Groeikaarte: Op die regte kurwe

akkreditasie
Jou baba se groeikaart is 'n handige stukkie gereedskap wat jou help om te sien of hy gesond groei. 

Elke baba wat in Suid-Afrika gebore word, kry’n kaart of boekie wat bedoel is om die ouers en mediese werkers te help om die kind se gesondheid te monitor in die eerste vyf jaar.

Een van die maniere waarop jy (of die dokters) kan sien of jou kind gesond is, is om te kyk na hoe sy groei. Natuurlik speel wat en hoeveel sy eet ’n groot rol inhaar groei, maar haar algemene gesondheid en welstand kan ook ’n effek hê.

Suid-Afrika het kinders wat ondervoed word, kinders wat wanvoeding kry én kinders wat oorvoeding kry. Vetsug en oorgewig is veral aan die toeneem, wêreldwyd en hier by ons ook.

In 1990 was 4,2% van kinders onder 5 in Afrika oorgewig of vetsugtig. In 2011 was dit 7,3% en die projeksie vir 2020 is dat 12,7% van kinders onder vyf in Afrika oorgewig of vetsugtig gaan wees. Dit het reuse-implikasies vir enige land se toekomstige gesondheids uitgawes.

Navorsers stem saam dat vet kinders meestal vet grootmense word. Die tekens dat ’n probleem aan die ontwikkel is, is dikwels in die eerste paar jaar van lewe al te bespeur, as jy weet hoe om daarvoor tekyk. Dít is waar ’n groeikaart inkom.

Hoe gebruik ek die groeikaart?

Die kaarte wat ons hier publiseer is die nuutstes van die Wêreldgesondheidorganisasie, en die gewig-vir-lengte (of hoogte)-kaarte is van die heel nuttigstes, want dit wys jou wanneer jou kind te vet of te maer is. (Dieetkundiges sal dikwels ook ander kaarte gebruik, byvoorbeeld kaarte wat liggaamsmassaindeks aandui.)

Eerstens moet jy jou baba of kind akkuraat weeg en meet.

Weeg: Jou baba moet kaal wees, of jou kind moet so min as moontlik aanhê. Geen doeke, want hulle kan swaar en nat wees. Probeer om altyd dieselfde skaal te gebruik.

Lengte en hoogte: Babas onder twee se lengte word gemeet as hulle plat lê, van hak tot kroontjie. Kinders ouer as twee se hoogte word gemeet as hulle staan. Meet twee keer om seker te maak jou lesing is so akkuraat as moontlik.

As jy ’n dogtertjie het, gebruik dan die kaarte vir dogtertjies, en vir seuntjies gebruik die seuntjie-kaarte. (Die geslagte groei verskillend.)

Maak seker jy gebruik die regte kaart. Maak ’n klein merkie by jou baba of kind se lengte of hoogte in sentimeter, en nog ’n merkie by jou kind se gewig in kilogram. Trek ’n lyn na bo en ’n lyn na regs vanaf die twee merkies. Die plek waar die twee lyne kruis, is waar jou kind op die groeikurwe lê.

Hoe interpreteer jy dit?

Jy sal sien dat daar ’n klompie lyne op die kaarte lê. As jou kind se kolletjie tussen die 2 en die -2 lê, groei sy heel waarskynlik na wense. As die kolletjie onder die -2 is, is sy te maer, en as dit bo die 2 is, is sy oorgewig. Die middelste lyn – die 0 lyn – dui die gemiddelde aan.

Jou kind se kurwe behoort op of naby die lyn te wees waarop haar lengte en gewig met geboorte was. Voorbeeld: As sy met geboorte op die 1-lyntjie was, behoort sy min of meer daar te bly.

/>

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees