Die pasgeborenegids

akkreditasie
Die A-Z-gids hieronder sal jou toerus om dié eerste uitdagende weke van baba se lewe paraat en met selfvertroue tegemoet te gaan.

Brandboudjies, koliek, vreemde vlekkies ... pasgebore kleingoed kan ’n rits babadinge oorkom wat ’n nuwe ma sommer by voorbaat met paniek vervul. Maar daar’s ook soentjies en drukkies, binding, speeltyd en die betowering van net na jou baba staar en jou verwonder aan sy onskuldige gesiggie, piepklein vingertjies en oorweldigende oulikheid.

A staan vir album

Daar is niks wat jou en jou kleinding eendag soveel plesier gaan verskaf as om saam deur sy album te blaai en na sy eerste babafoto’s te kyk nie. Belê sommer van die begin af in ’n goeie kamera en foto-album. Dis nou ook die tyd om moeite te doen en al daardie belangrike mylpale aan te teken. Moenie dink jy gaan dit onthou nie. Binnekort is dit net ’n vae herinnering ... 

B staan vir brandboudjies

Sommige babas kry maklik luieruitslag: ’n rooi uitslag in die voue van hul bene en op die geslagsdele en boudjies. Werk voorkomend deur te belê in ’n goeie skermroom en gehaltedoeke. Ruil jou baba se doeke gereeld om en was sy boudjies en geslagsdele deeglik met elke doekomruiling om alle urine en stoelgang te verwyder. As luieruitslag nie behandel word nie, kan dit ontsteek en bloei. Gebruik ’n goeie brandboudjiesalf en laat baba kaalboud in die sonnetjie lê. As die uitslag nie binne dae verbeter nie, neem baba liefs dokter toe. Die ontsteking kan dalk deur swamme veroorsaak word. 

C staan vir Candida

Candida, ook bekend as sproei, is ’n swaminfeksie wat in baba se mond of doekarea kan voorkom. Dit kan met borsvoeding vanaf ma na baba oorgedra word. In die mond vorm dit ’n wit-grys lagie op die tong en aan die binnekant van die wange of tandvleis. Jy sal dit nie maklik kan afvee nie, en as jy dit afvee, kan die oppervlak begin bloei. Jou baba se mond kan seer wees en hy kan in kwaai gevalle moeilik sluk. Candida-uitslag op die boudjies is gewoonlik baie rooi met duidelike rande en klein rooi kolletjies naby die groter rooi areas. ’n Gewone skermroom help nie daarvoor nie en jou dokter sal waarskynlik ’n swamdoder voorskryf. Was jou hande deeglik ná elke doekomruiling.  

D staan vir dokter

Vir die meeste nuwe ma’s is dit moeilik om te weet wanneer om haar bondeltjie dokter toe te vat. Jy wil nie ’n neurotiese ma wees nie, maar is tog bekommerd as kleinding onlekker lyk. Hier is ’n paar tekens dat jy liewer dokter toe moet gaan:
  • Jou kleinding is buitengewoon pap en lusteloos.
  • Sy huil meer as gewoonlik en jy kry haar nie getroos nie. As haar huiltjie ongewoon swak of skril is, is sy dalk ernstig siek.
  • Sy wil nie drink nie of raak gou moeg wanneer sy drink.
  • Sy het diarree of gooi op.
  • Haar fontanel is ingeduik.
  • Sy is buitengewoon slaperig.
  • Dit lyk of sy moeilik asemhaal.
  • Daar is bloed of slym in haar stoelgang of dit herinner aan jellie.
  • Sy het ’n koors van meer as 37,7 grade Celsius.
Neem jou baba dokter toe as jou instink vir jou sê daar’s fout, al het sy nie een van die simptome hierbo nie. 

E staan vir eienaardige vlekke

Geboortevlekke kom algemeen by babas voor en kan wissel van tydelike verkleurings tot permanente vlekke. Die rooi vlekkies op baba se ooglede, tussen haar oë of aan die agterkant van haar nekkie staan bekend as engeltjiesoentjies en is onskadelik. Dit verdwyn gewoonlik binne die eerste paar maande. Aarbeiletsels, daarenteen, is plat met geboorte, maar raak vinnig groter en opgehewe. Die meerderheid verdwyn egter sonder behandeling binne die eerste vyftien jaar. Groot pers portvlekke op die gesig is gewoonlik permanent. Geboortevlekke is meestal onskadelik, maar buitengewoon baie vlekke kan soms ’n aanduiding wees van ’n onderliggende siekte.   

F staan vir fontanel

Die fontanelle is die sagte kolletjies op jou baba se koppie waar haar skedeltjie nog nie gesluit het nie. Die voorste fontanel is gewoonlik kleiner en driehoekig en sluit gewoonlik teen ses weke oud. Die agterste fontanel is groter en diamantvormig en sluit eers teen agttien maande oud. As jou baba se fontanel ingeduik lyk, kan dit ’n teken wees van ontwatering. As dit uitbult, het sy dalk meningitis. 

G staan vir geelsug

As jou baba se velletjie en ogies kort ná geboorte ’n gelerige skynsel kry, het sy waarskynlik babageelsug, iets wat byna die helfte van alle pasgeborenes oorkom. Dit word veroorsaak deur ’n oormaat bilirubien, ’n afvalproduk van rooibloedselle wat afgebreek word. Gewoonlik word dit deur die lewer verwerk en uitgeskei, maar omdat ’n pasgeborene se lewerfunksie beperk is, kan dit in die liggaam opbou. Dié geelsug verdwyn gewoonlik ná ’n week of twee en is gewoonlik nie gevaarlik nie. Behandeling sluit in meer gereelde borsvoeding en vir hardnekkige geelsug kan fototerapie onder ultravioletligte aanbeveel word, aangesien dit die bilirubien in die vel afbreek. As die geelsug weke ná die geboorte terugkeer, het baba dalk ’n lewerprobleem en is mediese hulp dadelik nodig. 

H staan vir huil

Huil is jou baba se enigste kommuni-kasiemiddel en hy gaan dit baie gebruik. Dit help as jy ’n idee het waaroor babas die meeste huil. Hier is ’n toetslysie:
  • Is sy doek nat of vuil?
  • Is hy honger? (Soms suig hy aan sy vuisies wanneer hy wil drink.)
  • Is hy te warm of koud aangetrek? (Voel in sy nekkie eerder as aan sy voetjies. Trek vir hom een laag meer klere aan as wat jy aanhet.)
  • Sit sy klere ongemaklik? (Is dit te styf? Of knyp sy doek?)
  • Is hy vaak of oormoeg?
  • Is hy oorgestimuleer?
  • Het hy dalk ’n windjie of ander pyn?
Moenie jou klein baba onnodig laat huil nie; jy kan hom nie bederf voor hy ses maande oud is nie! Vertrou jou instink, tel hom op en troos hom. Soms help dit as jy hom iets gee om aan te suig, met hom gaan stap of hom net styf vashou en wieg. Speel vir hom rustige musiek. As baba se gehuil jou senuwees rou skaaf, vra iemand anders om by jou oor te neem en gaan skep ’n bietjie vars lug.  

I staan vir inenting

Dis verpligtend in Suid-Afrika om babas te laat inent teen potensieel dodelike siektes soos masels, polio en witseerkeel. Baba kry sy eerste inentings sommer kort ná geboorte. Hier is wat jy te wagte kan wees: Geboorte: BCG teen tuberkulose (wat ’n ent in die bo-arm behels) en poliodruppels in die mond. 6 weke: Poliodruppels in die mond, ’n DTP-ent (DTP staan vir difterie, tetanus en pertussis, meer algemeen bekend as witseerkeel, klem-in-die-kaak en kinkhoes), asook ’n hepatitis B-inspuiting. By die meeste klinieke word die DTP-inspuiting gekombineer met Hib- (Haemophilus influenza B) entstof, wat jou kind beskerm teen ’n groep siektes wat onder meer meningitis insluit. 10 weke: Poliodruppels in die mond, DTP (met Hib) en hepatitis B. 14 weke: Poliodruppels per mond, DTP (met Hib) en hepatitis B. 9 maande: Masels.     15 maande: Baie klinieke bied nou die MMR-entstof (teen masels, pampoentjies en Duitse masels) aan pleks van die negemaande-maselsvaksiene. Slegs ’n maselsent word deur die staat vereis. 18 maande: Polio, DTP (met Hib) en masels (of MMR). Die nuwe pneumokokkus-inenting kan vanaf6  weke toegedien word en beskerm teen siektes soos meningitis, longontsteking en middeloorinfeksie. Inenting teen waterpokkies kan vanaf12  maande gedoen word, maar is nie verpligtend nie. Gee baba parasetamolstroop sowat 2 ure na die inspuiting. As jy dit ’n halfuur voor haar inspuiting om te help teen die pyn, soos voorheen geglo, kan dit moontlik die immuunstelsel onderdruk.

J staan vir Jaloerse Jantjie

Dis nie vreemd dat ’n ouer boetie of sussie jaloers voel met die nuweling se aankoms nie – selfs pa kan jaloers en afgeskeep voel as al ma se aandag op baba gefokus is! Die beste oplossing is om die jaloerses waar moontlik deel te maak van baba se versorging. Gee hulle eienaarskap: “Dis mý nuwe sussie!” en betrek hulle deur hulle klein takies vir baba te laat verrig en hulle baie te prys. Ruim spesiale alleentyd in vir Jaloerse Jantjie terwyl iemand anders ’n ogie oor baba hou. Wees geduldig as dit lyk of jou kind se ontwikkeling ’n paar treetjies agteruit gee; dit sal regkom as jy hom baie sekuriteit en liefde gee. 

K staan vir koliek

As jou gesonde baba elke laatmiddag dieselfde tyd drie uur lank verwoed en ontroosbaar huil en sy beentjies teen sy lyfie optrek, het hy dalk koliek. Koliek begin gewoonlik rondom twee tot drie weke en duur sowat twaalf weke, waarna baba dit geleidelik ontgroei. Dokters is nie seker wat koliek veroorsaak nie. Dit word toegeskryf aan alles van winderigheid, maagpyn, oorvoeding of honger, stres (ma en baba s’n) en oorstimulasie tot selfs geringe nekbeserings wat tydens geboorte opgedoen is. Spesiale anti-koliekbottels help koliek teenwerk deur die sluk van winde te verminder, en jy kan ook by ’n chiropraktisyn aanklop. Verder beveel kenners aan dat jy jou baba se magie warm hou deur hom byvoorbeeld op sy magie op jou bene of arms te laat lê, hom lekker styf toedraai en sus, of met hom gaan stap of ry. Massering kan help, asook ’n lekker warm bad saam met mamma. 

L staan vir lanugo

Dis die fyn haartjies wat jou baba se vel bedek het terwyl hy in die baarmoeder was. Hy kan daarmee gebore word en sal dit ’n paar weke ná die geboorte afskud. 

M staan vir massering

Jou baba floreer op aanraking en masse-ring is nie net ’n goeie manier om jul band te versterk nie, maar hou ook vir jou baba fisieke voordele in! Lê haar op haar ruggie op ’n gemaklike, plat oppervlak neer. Gooi ’n klein bietjie baba-olie of -poeier in jou hand en vryf jou palms teen mekaar warm. Maak oogkontak met baba en gesels rustig met haar terwyl jy haar masseer. Maak ferm, sagte bewegings. Sit jou hande teen mekaar op haar borsie en maak herhaalde boogbewegings na buite. Vryf haar beentjies van bo, amper soos wanneer ’n koei gemelk word, en daarna haar armpies.                       Draai haar nou op haar magie en vryf haar rug met stadige bewegings van bo na onder. Kyk hoe jou baba op jou aanraking reageer. As sy dit nie geniet nie, beproef fermer of ligter aanraking of los dit eers.

N staan vir naelstring

Dis noodsaaklik dat jy jou baba se naelstring goed versorg tot dit ná sowat twee weke afval. Hou die naelstring so skoon en droog moontlik. Vee dit met elke doekruiling deeglik skoon met ’n wattepluisie of watteballetjie gedoop in chirurgiese alkohol. Vee reg rondom die basis van die naelstring. Vou baba se doek om sodat dit nie die naelstringetjie skaaf of irriteer nie. Bel jou dokter as dit ontsteek of onvars ruik.

O staan vir oor- of ondergewig

As jy wonder of jou baba te vet of maer is, trek sy groeikaart nader. ’n Baba se liggaam het genoeg vet nodig, onder meer as energiebron vir hitteproduksie, maar dokters waarsku teen oormatige vetvoerdery omdat ’n vet baba meer las kan hê van borsinfeksies en ander gesondheidspro-bleme, en ook ’n groter kans het om ’n vet grootmens te word. ’n Ondergewig baba is meer vatbaar vir siektes en dis dalk ’n teken van ’n onderliggende mediese toestand soos wanabsorpsie, hartprobleme of ’n onderaktiewe skildklier. Baba se gewigtoename behoort een keer per maand gemonitor en op die groeikaart aangeteken te word. Sy gewig moet in verhouding met die persentiellyne op die groeikaart toeneem. Die vyftigste persentiel dui die gemiddelde gewig vir sy ouderdom aan, bo die 97ste persentiel is jou baba oorgewig en onder die derde persentiel is hy ondergewig. Vra die klinieksuster of dokter om jou te help met die interpretasie van die kaart.

P staan vir poef en pieps

Jou baba se eerste vuil doek bevat ’n taai groenswart gemors bekend as mekonium. As jy borsvoed, sal sy poef hierna slap, mosterdkleurig en saadjierig wees. Met bottelvoeding sal sy stoelgang stywer wees (amper soos tandepaste) en in kleur wissel van groen tot geel of bruin. Bel die dokter as jy swart, rooi of wit stoelgang sien. Borsbabas kan tien vuil doeke op een dag oplewer, of een vuil doek elke sewe dae. Bottelbabas sal sowat een tot vier vuil doeke ’n dag hê. As jou baba se stoelgang hard en bolletjierig is, is hy hardlywig. Gee ekstra melkvoedings en ’n bietjie suikerwater om die stoelgang te versag. As baba se stoelgang dun en waterig raak of slym bevat, het hy waarskynlik diarree. Voorkom ontwatering met genoeg voe-dings en pediatriese elektrolietoplossings. Bel die dokter dadelik as daar tekens van kwaai ontwatering is, soos ’n gesonke fontanel of droë vel en lippe. 

Q is vir qui-vive! (Wees op jou hoede!)

Jou baba se veiligheid is ononder-handelbaar. Moenie kanse waag met enigiets wat sy lewe kan bedreig nie. Reis altyd met hom vasgegord in ’n motorstoeltjie, moet hom nooit alleen op hoë oppervlakke laat nie (al dink jy hy kan nie afrol nie!), moenie ’n bottel in sy mond stut en hom alleen laat nie, want dit kan hom laat verstik.

R staan vir reflekse

Jou baba word gebore met ’n reeks reflekse wat hom help oorleef. Jou dokter sal sy reflekse kort ná geboorte toets. Hier is die bekendstes: Mororefleks: Dis ook bekend as die skrikrefleks. Jou baba gooi sy armpies oop en begin huil as hy byvoorbeeld ’n harde geluid hoor. Tot twee maande. Die handgreeprefleks: As jy jou baba se handpalm aanraak, krul sy vingertjies outomaties om jou vinger. Tot ses maande. Die suigrefleks: Jou baba suig instinktief as ’n tepel in sy mond geplaas word. Die soekrefleks: As jy met jou vinger aan baba se wangetjie raak sal hy outomaties sy oop mondjie in daardie rigting beweeg, asof hy na jou tepel soek. Tot vier maande. Looprefleks: As jy baba vashou sodat sy voete aan ’n plat oppervlak raak, sal hy “stap” deur een voet voor die ander te sit. Tot vier maande. 

S staan vir stimulasie

Studies het gewys die regte omgewing en stimulasie kan die aantal verbindings in jou baba se brein met tot 25 % laat toe- of afneem. Maar wees versigtig om dit nie te oordoen met jou pasgebore baba wat eintlik net wil slaap nie. Jy bly jou baba se belangrikste speelding en in hierdie tyd is jou aanraking en stem sy belangrikste stimulasiebronne. Jy kan hom egter vanaf geboorte af blootstel aan ’n verskeidenheid soorte musiek, kleure en teksture.  

T staan vir toets

Die Apgar-toets is ’n wêreldwye maatstaf wat gebruik word om vas te stel hoe goed jou baba ná die geboorte vaar. ’n Eerste toets word gedoen ’n minuut ná die geboorte en nog ’n toets volg vyf minute ná die geboorte. As daar probleme is, sal nog ’n uitslag geneem word ná tien minute. ’n Apgartelling van 7 tot 10 is normaal, ’n telling tussen 4 en 7 beteken dat die baba aandag nodig het en ’n baba met ’n Apgartelling van 3 of minder sal onmiddellik behandeling ontvang. Die A van Apgar staan vir activity (spier-tonus), P vir pulse (pols of hartslag), G vir grimace (hoe hy reageer op prikkels met refleksreaksies), A vir appearance (sy voorkoms of velkleur), en R vir respiration (asemhaling).    

U staan vir uitslag

Babas het sensitiewe velletjies en jou pienkvoet kan ’n uitslag ontwikkel as iets sy vel irriteer. In die somer is hitte-uitslag algemeen, veral in die nekkie of lieste. Dis gewoonlik klein, ronde, opgehewe rooi vlekkies wat verdwyn sodra die vel droog en koel gehou word. Waak daarteen om baba te warm aan te trek. Ekseem is ’n ernstiger veluitslag: Dit vorm droë, skilferige dele wat jeuk. Die oorsaak wissel van geparfumeerde sepe tot sekere kosse. Gaan spreek ’n dokter as jy ekseem vermoed. 

X staan vir x’ies en drukkies

Jou kleinding kan nie genoeg van jou soene, drukke en liefde kry nie. Dit laat hom gekoester en veilig voel én dis uitstekend vir sy breinontwikkeling! Maar moenie bekommerd wees as jy nie onmiddellik dolverlief op jou baba is nie – dit is glad nie abnormaal dat dit ’n rukkie duur voor jy en baba bind niel 

W staan vir wiegiedood

Dis elke ma se grootste vrees dat haar kind kan sterf, soos jy sal uitvind wanneer jy vir die soveelste keer gaan luister of jou klein-ding nog asemhaal! Basiese voorsorgmaatreëls kan help om wiegiedood te voorkom: Borsvoed jou baba. Moenie naby hom rook of toelaat dat ander naby hom rook nie. Moenie baba op sy maag laat slaap nie; die gevaar neem beduidend af as hy op haar rug slaap. Maak seker hy is nie te warm toegemaak nie – vermy liefs duvets, wat oorverhitting kan veroorsaak – en sorg dat komberse nie oor sy koppie kan skuif nie. 

Y staan vir ywerig met badtyd

Jou baba se eerste bad kan senutergend wees, selfs al het die hospitaalsusters jou gewys hoe. Hier’s ons slim wenke:
  • Kry alles vooraf bymekaar sodat jy nie rondskarrel wanneer baba klaar uitgetrek is nie.
  • Bad baba wanneer hy rustig, uitgerus en nie honger is nie.
  • Sit die badjie op ’n gemaklike hoogte vir jou neer sodat jy nie gebukkend hoef te werk nie. Dit plaas baie stremming op jou rug!
  • Toets die badwater se temperatuur met jou elmboog. Dis die deel van jou lyf wat die sensitiefste vir hitte is.
  • Sit ’n waslappie oor baba se magie om hom warmer en veiliger te laat voel.
  • Gesels deurentyd met hom terwyl jy hom bad.
  • Dis nie nodig om baba elke dag te bad nie. Op koue dae is ’n sponsbad voldoende. Jy hoef ook nie elke dag hare te was nie.
  • Gee spesiale aandag aan die voutjies in baba se lieste, nek en onder sy arms wanneer jy hom afdroog. 

Z staan vir ZZzzzz

Jou pasgebore baba slaap aanvanklik sowat sestien uur per dag, maar ongelukkig nie ononderbroke nie. Gewoonlik slaap babas drie tot vier uur aanmekaar en word dan wakker vir ’n voeding. Sommige babas is wakkerder as ander, wees dus gewaarsku! Dit gebeur ook soms dat baba dag en nag omruil. Moegheid kan jou geduld opvreet en jou humeur laat opvlam; beproef dus gerus die volgende:
  • Betrek manlief sodat julle in skofte werk. Jy kan baba voed, hy kan winde uitvryf, of jy kan in die week vir baba opstaan en hy naweke.
  • Slaap bedags wanneer baba slaap of kruip saans vroeër in.
  • As jy snags baba se doek moet ruil, hou die vertrek donker met net ’n nagliggie en ruil die doek stil en vinnig om. Hy moenie voel dit is speeltyd nie.
  • Moenie opstaan vir elke geluidjie nie. Soms maak jou baba homself weer aan die slaap. Gee hom kans om dit te doen...
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees