DIE MEESTE BABAS begin hulle tussen vier en ses maande voorberei op tandekry en die eerste snytand (gewoonlik onder) behoort tussen ses en agt maande sy verskyning te maak. Dit wissel egter van kind tot kind.

Daarna volg die boonste snytande, die eerste kiestande (teen 14 maande) en daarna die oogtande.

Die tweede stel kiestande kom teen die tweede verjaardag uit en teen drie jaar oud behoort jou kind al sy 20 melktande te hê – agt sny-, vier oog- en agt kiestande, sê Monika Skokan van die babaproduk-maatskappy Mam.

Teen sowat ses jaar oud begin jou kind tande wissel. Dr. Colleen Forsberg van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Ortodontiste (Savo) beveel aan dat alle kinders op sewe of agt jaar klinies ondersoek word vir abnormaliteite.

“Hoewel net 10 tot 15 % van kinders vroeë ingryping nodig het, is dit belangrik om betyds te weet van probleme soos beklemde tande, permanente opvolg-tande wat nie daar
is nie, of ekstra tande wat die normale ontwikkeling van die gebit kan benadeel.”

As jou kind op 13 jaar oud nog babatande het, moet X-strale liefs geneem word.

Hoe lyk ’n baba wat tande kry?

Sommige babas seil sonder probleme deur tandekry, maar die meeste het minstens een tandjie wat moles maak en vir ander veroorsaak elke nuwe tand pyn en lyding. Baie ouers sal seker nie saamstem nie, maar pediaters is dit eens dat daar geen verband is tussen tandekry en kwale soos diarree, koors, naarheid of oorontsteking nie.

Tog is daar sekere onbetwiste gevolge van tandekry wat kan lei tot ander komplikasies.

• Seer vel en brandboudjies

Tandekry lei tot ’n oordadige gekwyl wat die vel op die ken en in die nek irriteer. Omdat die speeksel meer is as gewoonlik, is die ensieme daarin ook meer – en dit kan dan in die spysverteringstelsel beland en suurder, losser stoelgange tot gevolg hê, sê suster Alet van Heerden van die babaproduk-maatskappy Nuk. Die uiteinde: brandboudjies.

• Kiem-indringing

Babas wat tande kry is juis in daardie ontwikkelingsfase waar alles in die hand in die mond beland. Soms steek hulle ook dinge in hul mond om die tandvleispyn te verlig. Dit alles maak die kans groter dat kieme in die spysverteringstelsel beland.

• Rooi tandvleis en wange

Nóg ’n sigbare teken is rooi, opgehewe tandvleis waar die tand deurdruk en soms ’n blos op die wange as gevolg van ’n effens hoër liggaamstemperatuur wanneer die immuunstelsel infeksie beveg.

Hou enige koors goed dop om seker te maak dit word nie hoër nie – ’n hoë koors wat langer as 24 uur duur is doktersake, want ’n te hoë koors kan jou kind skade doen en het meestal ’n meer kommerwekkende oorsaak as tandekry.

• Slegte eetlus en slaappatroon

Ongemak in die kaak- en mondomgewing kan baba se slaappatroon deurmekaarkrap en sy eetlus ondermyn. Wees versigtig dat jy nie simptome soos koors en olikheid voor die voet aan tandekry toeskryf nie. Raadpleeg liewer die dokter as dit lyk of baba siek is; heel moontlik is iets anders verkeerd.

Tandekry is ’n natuurlike proses en net in uiterste gevalle is professionele ingryping nodig. Soms ontstaan ’n seldsame toestand wat erupsie-kieste genoem word, sê Colleen. Dis wanneer ’n bloedblasie vorm waar die tand probeer uitgroei. “Die tandarts kan dit maklik met ’n eenvoudige prosedure behandel.

Moenie self die blasie probeer oopsny nie, want dit kan maklik infeksie veroorsaak.”

Hoe jy kan help:

Die tandvleis is die grootste bron van ongerief en daarom help dit om die plekkie waar die tand uitkom, te masseer. Doen dit sommer met jou vinger of met ’n silikoon babatandeborsel.

Afwaartse bewegings bring verligting teen die tand wat boontoe druk. Gee jou baba iets hards en verkieslik koels om aan te kou. Sit tanderinge en fopspene in die yskas (nie die vrieskas nie); dit bring ook verligting.

Iets waaraan baba lank kan knaag werk ook goed, soos harde, suikervrye beskuit, gedroogde mango of ’n stuk biltong wat nie te souterig is nie. Maak net seker dat hy nie daaraan kan verstik nie en moet hom nooit alleen met hierdie vreemde, nuwe kos los nie.

Nog ’n goeie plan is koue vloeistof of koue fyngedrukte vrugte. Sommige ouers laat hul babas aan ’n koue, skoon waslap kou en suig.

• Medisyne, kruie en boererate

Tandekry is nie ’n siekte nie en medisyne is dus nie regtig nodig nie. Vermy liewer pynstillers en verdoofmiddels, is Colleen se raad. “Dit vertraag die groei van tande en rek die probleem net uit. Die ligte koors wat soms met tandekry gepaardgaan regverdig meestal nie koorswerende middels nie.”

As jou baba regtig swaarkry kan jy een van die verskeie jels of poeiers op die mark beproef. Smeer dit aan die tandvleis; dis antibakteries en verdoof die seer plekkies ’n bietjie. ’n Parasetamol-stroop kan die pynervaring verminder, terwyl homeopatiese middels die liggaam stimuleer om sy eie pynverligting te produseer.

Daar is natuurlik allerlei boererate en tradisionele wyshede en elke gesin het sy eie kuur vir tandekry. So bevat naeltjieolie, natuurlike soethout en vinkel (familie van soethout) glo verwarmende, verdowende eienskappe en kan ’n klein bietjie aan seer tandvleisies gesmeer word.

Die meeste produkte, chemies of natuurlik, bevat egter aktiewe bestanddele en moenie ingesluk word nie – wat jy moeilik kan beheer in die geval van ’n klein babatjie. Moet dus nie sommer enigiets aanwend nie en wees uiters spaarsaam as jy dit wel doen. Praat liefs eers met jou tandarts of dokter daaroor.Moet nooit vir jou baba alkohol soos brandewyn gee nie.

• Versorg melktande so

Dit is baie belangrik om nie die versorging van melktande af te skeep nie. As iets met die melktande verkeerd loop, soos dat dit te vroeg uitval of uitgehaal moet word, kan dit spraak-, eet en spasieprobleme veroorsaak, sê dr. Annaleen Venter, ’n tandarts.

Melktande wat tandbederf kry en absesse in die been rondom die tand vorm, kan die permanente tand wat onder sit en wag om uit te kom, skade doen. Dit kan dan vlekke kry of misvorm word.

Een van die grootste oorsake van melktandbederf is dat kinders met ’n bottel melk of sap aan die slaap raak en die tandjies dan vir lang rukke in aanraking met die suikerryke vloeistof bly. Annaleen beveel aan dat jy melktande twee keer per dag skoonmaak met ’n sagte baba-tandeborsel.

“Tandepasta moet ouderdomsgeskik wees, maar gebruik baie min. Te veel én te min fluoried is skadelik en ’n kind onder vier kan nog nie spoeg as jy hom aansê om dit te doen nie.” Help maar met die tandeborselry tot jou kind so ses jaar oud is, is Annaleen se raad.

Jy kan ook plaakverklikpille of -vloeistof inspan om jou kind te leer kyk of sy tande skoon is, voeg Colleen by.

Ekstra bronne Faure, M en Richardson, A. Koester jou baba. Metz Press, 2002. Dankie ook aan dr. Kobus du Toit, tandarts, vir sy hulp met dié artikel.