Die A-Z van kommunikasie

akkreditasie
Hoe jou kind kommunikeer in elke fase, en hoe jy dit kan aanmoedig.

Kommunikasie in elke fase

Aan die begin

Onthou jy jou baba se heel eerste huil? Jou baba word gebore met die vermoë om te huil en dit is aanvanklik die enigste manier waarop hy kan kommunikeer.

As iets nie reg is in sy wêreld nie – sy doek is nat, hy is honger, of sy voete is koud – dan huil hy om dit aan jou oor te dra.

As jy fyn luister, ontwikkel daar mettertyd ook ’n variasie in sy gehuil en soms is dit moontlik om te onderskei tussen jou baba se verskillende behoeftes.

’n Pasgebore baba reageer weer op jou stem deur stil te luister, te soek met sy ogies of selfs sy armpies te swaai. Jou stem verbind hy sommer baie gou met versorging: kos, hitte, aanraking.

Bevorder kommunikasie só:

Sodra jy jou kind die eerste maal vashou, begin julle reeds deur middel van klank en aanraking kommunikeer. Jou kind raak gewoond aan jou stem en aanraking, maar is ook nuuskierig oor al die ander dinge en klanke wat hy sien.

Praat van die begin af aanmekaar met jou kind, al verstaan hy nie wat jy sê nie. Jou aanraking en konstante liefde en koestering sal hom leer dat die wêreld ’n liefdevolle en koesterende plek is en hy sal veilig voel.

Reageer altyd op jou pasgebore kind se gehuil en voldoen aan sy behoeftes – hy kan nie bederf word met te veel aandag nie. Jou onmiddellike reaksie sal vir hom sê dat hy belangrik is en die aandag werd is.

Peuters

Jou kind begin na voorwerpe in sy onmiddellike omgewing wys en dit is gewoonlik genoeg om aan sy basiese behoeftes te voldoen. In gesprekke met volwassenes is peuters geneig om slegs te herhaal wat die volwassene sê.

Jou kind kry ook reaksie deur sy gedrag en begin dit agterkom, vandaar die ontwikkeling van die vloermoer. ’n Basiese begrip dat sekere dinge nie reg is nie, met “nee” en “los”, begin posvat.

Bevorder kommunikasie só:

Herhaling, herhaling, herhaling: Jou kind begin enkelvoudige woorde aanleer, maar sal daarmee saam ook liggaamstaal gebruik soos om na iets te wys, ’n voet te stamp of jou aan die hand te trek.

Raak bewus van jou kind se kommunikasiemetodes, want so wys jy vir hom dat jy hom wíl verstaan, terwyl jy aan hom selfvertroue gee dat hy wel verstaanbaar is en moet voortgaan om sy kommunikasie te ontwikkel. Rympies en liedjies is van onskatbare waarde om ritme en woordeskat uit te brei.

Kleuters

Kommunikasie met jou kind is dikwels een van die lekkerste en mees lonende voorregte van kind grootmaak. Kinders leer vinnig en absorbeer inligting deur daaglikse interaksie en ervarings met ander kinders, volwassenes en die wêreld. Kleuters begin nou die patrone van kommunikasie agterkom, soos dat daar beurtsgewys gepraat word en verskillende stemtone in verskillende situasies gebruik word.

Hul woordeskat brei taamlik vinnig uit en hulle kan onderskei in hul spraakaanslag wanneer hulle met peuters praat (eenvoudiger), hul eweknieë (so reguit en duidelik moontlik) en volwassenes (hulle kan neig om groot woorde te probeer gebruik).

Bevorder kommunikasie só:

Jou kind begin eenvoudige sinne vorm en die fokus kan miskien wegbeweeg van liggaamstaal na verbale kommunikasie. Moenie jou kind ignoreer sodat sy moet terugval op liggaamstaal nie (soos ’n vloermoer gooi of huil).

Wanneer sy die moeilike roete kies en woord vir woord wil kommunikeer, moedig haar aan, prys haar en luister bowenal na haar sodat jy seker maak jy verstaan haar reg. Dit sal weer haar selfvertroue ’n hupstoot gee. Wees geduldig en jy sal beloon word.

Eenvoudige boekies, veral met fotoprentjies, is van groot waarde om gesprekke aan die gang te kry en jou kind se taalvaardigheid te verbreed.

Voorskools

Wanneer jou kind kleuterskool toe gaan, begin taalvaardigheid ’n belangrike rol speel. Nie net help dit haar om haar behoeftes te kommunikeer nie, dit verbeter ook haar kanse om haar kennis te verbreed.

Hoe meer interaktief die speletjies en gesprekke is wat jou kind meemaak, hoe meer sal sy leer. Jou kind behoort nou meer ingewikkelde aanwysings te kan volg en sy sal ook vir jou haar ervarings kan weergee. Sy kan wel stories opmaak, en sy sal ook met aandag na stories kan luister.

Sinstrukture is meer uitgebreid en jou kind praat duidelik. Sosiale taalvereistes, soos die gebruik van “asseblief” en “dankie” en uitdrukkings soos “ag toggie” en “o nee” begin permanent neerslag vind in haar taalgebruik. Taalprobleme soos hakkel en die sleep van ’n tong word in dié stadium raakgesien. Hakkel kan veral by seuntjies taamlik algemeen voorkom.

Bevorder kommunikasie só:

Lees boeke vir jou kind, sing, speel woordspeletjies en gesels gereeld met haar. Dit leer haar woordeskat, maar ook hoe om te luister. Help jou kind om met die karakters in boeke te vereenselwig deur stories te lees van mense wat baie soos julle is, van dieselfde kultuur en ouderdomsgroep as jou kind.

Help jou kind om self ’n idee te kry deur te fokus op die dinge wat jul gesin uniek maak – blaai gereeld deur familiefoto’s en gesels oor herinneringe en elke familielid.

Wat is ’n goeie kommunikeerder?

Goeie kommunikasievaardighede het die volgende bestanddele:

  • Die oordra van ’n duidelike boodskap.
  • Die gee van jou volle aandag aan die een wat die boodskap oordra.
  • Die bewus wees van al die verskillende maniere waarop die boodskap oorgedra word.

Kommunikasie berus daarom nie net op jou kind se taalvaardigheid nie, maar ook sy luistervaardigheid en hoe bewus hy is van gevoelens en liggaamstaal.

Wanneer jou manier van kommunikeer dus ’n klomp teenstrydighede bevat, kan dit hom regtig verwar. Dit kan byvoorbeeld gebeur as jy aan die een kant vir hom sê hy’s belangrik en dat sy mening tel, maar aan die ander kant luister jy nooit as hy praat nie, val hom in die rede en maak hom stil.

Of as jy aanhou waarsku en waarsku oor stoutigheid, maar jou stemtoon dui nooit aan hoe ernstig jy is tot jy ontplof nie. Of as jy aanhoudend van plan verander sonder om die moeite te doen om aan jou kind te verduidelik waarom.

Uiteindelik is daar bitter min wat jy aktief aan jou kind kan leer. Hy sal op die ou einde self leer, met jou as voorbeeld. Deur dus net ’n bietjie ag te slaan op jou eie kommunikasievaardighede, kan jy ’n groot verskil maak aan jou kind s’n.

Luister na jou kind

So leer jy hom om uitdrukking te gee aan sy gevoelens. Luister versigtig en gee aandag aan al die maniere waarop jou kind die boodskap kan oordra.

Leer jou kind luister deur alle afleidings te verwyder wanneer jy met hom praat. Skakel die televisie af, vra jou kind om na jou te kyk, of neem hom na ’n ander kamer waar jy met hom praat.

Leer hom om seker te maak hy het reg gehoor. Vra hom om dit wat hy by jou gehoor het, in sy eie woorde te herhaal. As hy verkeerd gehoor of verkeerd verstaan het, probeer weer. Prys jou kind as hy reg gehoor en verstaan het.

Leer jou kind om aandag te gee aan die aantal verskillende maniere waarop ’n boodskap oorgedra word. Vra jou kind vrae soos “Wat sê my gesig nou?” of “Hoe dink jy voel jou sussie nou?”

Span self goeie kommunikasievaardighede in. Kinders leer die meeste deur dop te hou hoe ons met ander kommunikeer. Ons moet goeie rolmodelle wees, tyd maak om te luister en ons boodskap duidelik oordra.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees