Feite oor baba se slaap

akkreditasie
Insig in die wetenskap van slaap kan jou help om `n beter nagrus vir die hele familie te bestuur. Moenie teen die natuur probeer werk nie. Span eerder die feite in om julle almal te help.

Voordele van dagslapies

  • Die help veral met die vaslê van langtermyn geheue.
  • Dit keer dat jou kind oormoeg word. `n Kind wat te moeg is, sukkel om saans ‘af te skakel’.
  • Kinders wat dagslapies geniet konsentreer beter en voel minder gefrustreerd.
  • Dagslapies help om stres te ontlaai deur spesifieke hormone wat vrygestel word.
  • As jou kind die vorige aand sleg geslaap het, kan `n dagslapie hom help om in te haal.

Voor 4 maande

As jy wil hê dat jou baba in sy eie kamer slaap, moet jy hom voor vier maande skuif. Daarna raak dit moeilik.

5 kg = 5 ure

Klein babas het klein magies en sal gereeld wakker word om te voed. Totdat jou baba nie ten minste 5 kg weeg nie, kan jy nie verwag dat hy vir meer as 5 uur aaneen slaap nie.

3 maande

Jou baba behoort nou vir agt uur sonder `n voeding klaar te kom, maar sal moontlik nog wakker word om ander redes.

6 maande

Jou baba is fisiek daartoe instaat om deur die nag te slaap, maar sal dit nie noodwendig doen nie.

Snork baba?

Die oorsaak is moontlik vergrote mangels of adenoids. Laat die dokter daarna kyk. `n kind wat snork kry tot 1 ½ uur minder slaap as die wat stil slaap, en kan tot twee keer meer snags wakker word.

Hoekom word baba snags wakker?

  1. Jou nuwe baba voel dalk alleen en onrustig op haar eie in haar bedjie. As dit julle almal sal help om te slaap, oorweeg gerus om saam te slaap. As dit nie vir jou `n opsie is nie, kan jy ook probeer om haar lekker styf toe te draai, en in `n knus wiegie te laat slaap, eerder as in `n groot, oop kot. Veral pasgeborenes hou daarvan om styf toegedraai te wees.
  2. In `n ouer baba van so 7 tot 8 maande kan skeidingsangs intree. Dis `n tipiese stadium en jy moet jou baba met liefde en geduld leer dat jy wel daar is, al is jy nie sigbaar nie. Wees ekstra reassuring in hierdie tydperk
  3. Baba is honger. Babas het klein magies, en melk verteer gou. Maar vanaf ses maande, of selfs vroeër as jou baba groot is, is dit nie meer nodig om snags te voed nie. Oppas dat dit `n gewoonte raak.
  4. Baba is ongemaklik weens `n nat of vuil doek. Maak seker jy gebruik die regte grootte doek. Ruil dit net voor bedtyd en sorg dat die rekkies aan die kante na buite uitgetrek is. Gebruik `n goeie gehalte-doek.
  5. Baby sny tande (dit pla gewoonlik vanaf 6 maande), of is siek. Wees ekstra geduldig en liefdevol, maar probeer hou by julle roetine, en doen wat jy kan om verligting te gee.
  6. Baba beleef `n periode van versnelde groei of ontwikkeling. Hou by die roetine – jou baba sal sekuriteit daaruit put.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees