Gelukkig & tevrede met my pasgeborene

akkreditasie
Thinkstock
Koester jou splinternuwe baba met 5 topwenke vir die eerste ure, dae en weke.

1. Voed vir vrede

Borsvoeding kan aanvanklik moeilik en selfs pynlik wees. Dis egter oor en oor die moeite werd om deur te druk. Begin so gou jy kan borsvoed, want jou baba se suigrefleks is net ná geboorte op sy sterkste, en dit verbeter jou kans op sukses. As dit sukkel, laat hierdie feite jou weer aanspoor:

- Borsmelk hou nét voordele vir babas in.
- Borsmelk is volmaak gebalanseerde babakos en bevat presies die regte hoeveelheid vitamiene, minerale, proteïene en koolhidrate.
- Dit help om allergieë later in jou baba se lewe te voorkom.
- Borsmelk is altyd beskikbaar teen die regte temperatuur. (En die houers is so mooi ook!)
- Borsmelk word maklik verteer en borsbabas sukkel selde met hardlywigheid of diarree.
- Borsmelk bevat teenliggaampies wat jou baba se immuunstelsel help versterk.
- Dis gratis!

2. Raak saam stil

Kort ná geboorte is daar ’n tyd wanneer ma en baba besonder fyn op mekaar ingestel is en waar binding ’n lekker hupstoot kan kry. Maar onthou, binding is ’n proses, en daar is nog baie tyd waarin julle mekaar kan leer ken. Haal so die meeste uit die eerste ure en dae:

- Vra om jou ongewaste baba direk ná geboorte op jou kaal bors te hou voor hulle hom wegvat vir roetine-toetse.
- Sorg dat jou baba by jou in die hospitaalkamer slaap.
- Lees boeke oor hoe nuwe babas op die buitewêreld reageer. Dit sal jou help om meer in voeling met hom te kom. Gesels met jou baba of sing wiegeliedjies. Hy ken al jou stem en sal dit kalmerend vind.
- Moenie in die pad staan van pa en baba se binding nie. Gee soms die leisels oor, al is dit moeilik en al lyk dit vir jou of jou man onbeholpe is. Hy moet die geleentheid kry om ook te oefen, en ook pa te wees sonder kritiek en kommentaar van jou af. Bou eerder sy selfvertroue – onthou, dis sy baba ook.

3. Veilig huis toe

Motorveiligheid begin met jou baba se heel eerste motorrit, waarskynlik van die hospitaal af huis toe. Jou baba moet vasgegespe wees in ’n motorstoeltjie wat reg is vir sy gewig, en wat heeltemal korrek in die motor vasgemaak is. Neem jou voor dat julle altyd by hierdie reëls gaan hou:

- Jou baba mag nooit in jou of enigiemand anders se arms of op die skoot reis nie.
- Die motorstoeltjie sal nooit op die voorste sitplek wees as daar ’n lugsak is nie.
- Julle sal eerder van die pad aftrek en rus as baba erg skree as om hom in die ry uit sy stoeltjie te haal.

Wees gewaarsku dat die ouer geslag hierdie reëls vreemd kan vind, maar moet jou nie laat beïnvloed nie. Motorongelukke is die hoofoorsaak van kindersterftes in ons sosio-ekonomiese groep; verantwoordelike ouers doen dus alles in hul vermoë om hul kleingoed te beskerm.

4. Slaapverwagting

Nuwe babas slaap die meeste van die tyd – moenie hiermee inmeng nie. As hy vir langer as vier uur slaap, kan jy hom sommer so in die slaap voed. In die eerste twee weke behoort jou bondeltjie liefs nie langer as 40 tot 60 minute op ’n slag wakker te wees nie.

Pasgebore babas kan maklik oorgestimuleer raak. Onthou, dis nie moontlik om ’n pasgebore baba te bederf nie. Vertrou jou instink en laat jou baba gerus op jou bors of in jou arms aan die slaap raak – dit sal nie nou al slegte gewoontes kweek nie.

5. Massering maak sterk 

Teen sowat twee weke kan jy begin om baba te masseer. Dit kan vir julle albei ’n wonderlike ervaring wees. As jy onseker voel, volg gerus ’n kursus. Voordele:

- Diepdrukking en massering kalmeer jou baba en help met koliek.
- Massering versnel die vordering van veral vroeggebore babas en babas met ’n lae geboortegewig.
- Babas wat gereeld gemasseer word, huil minder en slaap beter.
- Massering help jou baba om liggaamsbewussyn te ontwikkel, wat belangrik is vir sy algehele toekomstige ontwikkeling.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees