My baba slaap nie deur die nag nie

My baba is nou ’n maand oud. Wanneer hy saans klaar gevoed het, raak hy maklik aan die slaap – maar dan skrik hy nog minstens 2 keer in die nag wakker. Van wanneer af behoort ’n baba deur te slaap? Wat kan ek doen om hom te laat deurslaap? 

Daar is geen vaste reël oor wanneer ’n baba moet deurslaap nie. Pasgebore babas ken nog nie die verskil tussen dag en nag nie en hul klein magies kan nie genoeg bors- of formulemelk hou om hulle vir ’n lang tyd versadig te laat voel nie. Hulle moet elke paar uur gevoed word.

Ná 6 maande kan ’n baba wel begin deurslaap. Dis belangrik om te besef slaap is nie een ononderbroke staat van onbewustheid nie. Dis ’n siklus van diep en ligte slaap en daar’s ’n fase waarin ons droom. Tussendeur is ons vir ’n kort rukkie wakker, net om weer om te draai en verder te slaap.

Dieselfde geld vir babas en kleuters, maar hul slaapsiklusse is korter (ongeveer 45 minute). ’n Mens moet van vroeg af seker maak jou baba leer om saans self aan die slaap te raak, ook wanneer hy in die nag wakker skrik. Dit is ’n aangeleerde gedragspatroon.

Babas het iets nodig wat hulle met wegdommel verbind. As daardie iets mamma se lyf of bors is, gaan dit vir jou probleme en beslis ’n onderbroke nagrus veroorsaak. Elke keer wanneer ’n baba in die nag wakker word, soek hy daardie voorwerp om hom weer te laat slaap, en babas word snags baie wakker.

’n Goeie slaper raak net so dikwels wakker soos ’n slegte slaper, maar hy is in staat om self weer aan die slaap te raak.

Babas moenie te veel of gereeld aan die slaap gesus word nie. Sorg dat sy magie vol en die winde uitgevryf is en lê hom van heel vroeg af neer om self aan die slaap te raak.

Leer jou baba om homself te troos wanneer hy wakker skrik. Gee hom ’n fopspeen, ’n sagte speelding of ’n spesiale kombersie as troosmiddel.

Sy vat baie lank om aan die slaap te raak

Ons babadogter van 18 maande sukkel baie om saans aan die slaap te raak. Dis ’n vreeslike geskree en gesukkel en ek en my man stoei elke aand meer as ’n uur om haar aan die slaap te kry. Wat nou gemaak?

Die lyk asof julle nog nie ’n vaste slaaptydroetine vir jul dogtertjie gevestig het nie. Peuters het roetine nodig om veilig te voel en te weet binne watter grense hulle moet bly.

’n Mens kan op 8 weke al met die vestiging van ’n slaaptydroetine begin. ’n Vaste patroon elke aand gee baba standvastigheid en help haar om te ontspan – en ’n ontspanne baba raak baie makliker aan die slaap.

Die spesifieke ritueel gaan dit ook makliker maak vir jou baba om op ’n vreemde plek aan die slaap te raak.

Kinders verskil en wat vir een kind werk, is dalk nie vir die volgende een die ideaal nie. Eksperimenteer tot jy die ideale roetine kry.

  • Begin ’n uur voor slaaptyd al rustig word saam met jou kind. Berei haar voor dat dit byna slaaptyd is. Moet egter nie sê dis amper tyd om te gaan slaap nie, eerder: Oor 15 minute is dit tyd vir jou bad, of storie.
  • Die beste raad bly waarskynlik ’n warm, ontspannende bad net voor slaaptyd. ’n Paar druppels laventelolie of kamille in die badwater is ook baie ontspannend.
  • Kleuters is versot op stories. Vertel ’n slaaptydstorie of lees vir haar voor uit ’n boek. So prikkel jy haar belangstelling in lees, wat ’n groot bonus vir enige kind is.
  • Troetel jou peuter, masseer haar lyfie en gee baie liefde. Vermy opgewonde speletjies voor slaaptyd.
  • Sing ’n wiegelied. Geslagte ouers voor ons kon tog nie verkeerd wees nie. Jy kan ook sagte, strelende musiek vir jou kind speel maar pas op dat dit haar nie stimuleer om wakker te bly eerder as dat dit haar aan die slaap sus nie.
  • Verdof die kamer met ’n flouer bedlampie.
  • Sit jou kind in haar bedjie en loop uit die kamer uit voor sy slaap. Sy moet self aan die slaap raak.
Dis belangrik om by jou roetine te hou. Dit sal dalk ’n rukkie duur voor dit gevestig is, maar byt vas en druk deur – dis in julle almal se belang.

Hy kan nie sonder sy bottel slaap nie

My kleuter van 3 weier om aan die slaap te raak sonder sy bottel, al is hy bedags al van die bottel gespeen. Ek het iewers gelees dit is sleg vir die kind se tande. Is dit so, en hoe kan ek hom sover kry om daarsonder aan die slaap te raak?

’n Kind van 3 jaar oud wat met slaaptyd bottel drink, gebruik die bottel as troosmiddel om makliker aan die slaap te raak. Dit het ’n diepgewortelde gewoonte geword. Om hom van die slaaptydbottel te speen, gaan nie maklik wees nie. Dit sal ook nodig wees om ’n plaasvervangende troosmiddel te kry.

Dis glad nie goed vir ouer babas en peuters om met ’n bottel in die mond aan die slaap te raak nie. Babas het van 7 of 8 maande reeds nie meer ’n voeding in die nag nodig nie.

Bababottel-tandbederf ontwikkel wanneer jy hom in die bed sit met ’n bottel melk of vrugtesap. Die suiker of vrugtesuiker in die vloeistof wat in die kind se mond bly, verander in suur vanweë bakterieë in die mond. Die suur vreet die kind sy tande, veral die boonste voortande, en dit lei tot tandbederf en kan ook skade aan sy permanente tande veroorsaak.

Staak dus onmiddellik die slaaptydbottel. Stel aan jou seuntjie voor julle “skenk” die bottel vir ’n vriendin met ’n nuwe baba wat dit nodig het, “vergeet” dit die naweek by ouma of laat die hond dit per abuis opvreet.

’n Vaste slaaptydroetine gaan beslis help om dinge vir hom makliker te maak. Gee hom iets anders om vas te hou terwyl hy slaap. ’n Groot, sagte speelding is ’n goeie keuse. Pak die ander speelgoed eers weg sodat hy hierdie speelding liefkry en dit aanvaar as sy troosmiddel wat hom help om van wakker wees na rustig slaap te beweeg.

Hier’s hulp

Solve Your Child’s Sleep Problems deur Richard Ferber (Fireside).
Sleeping Through the Night: How Infants, Toddlers, and Their Parents Can Get a Good Night’s Sleep Revised Edition deur Jodi A. Mindell (Collins),
Healthy Sleep Habits, Happy Child deur Marc Weissbluth (Ballantine Books).
Toddler Taming: A Parent’s Guide to the First Four Years deur Christopher Green (Vermilion).