Eet beter vir meer melk

akkreditasie
iStock
As die melkkoeie heeldag loop en wei, moet jy ook? Ons vertel jou alles wat jy moet weet van eet terwyl jy borsvoed.

Hierdie melkmakery vir jou klein bulletjie maak jou so honger soos ’n bees en dus loop jy maar heeldag en wei soos ’n regte melkkoei. Van gras alleen kan jy egter nie leef nie, en tyd vir beesbredie maak is daar nie, so ’n lekker groot stuk melktert of ’n melkskommel sal moet help om behoorlike melk te maak.

Dis ook maar goed dat jy geseënd is met twee liggaamsdele wat presies weet wat hulle moet doen, want as dit van jou afgehang het om seker te maak dat jou melk die regte soort koolhidrate, net genoeg proteïene en die perfekte kombinasie van vette bevat, sou jy dalk eerder ’n blik gaan koop het.

MELKFABRIEK

Die maak van borsmelk is ’n ingewikkelde proses waarby verskeie hormone, ensieme en selle betrokke is om meer as 200 verskillende bestanddele perfek bymekaar te voeg in een heerlike soet wit vloeistof; en dit alles terwyl jy agteroor sit en ontspan.

Die melkkliere kry alles wat hulle nodig het uit jou bloed, en daarom sal alles wat jy in jou mond sit, ook in jou melk wees – van alkohol tot medikasie, kafeïen en selfs die geur van daardie lekker stuk kaas of laataand-sjokolade.

Die hoeveelheid proteïene en koolhidrate in jou melk is taamlik konstant, ongeag wat jy eet. Die hoeveelheid selenium, jodium en wateroplosbare vitamien C en Bkompleks, asook die vette, sal egter afhang van wat jy eet. Ter wille van jou baba kan jy dus nie net eet wat voorkom sonder om voedingstowwe in gedagte te hou nie.

As jy ook êrens ’n lang lys van kosse gekry het waaraan jy jou lippe nie mag sit nie, kan jy dit gerus weggooi en liewer fokus op gesond eet. Pleks van heeldag loop en wei aan enigiets wat voorkom, moet jy by jou maaltye en spesifieke peuselhappietye bly.

Met ’n paar minute se beplanning kan jy pleks van net hongerpyne stil, kosse inkry wat al die voedingstowwe gee wat nodig is vir bobaas melk.

BEGIN REG

Die ontbyt in die hospitaal was waarskynlik die laaste behoorlike ontbyt wat jy in ’n lang tyd geëet het. Tussen borsvoed, uitmelk, poefdoek ruil en wasgoed was is daar beslis nie tyd vir ’n rustige ontbyt voor jy, alreeds laat, by die deur uitstorm na die nageboorteklas nie.

By die klas se teetafel moet die koekies dus maar hongerpyne stil terwyl jy jou gewete sus met die gedagte dat jy moet eet om melk te kan maak.

Die ideaal is ’n rustige stilsit-ontbyt wat bestaan uit ’n heelgraan-ontbytkos met laevet- of vetvrye melk en ’n vrug. Maar ons woon op planeet Aarde en hier is dit nie altyd moontlik nie. Maak dus seker jy het iets in die kas wat gesond is en wat jy op die dol dae vinnig kan gryp.

’n Maaltydvervanger-drankie soos dié wat spesifiek vir swangerskap en borsvoeding bemark word, is ’n slim keuse. So ook ’n glas melk en ’n piesang of ’n beskuitjie met ’n lae glikemiese indeks (GI) en ’n appel. Probeer ontbyt eet binne ’n uur nadat jy opgestaan het.

MIDDAGETE

As middagete jou ligte maaltyd is, kan jy sommer ’n lekker toebroodjie maak. Kies ’n lae-GI-heelgraan- of saadbroodjie en ’n margarien soos kanola wat baie omega 3-vetsure bevat. Jou vulsel gaan afhang van hoeveel tyd jy het.

As die tyd min is, smeer sommer grondboontjiebotter, salmsmeer of avokadopeer op en eet ’n vrug daarby. As jy meer tyd het kan jy speel met kombinasies van blaarslaai, tamatie en komkommer met ’n bietjie maaskaas, kaas, tuna, hoender of eier.

AANDETE

Om ’n gebalanseerde aandete te berei hoef nie ure voor die stoof te beteken nie. Op die dae dat baba net in mamma se arms wil wees, kan jy iets vinnigs kies soos koeskoes met tuna en gemengde groente, basmatirys met ’n hoenderfilet en ’n mengelslaai, of ’n visporsie met oondgebakte aartappelskyfies en beetslaai.

As baba dalk salig slaap terwyl jy kos maak, kan jy geregte opdis wat ’n bietjie meer tyd verg en ’n ekstra groente of slaai bymaak. Beproef aartappel in die skil met maalvleis, groenboontjies en wortelslaai, of pasta met hoender en sampioene, broccoli en pampoen, of stokvis met patats, lemoenpampoentjies en ertjies.

As jou suikertand smeek om ’n soet dingetjie om die ete mee af te rond, maak eerder ’n vrugteslaai of gryp sommer net ’n vrug.

So bevredig jy nie net die lus vir soet nie, maar kry ’n klomp ekstra vitamiene en minerale in.

TEETYD

As teetyd saam met ’n kliniekbesoek of ’n babaklassie val, kan jy ’n vrug of twee saamneem. Sorg dat jy altyd ’n pakkie droëvrugte of ongesoute neute in jou doeksak saamdra vir die kere dat jy onverwags langer by die winkel of dokter is.

By die huis kan jy ’n gladdejantjie of selfs jou eie vrugtejogurt maak van ongegeurde jogurt met ’n vrug ingesny.

KLINK 'N GLASIE

In die hospitaal het jy al gevoel dat jy heeltyd dors bly. Wat jou nog verder fassineer is dat jy heeltyd iets drink en tog nie elke uur ’n draai moet loop nie. Vir borsvoeding het jy heelwat ekstra vloeistof nodig.

Jy het drie tot vier liter per dag nodig, maar die beste manier om te weet hoeveel om te drink, is om te drink volgens hoe dors jy is.

Hou altyd ’n bottel water in jou doeksak en selfs by die huis. Drink hoofsaaklik skoon water. In die winter kan jy rooibostee sonder suiker drink pleks van water.

Om seker te maak dat jy genoeg kalsium inkry behoort jy ook drie glase melk op ’n dag te drink. Beperk die onnodige ekstra energie wat in vrugtesappe en ander koeldranke is deur dit te hou vir spesiale geleenthede.

MIDDERNAGFEES

Moenie bekommerd wees as jy drieuur in die oggend tydens ’n borsvoedsessie voel of jy dae laas geëet het nie. Dit is heeltemal normaal, veral aan die begin.

’n Gesonde eetdingetjie net voor jy in die bed neerval sal help dat jy in die nag nie so rasend honger word nie. Kies iets wat koolhidrate, vet en ’n bietjie proteïen bevat. Dit sal jou energie gee en ook help om jou langer versadig te hou.

Drink ’n glas melk of eet drie of vier heelgraanbeskuitjies met grondboontjiebotter of kaas op.

PERDEBYLFIE

Moenie bekommerd wees as jy drieuur in die oggend tydens ’n borsvoedsessie voel of jy dae laas geëet het nie. Dit is heeltemal normaal, veral aan die begin.

’n Gesonde eetdingetjie net voor jy in die bed neerval sal help dat jy in die nag nie so rasend honger word nie. Kies iets wat koolhidrate, vet en ’n bietjie proteïen bevat. Dit sal jou energie gee en ook help om jou langer versadig te hou.

Drink ’n glas melk of eet drie of vier heelgraanbeskuitjies met grondboontjiebotter of kaas op.

MEER MELK

Baie ma’s wat voel dat hulle nie genoeg melk het nie, gaan soek op die apteekrak na iets wat kan help. Iets natuurliks soos ’n kruietee klink onskadelik en veiliger as medikasie – of hoe?

Ongelukkig is daar min navorsing oor kruie wat meer melk maak. Kruie wat wel kan werk is melkdistel, torbangun en fenegriek, maar hulle het ook maar newe-effekte en is nie vir almal veilig nie weens interaksies met sommige medikasies. 

Dit kom ook in jou melk en kan sleg vir jou baba wees. Voor jy dus sommer net ’n kruieproduk koop, hoor eers by ’n dieetkundige of dokter wat die beste vir jou sal wees.

Jy het seker ook al Blackthorn Berry beproef in die bekende resep wat oral versprei word. Ongelukkig is daar geen bewys dat dit help om meer melk te maak nie. Hierdie bessie word wel teen uitputting gebruik en kan dus onregstreeks waarde hê.

Die beste raad vir meer melk is om gesond te eet, genoeg te drink, genoeg te slaap en te sorg dat jou baba gereeld drink. Borsmelk wat in die borste agterbly vertel vir die borste dat hulle te veel maak en minder moet maak; sorg dus dat jou borste elke keer leeggemaak word.

Wees ook versigtig vir aanvullings met groot hoeveelhede vitamien B6 in omdat dit melkproduksie kan onderdruk.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees