Hoe gemaak met 'n vroeggebore baba?

akkreditasie
Hoe maak 'n mens met 'n baba wat maande voor die tyd gebore word? Hier's ons blitsgids.

Voltermynbabas word tussen 37 en 42 weke gebore. Babas onder 37 weke is vroeggebore (prematuur)
en word volgens geboortegewig in drie groepe gedeel:

  • Lae geboortegewigbabas (LG) wat tussen 1500g en 2500g weeg en tussen 32 en 37 weke gebore word,
  • Baie lae geboortegewigbabas (BLG) wat tussen 1000g en 1500g weeg en tussen 28 en 32 weke gebore word,
  • Ekstreme lae geboortegewig (ELG) onder 1000g wat tussen 24 en 28 weke gebore word.

Redes vir vroeë geboorte:

  • Die vrugwater lek of die vliese skeur te vroeg en geboorte is onvermydelik
  • Die ma ontwikkel ’n buitengewone hoë bloeddruk (preëklampsie), wat nie beheer kan word nie en haar en die baba se lewe is in gevaar stel.
  • Baba kan nie verder ontwikkel weens ’n plasenta wat nie meer werk nie.
  • Die plasenta lê onder die baba en versper moontlik die baarmoederopening.
  • Die baarmoeder kan die ongebore baba nie meer dra nie.
  • Daar’s ’n moontlikheid van ernstige infeksie of siekte by die mamma.
  • Die fetus groei nie meer na wense nie.
  • Die Rhesus-faktor is teenwoordig. Dis wanneer Rh-positiewe en Rhnegatiewe bloed by mamma en baba onversoenbaar is.
  • Twee- of meerlinge word gereeld vroeg gebore.
  • Tweeling-tot-tweeling-transfusiesindroom is wanneer een van ’n identiese tweeling meer bloed uit die plasenta kry en die ander een te min, wat sterfte teweeg kan bring.
  • Ondervoeding veroorsaak dat ma se liggaam die baba nie meer kan ondersteun nie.
  • Hoëprofielberoepe met uitermate stres, kan veroorsaak dat die ma se emosionele spanning in ’n liggaamlike probleem omgesit word en vroeë geboorte meebring.

Gaan my baba oorleef?

Gelukkig het die mediese wetenskap al so ver gevorder dat selfs probleemswangerskappe wat in die oue dae selfs sou termineer, nie meer noodwendig so sal eindig nie en ook daardie babas het ’n al groter kans op oorlewing.

Babas ouer as 24 weke en met ’n minimumgewig van 450g het wel ’n kans op oorlewing en ná 30 weke is die kans al hoe groter. By babatjies onder 30 weke en met ’n gewig laer as 1,2kg – 1,5kg kan
meer beduidende probleme en moontlik siektes verwag word.

Neonatale intensiewe sorg

Omdat vroeggebore babas nog nie so ver soos voltermynbabas ontwikkel is nie, word hulle in ’n neonatale intensiewe sorgeenheid opgeneem. Die broeikas vergroot hulle kans op oorlewing, want die
lugsuiwerheid en babas se lewensfunksies word daarin gemonitor.

’n Baba se velletjie is voor 30 weke ontsettend dun. Water kan maklik daardeur dring. Die sorgpersoneel moet seker maak dat so min moontlik vog van die baba se liggaam verdamp om ontwatering te voorkom en die liggaamstemperatuur optimaal en stabiel te hou.

Gaan my baba komplikasies oorhou?

Baie vroeggebore babas hou geen komplikasies oor nie en kan normaal groei en ontwikkel, hoewel dalk aanvanklik stadiger. Vroeggebore babas is egter meer vatbaar vir hart-, long- en spysverteringstelselprobleme, sowel as onderontwikkelde senuweestelsels. Infeksie, en stadige groei
en ontwikkeling kan bykomende komplikasies wees.

Moontlike komplikasies in die NISE

  • Apnee: jou baba hou vir 20 sekondes of langer op om asem te haal – dikwels terwyl hulle slaap. Teen sy verwagte geboortedatum behoort sy asemhaling te stabiliseer.
  • Bradikardie: jou baba se hartklop raak stadiger. Moontlik te wyte aan apnee of infeksie of longontsteking.
  • Retinopatie: nuwe bloedvate word in jou baba se retina gevorm, moontlik as gevolg van te veel suurstof in die bloed. Dit kan lei tot oogskade, babas in NISE moet hiervoor getoets word.
  • Gehoorprobleme: jou baba mag oorinfeksies of selfs gehoorverlies opdoen. Verwaarloosde middeloorontsteking kan tot doofheid lei.
  • Longprobleme en -siektes: jou baba se longe is nog onderontwikkel en mag sukkel om die oorskakeling te maak van voggevulde longe wat suurstof uit die plasenta kry tot selffunksionerende organe wat suurstof uit die atmosfeer inasem. Lugwegontstekings kan volg, maar ook langtermynlongprobleme.
  • Spysverteringsprobleme: refluks kom algemeen voor omdat babas se slukdermspiertjies nog nie sterk genoeg is om al die voedinginnames te hanteer nie. Jou baba mag dalk ook hardlywig wees omdat haar dermstelsel onderontwikkel is. Sou jy borsmelk kan uitmelk, sal dit jou baba help, want dit bevat ’n natuurlike lakseermiddel.
  • Breuke: liesbreuke of naelbreuke kom soms voor. Naelbreuke herstel self teen 2-jarige ouderdom en liesbreuke moet chirurgies herstel word.
  • Breinbloeding: Vroeë babas se wisselvallige bloeddruk en stadige of foutiewe bloedstolling kan bloeding op die brein tot gevolg hê. Moontlike latere komplikasies
  • Serebrale parese: ’n breinbesering voor, gedurende of ná geboorte kan gestremdheid veroorsaak. Dit beïnvloed spiertonus en –beweging. Diagnose kan dikwels eers tussen 12 en 18 maande gemaak word.
  • Motoriese probleme: jou baba mag sy mylpale later haal as voltermynbabas en dit kan die pas van haar fyn motoriese ontwikkeling beïnvloed. Moenie oorangstig wees nie, gee hom/ haar die eerste twee lewensjare om in te haal.
  • Sensoriese probleme: jou baba se sintuie is heeltemal te vroeg aan die buitewêreld blootgestel en haar sensoriese ervarings moet dus met sorg hanteer word: gedempte lig en klank, en sagte, strelende aanraking. Oorstimulasie deur middel van aanraking kan tasdefensiwiteit veroorsaak, waar oormatige blootstelling aan klank weer tot slaapprobleme kan lei en algemene rus welsyn kan versteur.

Wat kan ek doen?

OM HAAR WÊRELD SO GEMAKLIK MOONTLIK TE MAAK?

Een woord: kangeroesorg. Nabye kontak, veral nadat jou baba die sekuriteit van jou baarmoeder
prematuur vir die NISE verruil het, is van kardinale belang. Volgens navorsing is kangeroestylbabas
minder vatbaar vir infeksie, herstel vinniger en bind beter met die ma.

OM HAAR TEEN SIEKTES TE BESKERM?

Werk so higiënies as moontlik en maak seker dat almal wat die baba by die huis hanteer hulle hande
voor hantering was. Jou baba is broser as ’n voltermynbaba, maar moenie anders behandel word nie.
Aanraking is die grootste genesing. Sorg egter dat geen siek mense jou baba binne die eerste ses maande besoek nie.

HAAR DIE VOLLE VOORDEEL VAN GOEIE SLAAP TE GEE?

Probeer om ’n roetine te vestig. Dis ’n uitdaging, maar slaap is goeie stimulasie vir groei en ontwikkeling.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees