plessis, ’n chiropraktisyn by die Constantiakliniek aan die Wes-Rand, werk chiropraktisyns reeds sedert 1890 – toe dié dissipline erken is – spesifiek met pynverligting.
Chiropraktisyns studeer nes dokters 7 jaar lank en anders as sommige mense se vooropgestelde idee, het hulle ’n deeglike kennis van gewrigsmanipulasie. Chiropraktyk behels dat gewrigte veilig gemanipuleer word om seker te maak dat hulle so goed moontlik saamwerk om pyn te verlig.

“Die rugwerwels gee ons sekere leidrade dat die liggaam nie behoorlik werk nie. Ons gebeente is die steunstelsel van die liggaam en dit gee aan ons vorm, sorg dat die organe op die regte plek is en laat die spiere toe om reg te werk.

“Elke normale ruggraat bestaan uit 24 werwels en elke werwelpaar het 2 gewrigte tussenin. Tussen die werwels is ’n venster waardeur die senuwees loop en indien ’n gewrig ontsteek raak, werk die senuwee nie behoorlik nie, wat swak kommunikasie veroorsaak tussen die brein en die deel van die liggaam wat deur die senuwee bedien word.”

Morné verkies dat ’n baba eers ’n draai by sy pediater maak voor hy hom vir koliek begin behandel. Hy werk ook nou saam met sy vrou, Adelé Vermeulen, ’n homeopaat by dieselfde kliniek wat haar meestersgraad in koliek gedoen het.

“Adelé sien gewoonlik die babas eerste en sy behandel alle voedingsprobleme. Daarna ondersoek ek hulle. Dit is baie belangrik dat ma’s weet die behandeling is nie pynlik of rof nie. Chiropraktisyns wat babas behandel, druk net so hard op die baba as wat ’n mens op jou eie oog sou druk!”

Vra eers die dokter

Pasgebore babas kry soms kolieksimptome soos om hul beentjies op te trek en onophoudelik te huil, maar dié simptome kan ook ander oorsake hê soos oorinfeksie, urienweginfeksie of refluks weens ’n onvolwasse slukderm. Raadpleeg dus liefs eers ’n dokter om vas te stel of jou baba se gehuil nie ’n ander mediese oorsaak het nie.

Simptome van koliek

Volgens Marina Petropulos, skrywer en uitgewer van die boek Baba- en Kindersorg-handboek, trek ’n koliekbaba haar beentjies op, maak vuisies en gil weens oënskynlike hewige pyn. In werklik kwaai gevalle maak sy haar bene reguit en trek haar rug krom. Terwyl die meeste huilende babas ophou huil wanneer hulle opgetel word, hou ’n kind met koliek aan met skree, soms ure lank. Die vuisies word in die mond gedruk en suig is die een ding wat ’n bietjie help.

Vir meer inligting, bel Morné du Plessis of Adelé Vermeulen by 011-674-1755.
Dr. Michael Marinus is beskikbaar by 011-787-4746.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees