Gevare van babaskudsindroom

akkreditasie
Wou jy al uit pure frustrasie jou baba skud? Dié vorm van kindermishandeling is ontstellend algemeen en dit kan tragiese gevolge vir jou kind inhou.

Net vyf sekondes se harde geskud is al wat dit vat om jou baba ernstig te beseer, of erger nog, noodlottig te beseer.

En ‘n oormatige geskud oor ‘n tydperk beseer nie net ’n baba se sagte skedel, sy onderontwikkelde brein en sy swak nekspiere nie, maar kan ook lei tot vertraagde groei, blindheid, motoriese afwykings, skade aan die rugstring, bloeding op die brein of ’n koma.

In Amerika is dit die hoofoorsaak van sterftes onder mishandelde kinders Dr. Michael Lippert, ’n Pretoriase neuropediater, sê hy kry met talle gevalle te doen waar babas seerkry omdat hulle geskud is, maar daar is nie Suid- Afrikaanse statistiek wat aandui hoe algemeen dit voorkom nie.

Om ’n baba heen en weer te skud, is dieselfde as om hom op die grond te laat val. Met die hewige geskud stamp die brein agter teen die skedel en kan dit in sommige gevalle begin bloei.

Die beserings wat kinders opdoen as hulle geskud word, word babaskudsindroom genoem. Dit kom die meeste voor by babas jonger as ‘n jaar, veral in die drie tot agt maande groep.

Om ’n kind in die lug te gooi, is ewe gevaarlik as om hom te skud, want die vangslag het dieselfde effek as om geskud te word. Die gevaar het te doen met die baba se onderontwikkelde liggaam en nie soseer met die moontlikheid dat jy jou baba kan misvang nie.

Omdat 'n baba se kop groot is, die nekkie dun en die lyfie klein, beweeg die kop hewiglik, al word die baba net matig aan die lyfie geskud. Ernstige kopbeserings kan dan voorkom.

Die gevolge

Wanneer iemand jou baba gooi en vang, of skud, knik sy koppie onbeheersd rond omdat sy nekspiere nie sterk genoeg is om sy kop te ondersteun nie. ’n Ouer of oppasser kan die baba dalk net matig skud terwyl hulle met hom raas, maar hulle besef nie altyd watter skade hul optrede kan aanrig nie.

Die geskud laat die bloedvate tussen die brein se oppervlak en die sinusse skeur en veroorsaak bloeding op die brein of agter die oë. Babas wat geskud word, kan ook bloeding in die vliesruimte om die brein opdoen. Daarby kan hul beentjies breek en hul vel kneus.

Die bewussyn van kinders wat herhaaldelike skudsessies moes deurmaak, is beneweld, hulle kry maklik
stuiptrekkings, is prikkelbaar en ontroosbaar.

’n Baba se kop verteenwoordig 10 persent van die sy totale liggaamsgewig, in teenstelling met 2 persent by volwassenes. Moet dus nooit jou baba uit frustrasie skud nie. As jy voel jy kan nie meer nie, gee jou kleinding vir iemand anders.

Dis ook ’n goeie plan om jou dokter of ’n sielkundige te spreek en hulle te vra om jou te help om kalm te bly en te leer hoe om jou woede te beheer. Dis die moeite werd.

Hoe weet ek my baba is geskud?

In minder gewelddadige gevalle kan babas die volgende simptome toon:

  • Bloeding op die oë
  • Lomerigheid
  • Prikkelbaarheid
  • Braking
  • Moeisame asemhaling
  • Verminderde eetlus
  • Ongelyke pupilgrootte
  • Stuiptrekkings of toevalle
  • Onvermoë om sy kop op te lig of sy kop is permanent na die een kant gedraai
  • Onvermoë om met sy ogies te fokus en  voorwerpe te volg

Wat kan babaskudsindroom aan ’n baba doen?

Kinders wat dit oorleef kan van die volgende gestremdhede agterhou:

  • Gedeeltelike of totale blindheid
  • Gehoorverlies
  • Spraak- en leerprobleme
  • Ernstige verstandelike agterstand
  • Probleme met geheue
  • Ontwikkelingsvertragings
  • Verswakte intelligensie
  • Verlamming

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees