Dis maklik met meerlinge

akkreditasie
Meervoudige seëninge bring groter uitdagings mee, maar ook groter belonings. Hier is 'n paar wenke om jou te help byhou.

Jy het moontlik vroeg in jou swangerskap gehoor jy verwag ’n meerling, wat jou tyd gegee het om aan die idee gewoond te raak en jou huis en lewe in te rig vir die ekstra baba (of twee). Dit is egter nie al wat nodig is nie, want jy gaan hipergeorganiseerd moet wees en ekstra hulp nodig hê, veral in die eerste ruk.

Binding

Jou babas is wel saam gebore, maar hulle is elkeen ’n individu met ’n eie persoonlikheid. Deur elke
baba afsonderlik vas te hou in die kraamkamer, ontwikkel jy en jou maat bande met elkeen wat lewenslank sal duur.

Omdat elkeen sy eie unieke persoonlikheid het, sal jy met elkeen verskillend moet bind. Bestee afsonderlik tyd saam met elke baba, maar ook saam-saam. Maak vel-teenvel- kontak, kyk in hul oë en
geniet hulle!

Voeding

Jy is geseën met twee borste en twee arms en behoort dus nie te sukkel om ’n tweeling te borsvoed nie. Die maklikste manier is om op die bed of ’n gemaklike stoel te sit en een baba onder elke arm in te pas met hul bene na agter en hul mondjies aan jou borste. As jy hulle saam voed, vestig jy ’n roetine.

Jy sal dalk vind dat een baba hongerder as die ander is en meer voedings verwag. Vestig ’n roetine deur die een wat hongerder is die volgende voeding te laat bepaal.

Jy kan dalk ook gedurende die dag op aanvraag voed en snags ’n strenger roetine volg. Onthou om ’n aantekening te maak van watter baba aan watter bors gevoed is en hulle met elke voeding om te ruil. Moenie jou bekommer oor die hoeveelheid melk wat jy produseer nie – jy sal genoeg vir jou babas hê.

Onthou dat dit tyd kos om borsvoeding gevestig te kry en jy sal moontlik aan die begin ’n bietjie sukkel. Moenie dat dit jou afskrik nie. Gaan vra raad by ’n borsvoedingkonsultant as dit vir jou voel jy kry dit
nie reg nie.

As jy dit moeilik vind om albei babas gelyk te voed, sal jy dalk vroeër met bottelvoeding moet begin as wanneer jy net een baba sou hê. Dit kan baie help aangesien jou maat een baba kan voed terwyl jy borsvoed en met die volgende voeding kan julle dan die babas omruil.

So sal albei die voordeel van jou borsmelk geniet, maar dit sal help om jou meer ontspanne te laat voel wanneer voedingstyd aanbreek.

Moenie stutvoed (die bottel met iets soos ’n ander bottel stut sodat jy nie ­ fisiek hoef te voed nie) as jy bottelvoed nie. Hoewel dit vir jou soos ’n oplossing voel, is dit taamlik gevaarlik – klein babas verstik maklik as die melk te vrylik vloei. Dit beteken ook dat een baba nie die kans kry om styf vasgehou te word tydens ’n voeding nie.

As dit by die voeding van meerlinge kom, moet jy doen  wat jou die beste pas, hulp aanvaar as dit aangebied word en prakties wees.

Slaap

Jou meerling se slaapgewoontes sal grootliks deur jou voorkeure en lewenstyl beïnvloed word. Dit sal die maklikste wees as albei babas dieselfde roetine volg, anders gaan jy voel jy hardloop van die een baba na die ander met geen tyd vir jouself nie.

Jy sal nie ’n voorspelbare roetine in die eerste weke kan vestig nie, maar jy kan wel van die begin af riglyne volg wat uiteindelik tot ’n roetine sal lei.

  • Probeer om jou babas by dieselfde roetine te hou sodat jy slaap kan inhaal terwyl hulle albei slaap. Doen dit deur die slapende een wakker te maak wanneer die ander een vanself wakker word vir ’n voeding.
  • Jy sal dalk vind dat jou meerling beter slaap as hulle ’n bababedjie deel. Dit is omdat hulle nege
    maande lank ’n baie klein ruimte gedeel het en hulle steeds vertroosting in mekaar se teenwoordigheid vind.
  • Wanneer jy hulle na afsonderlike bedjies skuif, maak seker dat hulle mekaar kan sien.
  • Dieselfde slaapbeginsels wat vir een baba geld, geld twee of meer. Lê hulle neer wanneer hulle lomerig, maar nog wakker is en moedig hulle aan om hulself te sus.
  • Die meeste meerlinge gee nie veel om as die ander huil nie, moet jou dus nie bekommer dat een se gehuil die ander sal wakker maak nie.

6 Stappe tot sukses

1. Helpende hande

Stel vas waarmee jy die meeste hulp gaan nodig kry: ekstra hande met voedings, hulp in die huis of iemand om na jou ander kinders om te sien. Gesels met vriende oor ’n rooster vir die eerste aantal dae
of stel iemand vas aan.

2. Spanwerk

Julle gaan albei jul hande vol hê. Stel ’n rooster op sodat elke ouer ’n beurt kry om te slaap terwyl die ander een die babas oppas. Koördineer die gesins- en individuele behoeftes sodat die rooster julle albei pas.

3. Olke bolke Kies

Verskillende kleure vir jou babas se uitrustings sodat jy hulle in ’n oogwink kan uitken. Dis reg, selfs ma’s raak aanvanklik deurmekaar! Jy kan ook ’n titseltjie naelpolitoer op hul toonnaels verf om jou hiermee te help.

4. Koop voorraad

Jou voorraad gaan baie gou opraak. Bou voorraad op van wat jou babas die meeste gebruik: formulemelk, doeke, vogdoekies, bottels. Hou alles in hul oorspronklike verpakking sodat jy kan omruil wat jy nie
gebruik nie.

5. Maak ’n lysie

Hang ’n klein kennisgewingbord teen die babas se muur waarop hul voedings, doekruilings, en slapies
aangebring word, sodat jy kan sien wie wanneer wat gekry en gedoen het. Dan kan niemand deurmekaar raak nie.

6. Moeilikheid raak minder

Dinge sál verbeter ongeag hoe erg dit is. Babas word groot. Hulle sal gou meer begin slaap, minder eet en dit sal makliker word om met hulle uit te gaan. Jou babas word gou groot en dan is daar nuwe uitdagings.

Wenke om jou verhouding te koester

  • As daar ’n meerling in die huis is, verander pa en ma maklik in net nog ’n ekstra paar hande. Die praktiese implikasies van meerlinge verg toegewyde ouers, maar die gesinslewe bestaan ook uit meer as net die regmerkies op jou doen-lysie.
  • Bestee tyd alleen saam. Beplan vooruit om minstens twee keer ’n maand tyd alleen, sonder jul babas, deur te bring. Kry ’n kinderoppasser sodat julle gereeld kan uitgaan.
  • Wees vriendelik. Probeer om nie jou maat die fokus van jou frustrasies te maak nie. Konsentreer
    eerder op die goeie as die kwade en bedank jou maat vir wat hy doen.
  • Vermy kleinlikheid. Probeer om nie jou maat oor elke klein foutjie te kritiseer nie. Fokus liewer op wat hy goed doen en prys hom dat hy ’n goeie pa is.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees