Hallo growwe kos

akkreditasie
Thinkstock
As jou baba tot nou net puree geëet het, is dit tyd vir ’n growwe uitdaging. Ons wys jou hoe.

Die fyn babakos wat jou baba leer eet het, gaan haar nie baie lank interesseer nie.

Behalwe dat sy moeg kan raak vir die pap kos, is dit om verskeie redes ook belangrik dat sy growwer kos leer eet. Growwe kos beteken sy moet kou, en al het sy nog nie ’n enkele tandjie nie, begin sy al oefen vir die groot kou wat kom. Al die koubewegings maak haar tong en mondspiere sterk sodat sy nie net vir haar pa kan tong uitsteek nie, maar ook binnekort pragtige woordjies kan begin sê.

Sy stel al klaar meer belang in mamma se kos as haar eie en as sy mooi leer, gaan sy binnekort dieselfde kos as die res van die gesin kan eet. Teksture bring natuurlik ook ’n groter gevaar mee dat jou baba kan verstik. Baie ma’s weerhou growwe kos juis omdat hulle bang is vir verstikking. Maak eerder net seker jy weet presies wat om te doen en sorg dat jy by jou baba is sodat jy vinnig kan help.

Moenie uitstel nie; jy kan selfs teen ses maande al met korrelrige kos begin, maar moenie later as nege maande wag nie. Babas wat eers ná 10 maande oud growwe kos begin eet, sukkel om dit baas te raak.

Doen dit so

Die vleispuree en mieliepap gaan nie oornag in ’n biefstuk en ’n mielie op die stronk verander nie. Growwer kos moet geleidelik bekendgestel word. Gee een growwer kossoort met elke ete en hou die res die puree waaraan sy
gewoond is.

Dit kan makliker wees as die growwe kos iets is wat sy reeds ken eerder as ’n nuwe kossoort. Skil vrugte en groente nog steeds af, want die skil kan maklik aan jou baba se verhemelte vassit en dan is dit omtrent ’n storie om dit af te kry.

AVOKADO

Jou baba moet nie net aan growwigheid gewoond raak nie, sy moet ook leer kou. Repies avokadopeer het ’n lekker sagte mondgevoel, maar moet ook ’n bietjie gekou word. Dit is dus ’n ideale kos vir jou baba se eerste kou.

FYN GERASPERDE APPEL EN FYN GEDRUKTE PATATS

Tekstuur kan ook ingebring word deur dieselfde kos te gee, maar dit net geleidelik growwer te maak. Die gewone appelpuree kan jy dus vervang met appel wat fyn gerasper is, en pleks daarvan om die patats met ’n stokmenger fyn te maak, kan jy dit met ’n vurk fyn druk.

 
HAWERMOUTPAP

Een van die eerste maniere om jou baba bloot te stel aan growwer kos, is om kos te gee wat fyn is met hier en daar ’n stukkie growwigheid in. Hawermoutpap is ideaal omdat dit van nature so ’n tekstuur het. Onthou om dit sonder sout te kook en nie suiker by te voeg nie.

MAALVLEIS

As jou baba goed vorder, kan jy maalvleis gee wat sommer propvol growwigheid is. Voeg ekstra water by wanneer jy dit gaarmaak en maak dit dik met meel of mielieblom. Die sousie sal jou baba help om dit te eet. Aan die begin sal sy die stukkies uitspoeg, maar wees geduldig. As jy net aanhou om dit te gee, sal sy gou gewoond raak aan die nuwe gevoel in haar mond.

BOTTERSKORSIE-VINGERS EN MURGPAMPOENTJIES 

Die meeste babas wil self eet en daarom sal ’n handkos wat hulle self kan vashou en eet daardie ekstra motivering gee wat nodig is om ’n stukkie growwe kos in te kry. Vervang botterskorsiepuree met gaar vingers wat jou baba self kan eet.

Skil die botterskorsie af en stoom dit net so heel. Toets dit met ’n mes en as dit sag genoeg is, kan jy ’n paar vingers afsny, dit laat afkoel en vir jou baba gee.

Murgpampoentjies is ook ’n ideale handjiekos wat jy heel, skil en al, kan stoom en net die punte afsny voor jy dit vir jou baba gee.

BROODVINGERS EN PASTAVORMS

Die meeste ma’s dink dalk dat ’n sagte witbroodjie die beste werk vir ’n sagte babatjie. Witbrood is egter geneig om ’n kluitjie te vorm wat moeilik is om te kou en te sluk. ’n Stukkie growwe brood soos ’n swaar bruin- of saadbroodjie met ’n growwe tekstuur en wat maklik krummel, werk ideaal.

Pastavormpies met krulle en draaie is ook lekker handjiekos. Kook dit sag en gee vir jou baba om net so te eet.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees