Eerste dae

akkreditasie
Jou kosbare eerste 10 dae saam met jou nuwe baba

Wat gaan jou baba doen en hoe kan jy vir haar sorg in die eerste 10 dae ná haar geboorte? En, ewe
belangrik, wat is met jou aan die gebeur en hoe kan jy na jouself omsien in dié angswekkende tyd?

Dag 1

Baba: Ná geboorte sal jou baba ’n Apgartelling gegee word om haar gesondheid en lewenstekens te bepaal en dan sal sy teen jou kan lê vir ’n bietjie bindingstyd en moontlik ’n eerste poging tot borsvoeding. Jy sal verbaas wees oor hoe wakker jou pasgeborene is.

Hoewel haar sig nog vaag is, kan sy op ’n afstand van 20 tot 25 cm fokus en jou gesig intens bestudeer, haar sintuie gebruik om na die wêreld om haar te luister, ruik en voel, en jou vinger te gryp as jy dit in die palm van haar hand plaas.

Pasgeborenes slaap sowat 20 uur per dag. Tussendeur word sy geborsvoed, droog gemaak, vasgehou en gekoester.

Ma: Jy is nou in jou vierde trimester en herstel van óf ’n keisersnee of natuurlike geboorte. Jy ervaar gemengde gevoelens – opwinding omdat die geboorte verby en jou baba hier is, en angs oor die taak
wat voorlê.

As jy ’n keisersnee gehad het, moet jy onthou dit was ’n groot operasie en jy het hersteltyd nodig. Nadat jy die hospitaal verlaat het, is jou enigste verantwoordelikhede jy en jou baba – al die ander moet self klaarkom, die huiswerk doen, na ander kinders kyk, kos kook en omsien na gaste wat kom kuier. Indien jy vaginaal die lewe geskenk en ’n episiotomie gehad het, is jy dalk erger geswel as wat jy verwag het. Gebruik yspakke en volg die verpleegpersoneel se raad oor hoe jy gemakliker kan urineer en na wonde en swelsels kan omsien.

Dag 2 tot 4

Baba: Kolostrum of “voormelk” is vol voedingstowwe, hou die baba warm en snoesig en maak die ingewande skoon van die eerste stoelgang, wat mekonium genoem word. Die mediese personeel sal op die uitkyk wees vir geelsug, ’n algemene toestand by pasgeborenes. Fototerapie kan aangewend word om van die ekstra bilirubien in die baba se vel ontslae te raak.

Ma: As jy eers tuis is, probeer om die roetine wat in die hospitaal gevestig is te handhaaf. Maar wees buigbaar – leer om jou instink te volg en laat jou baba jou lei.

Indien jy borsvoed, voed wanneer die baba daarna vra. Sy wil dalk meer drink met een voeding en minder later, of “klosvoed” in ’n reeks van voedings, veral vroegaand. Wanneer jou baba suig, begin
jou hormoonstelsel melk vervaardig – oefen dus om jou baba gereeld te voed.

Jy sal dalk ook babadepressie kry. As jy terneergedruk of depressief is of nie swaarmoedige of wanhopige gevoelens kan hanteer nie, moet jy jou dokter dadelik gaan raadpleeg.

Dag 5 en 6

Baba: Jy sal jou baba se winde moet uitvryf ná ’n voeding of indien nodig, ’n vaardigheid wat sommige mense gouer as ander bemeester. Eksperimenteer met verskillende posisies en onthou dat ’n regop-posisie knus teen jou ’n goeie hulpmiddel is vir vertering en om van ongewenste winde ontslae te raak. Jou baba kan ook nou melk saam met ’n wind opbring. Omdat dit morsig is en suur ruik, is dit ’n goeie
plan om ’n handdoek-doek of handdoekie byderhand te hê.

Hou jou baba se naelstring skoon met die aanwysings wat die verpleegpersoneel jou gegee het. Maak die naelstring versigtig skoon elke keer as jy ’n doek omruil. As jy rooierigheid, etter of ’n afskeiding
wat sleg ruik of ’n uitslag opmerk, bel jou dokter.

Ma: Jou hormone is aan die verander en jy sukkel ook dalk met die fisieke aspekte van herstel. Rescue Remedy-druppels en iemand anders wat jou baba kan skoonmaak, doeke omruil en vashou wanneer jy ’n blaaskansie nodig het, sal baie help.

Hou die wond van jou keisersnee dop of enige teken van vaginale infeksie. Raadpleeg jou dokter as jy kwaai ongemak ervaar of selfs net sleg voel.

Dag 7 tot 8

Baba: ’n Hele week is verby! Jy het dosyne doeke omgeruil en kom al goed reg met borsvoeding. Jou baba geniet dit om na jou te kyk, veral met voedings – gebruik die tyd om te bind. Gee veral aandag aan jou baba se oë, ore en neus wanneer jy hom was.

As sy oë gepof, ontsteek of aangetas lyk of as jy etter sien, moet jy jou dokter bel. Jou baba sal dalk baie nies; maak oorvloedige slym skoon. As jy sy ore skoonmaak, maak dit versigtig droog agter die
oorlob en moet nooit ’n pluisie in sy oor druk nie.

Vermy die versoeking om jou baba oral saam te neem – veral nie na plekke met baie mense soos winkelsentrums nie. Sy immuunstelsel is nog baie swak en dis beter dat hy nie deur te veel mense omring en opgetel word nie.

Ma: Teen dié tyd voel jy gesond genoeg om uit te gaan. Terwyl jy dit nie moet oordoen nie, is dit ’n belangrike stap. Genoeg vitamien D van sonskyn sal jou gemoedstoestand verbeter en jou energievlak
opstoot.

Dag 9 en 10

Baba: Jy sal jou plaaslike kliniek in die eerste twee weke besoek vir ’n ondersoek, weegsessie en inenting indien nodig. Teen dié tyd is jou baba se stoelgang geel en greinerig as jy borsvoed. As jy bottelvoed is dit liggeel of geelbruin en ruik dit skerper.

Moenie dink jy moes al ’n vaste roetine gevestig het nie – doen net jou bes en hou jou baba dop vir tekens van ongemak of ongerief. As niks wil werk nie, bel die klinieksuster of jou dokter.

Ma: Jy sal dalk die gevolge van te min slaap voel, veral as jou baba verteringsprobleme ontwikkel het of meer daarvan hou om snags wakker te wees! Daar is nie ’n regte of verkeerde manier van doen nie; al wat saak maak is dat jy en jou baba kos en water kry, jou baba gewas is (kop en boudjies is genoeg
in die eerste twee weke; jy hoef haar nog nie te bad nie).

Moenie te veel besoekers toelaat as hulle jou meer stres as plesier besorg nie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees