Die eerste 6 jaar van breinontwikkeling

akkreditasie
Kyk saam met ons hoe jou kind se denke, aksies en emosies oor die eerste ses jaar vorm kry.

Die menslike brein bestaan uit ’n allemintige 100 miljard neurone of senuselle (ongeveer bereken vir die gemiddelde grootte brein). Indrukwekkend, nè!

Wat dit nog wonderliker maak, is dat die brein verskillend ontwikkel afhangende van die omgewing en stimulasie waaraan dit blootgestel word. Elke mens se brein is dus uniek, gevorm volgens genetiese oorerwing, maar ook deur jou ervarings.

Net so sal jou kleinding se breintjie ook gevorm word deur haar ervaringswêreld. Elke dag word nuwe selle gevorm, maar dis relatief min gemeet aan die biljoene wat daar reeds is. Wat wel gebeur is dat
die bestaande neurone of senuselle begin ontwikkel en met mekaar begin ‘verbind’ om paadjies te vorm.

Die meeste ‘verbindings’ word in die eerste lewensjaar gevorm. Elke keer as jou kleinding iets nuuts doen, vorm ’n nuwe senupaadjie, en hoe meer kere hy die aksie of ervaring herhaal, hoe beter raak hierdie paadjie uitgetrap en hoe makliker en vinniger is dit vir boodskappe om daarlangs te loop.

Teen die tyd dat jou kind drie raak, het elke senusel al soveel as 10 000 verbindings gemaak en is daar al dermiljoene verbindings reg deur die brein – letterlik dubbel soveel as in die volwasse brein. Hierna vorm al minder senuselle (hoewel dit nooit heeltemal ophou nie), en begin die brein ‘snoei’ aan die senuselverbindings wat nie gebruik word nie.

Die paadjies wat dus gebruik word, raak sterker en duideliker. Die wat nie gebruik word nie, word weggegooi. Hierdie proses gaan reg deur die lewe aan. Tot op 3 jaar groei baba se senuverbindings
vinniger as wat die snoeiproses is, maar ná 3 jaar vorm daar basies net soveel nuwe verbindings as wat
oues verdwyn.

As jy in ag neem dat jou aspatat se brein teen 3 jaar reeds 80% ontwikkel is (navorsers reken dis dan ook dubbel so aktief as ’n volwassene s’n) en teen 5 jaar oud reeds 90% ontwikkel is, verstaan
’n mens hoekom daar soveel klem gelê word op voldoende stimulasie in die voorskoolse jare.

Maar voor jy winkel toe hardloop om die duurste stimulasiespeelgoed vir jou kind aan te skaf, onthou dat die beste stimulasie gewoonlik in jou eie huis beskikbaar is.

Hier is hoe die brein-wonderwerk ontvou:

Geboorte tot 15 maande:

Na-apertjie

Die eerste lewensjaar is volgeprop met ontwikkeling – jy kan letterlik elke maand sien hoe jou kleinding nuwe vaardighede baasraak, terwyl hy van pap, hulpelose babatjie beweeg na ontdekkende, lopende peutertjie. En agter dit alles sit die ontwikkeling van nuwe senu-paadjies in die brein.

Die brein bestaan uit verskillende dele – elk met ’n spesifieke funksie daarin gesetel. Marni Zimmerman, ’n breinprofiel-spesialis van Jeffreysbaai, verduidelik dat die binneste deel van die brein, dikwels genoem die reptielbrein, eerste ontwikkel.

“Hierdie breindeel is dominant by klein babatjies, want dit beheer die reflekse, soos sluk, asemhaal en huil by jou pasgeborene. Dit gaan op hierdie stadium vir jou baba eintlik oor oorlewing en al die basiese funksies: ‘Ek moet eet, warm wees, drooggemaak word.’

Jou ouer baba leer ook nou deur nabootsing: hy sien wat jy doen en doen jou dit na soos om op die selfoon te ‘praat’ net soos jy, want dis hoe daardie deel van die brein leer. Dis half ’n kwessie van ‘my
ma oorleef deur wat sy doen, so ek doen wat sy doen’. Sintuiglike ontwikkeling is ook nou baie sterk tot op sowat 2 jaar.”

Wat jy kan doen:

  • Versorg en koester jou kind in liefde, met baie liefdevolle aanraking.
  • Reageer as jou kleinding huil.
  • Sorg dat jou baba meer as genoeg magietyd kry sodat sy leer beweeg.
  • Doen babamassering.
  • Gesels met jou kleinding, sing vir haar, lees vir haar stories.
  • Speel met jou kind bewegingspeletjies – beweging is die kruks van goeie breinontwikkeling
    op hierdie ouderdom.
  • Gee jou peutertjie speelgoed waarmee hy jou kan nadoen.
  • Gee jou kleinding blootstelling aan ’n verskeidenheid sintuiglike ervarings.

15 maande tot 4 jaar:

Emosiemonster

Die middelste deel van die brein, ook genoem die limbiese deel, waar die emosies en geheue gesetel is, ontwikkel van sowat 15 maande tot vier jaar, sê Marni. “Dis dan ook die ouderdom waar emosies belangrik raak.

“Dis die deel van die brein wat nodig is vir interaksie, verhoudings en sosiale verkeer (en dus ook taal). Dis wanneer jou kind deur die ‘terrible two’s’ gaan, en vloerstuipe kry, want jou kleinding is amper net ’n emosionele wese in hierdie tyd – die dink-deel van sy brein het nog nie werklik ontwikkel nie.

“Die limbiese deel van die brein is verskriklik belangrik vir geheue en moet goed ontwikkel sodat jou kind later op skool ’n goeie geheue kan hê. “Jou kind leer ook nou deur ervaring – praktiese ervaring, eerder as deur abstrakte konsepte. Dit help dus as jy hom goedjies self laat doen of aan
verskillende ervarings blootstel.

Die vermoë om te droom kom ook vanuit die limbiese gedeelte van die brein. “En as jou kind stres ervaar, is dit hierdie deel van die brein wat vir hom sê om te veg of te vlug, want dis ’n baie emosionele reaksie.”

Wat jy kan doen:

  • Benoem sy emosies vir hom, sodat hy verstaan wat hy voel.
  • Help hom om op ’n konstruktiewe manier uiting te gee aan sy emosies.
  • Speel geheuespeletjies waar jou kleutertjie kyk na iets, dan steek jy dit weg en hy moet sê wat dit was.
  • Gesels met jou kleinding.
  • Reël dat daar soms maatjies kom speel, sodat hy sy sosiale vaardighede oefen.
  • Moedig kreatiewe denke aan deur hom te help om sy verbeelding te gebruik.
  • Laat hom soveel moontlik klim en klouter, fietsry, hardloop en speel.

4 tot 6 jaar:

Die denker

Die laaste deel van die brein wat ontwikkel is die neokorteks, sê Marni. Dis die rasionele brein, wat jou kind in staat stel om dinge vooraf te bedink en te kan bereken wat die gevolge van iets is.

Hierdie breingedeelte begin eintlik al voor 4 jaar geleidelik ontwikkel, maar tot op 4 word jou kind se gedrag nog hoofsaaklik uit sy emosies gemotiveer. “Die neokorteks is soos die rekenaar: dis die sentrum van denke, wat ons onderskei van ander soogdiere.”

Marni sê wat belangrik is van die neo-korteks is dat dit die deel van die brein is wat die vermoë het om nuut te skep, sodat jou kind nie noodwendig net doen wat jy doen of wat sy emosies sê nie. “Hy kan nou dink oor iets en met ’n nuwe plan vorendag kom, so dit is ’n belangrike konsep, veral as jy dink hoe kompeterend die wêreld vandag is. Hierdie vermoë is noodsaaklik om te oorleef en suksesvol te wees.”

Jou kleinding se linker- en regterbreinfunksies ontwikkel nou.

Wat jy kan doen:

  • Beweging, beweging, beweging: Laat jou kleinding speletjies speel wat albei kante van sy lyfie betrek. Aktiwiteite soos fietsry, knip, verf en klavier speel oefen albei kante van die lyfie gelyk.
  • Moedig jou kleinding aan om te dink oor die gevolge van aksies en planne te maak om probleme op te los.

Feite

Marni sê die gevaar is dat jou kind in een breinontwikkelingsfase kan vassteek. “Soms sit ons met ’n 18-jarige wat leer deur net na te boots – hy kan nie met iets nuuts vorendag kom nie. Ander dink weer net met hulle emosies, sonder dat hulle kan beredeneer. Of ’n groot kind wat net leer deur ervaring: jy kan nie op universiteit deur ervaring leer nie – die volumes is eenvoudig net te groot.

Dit is waaroor breinontwikkeling gaan: dat jy al die dele van jou brein optimaal moet leer gebruik.”

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees