Hoe jou pasgeborene groei

akkreditasie
Alles wat jy moet weet oor jou nuwe baba se ontwikkeling en groei in die eerste 6 weke.

Vanaf die heel eerste dag sal jy moet begin rekord hou van jou baba se gewig, lengte en kopgrootte omdat dit alles aanduidings is van algemene gesondheid.

Babas wat goed vorder is in die algemeen gesond, terwyl swak groei ‘n teken kan wees dat daar iewers fout is.

Wat nuwe babas weeg

Net soos volwassenes, kom nuwe babas in ‘n verskeidenheid groottes te voorskyn. Die meeste voltermynbabas (gebore tussen weke 37 en 40) weeg iewers tussen 2 812 gram en 4 173 gram. Hul gemiddelde lengte is tussen 48 cm en 53 cm.

‘n Nuwe baba wat nie in die gemiddeldes val nie, maar ligter of swaarder is, is waarskynlik ook piekfyn, maar sal na geboorte ‘n bietjie ekstra aandag kry net om seker te wees dat daar nie probleme is nie.

Baie dinge kan ‘n rol speel in wat jou baba se gewig met geboorte gaan wees. Die duur van die swangerskap is belangrik. Babas wat op die verwagte datum gebore word of later, is geneig om groter te wees as babas wat vroeër kom. Babas wat prematuur is, is ook gewoonlik kleiner as voltermynbabas.

Jou nuwe baba sal gewig verloor

‘n Nuwe baba kan tot 10 % van haar geboortegewig verloor in die dae net na die geboorte. Dit is omdat sy meer kos nodig het as wat sy aanvanklik kan inneem. Dit behoort egter nie meer as tien dae te neem vir haar om weer haar geboortegewig te bereik nie en dan sal sy ook begin gewig aansit.

‘n Gemiddelde gewigtoename is ongeveer 150 tot 170 gram per week, maar dit is belangrik om te onthou dat hierdie net ‘n gemiddelde is – alle babas verskil.

By elke ondersoek sal jou baba geweeg word, en haar lengte en kopomtrek sal ook nagegaan word om te sien of dit binne die tipiese gewigtoename en groeipatrone val. Die resultate word op jou baba se Pad na Gesondheid-kaart aangebring, en jy sal kan sien of haar vordering bo of onder die tipiese groeipatroon val.

In gesprek oor jou nuwe baba se gewigtoename sal jou pediater vra hoe gereeld jou baba nat en vol doeke produseer. Jy sal ook gevra word hoeveel voedings jou baba per dag inneem. Jou doel is om seker te maak dat jou baba deurlopend toeneem in gewig.

Raadpleeg jou gesondheidsorggewer as jou baba nie goed voed nie, lyk of sy nie gewig aansit nie en jy versekering nodig het dat sy wel normaal groei.

Moenie dat onsekerheid jou van die baan af gooi wat jou voedingsroetine betref nie (veral as jy borsvoed). Dit is die tyd wanneer baie nuwe ma’s formulemelk begin bekend stel, maar dit kan heeltemal onnodig wees om oor te gaan tot hierdie stap.

Gids tot gewigtoename

Babas wat geborsvoed word en babas wat formulemelk kry, groei in verskillende tempo’s. Oor die algemeen is borsbabas ‘n bietjie minder vet.

Hier is ‘n gids tot die groei van borsbabas in die eerste lewensjaar:

Eerste maand: Gewigtoename van 112 tot 200 gram per week
Maand 2 - 6: ‘n Gemiddelde van 0,5 tot 1 kg per maand vir die eerste ses maande
Maand 6 - 12: ‘n Gemiddelde van 0,5 kg per maand vanaf ses maande tot ‘n jaar

Stadige gewigtoename - wat beteken dit?

Soms sal ‘n perfek gesonde baba stadig gewig aansit omdat dit haar unieke groeipatroon is. In ander gevalle is daar ‘n probleem wat tot die stadige toename lei. As jou baba nie gewig aansit volgens sekere patrone nie, behoort jy jou dokter te raadpleeg.

Om uit te vind of die stadige toename jou baba se natuurlik groeipatroon is, en of dit deur iets anders veroorsaak word, sal jy baie vrae moet beantwoord oor jou en jou baba.

Die meeste gewigkwessies kan opgelos word en voeding kan geskied met die regte sorg. Die eerste stap is om vas te stel of jou kind van nature stadig optel, en of daar ‘n onderliggende probleem is:

Natuurlike stadige groeier:

  • Sit deurlopend maar stadig gewig aan
  • Bly op ‘n groeikurwe
  • Neem toe in lengte en kopomtrek volgens tipiese groeipatrone
  • Word vanself wakker en wil tussen 8 en 12 keer in 24 uur borsvoed
  • Produseer ewe veel nat en droë doeke as ‘n baba wat vinniger groei

‘n Probleem met gewigtoename word aangedui wanneer:

  • Jou baba nie teen die vierde of vyfde dag ten minste 15 g per dag aansit nie
  • Sy nie binne twee tot drie weke weer haar geboortegewig bereik het nie
  • Sy nie ten minste 454 gram per maand in die eerste vier maande aansit nie (gemeet vanaf laagste gewig, nie haar geboortegewig nie)
  • Sy ‘n dramatiese afname in haar groeikoers (gewig, lengte en kopomtrek) toon wat verskil van die kurwe waarop sy was.

Groeiversnellings

Net soos jy begin gewoond raak aan jou baba se voedingsroetine, gaan sy deur ’n groeiversnelling wat alles verander!

Tipies vind die groeiversnellings plaas tussen 1 en 3 weke. Jy sal merk dat jou baba meer dikwels wil voed, en honger voorkom, al het sy pas gevoed. Moenie jou daaroor kwel dat jy nie genoeg voed nie. Hierdie is ’n teken van gesonde ontwikkeling.

Jou baba se belangrikste werk is om groter te word, en dit is presies waarop die groeiversnelling
dui.

Gedurende hierdie tyd sal jy oplet dat jou baba se slaapskedule verander omdat sy wakker word om meer te voed. Sy kan ook knieserig voorkom.

Hierdie tyd kan vir jou baie uitputtend wees, veral as jy borsvoed. Maak dus seker jy drink genoeg water en vra jou man of ma om in die huis te help as jy moeg begin voel.

Groeiversnellings geskied ook op 3 maande en 9 maande.

Baba se temperament

  • Rustige, kalm babas verbrand minder kalorieë en sit dus gouer gewig aan.
  • Aktiewe babas wat altyd opgewonde is verbrand meer kalorieë en is geneig om maerder te wees.
  • Die frekwensie van borsvoeding beïnvloed groei. Babas wat op aanvraag borsvoed soveel as wat hulle wil, is geneig om beter te groei.
  • Pasgeborenes wat saam met hul ma in die bed slaap en snags rustig sonder onderbreking kan voed, is geneig om vinniger te groei.
  • Babas wat ‘afgerig’ word (waar babas gedwing word om op skedule te voed en te slaap deur huilmetodes) se groei kan vertraag word. Babas wat geborsvoed word volgens roetines wat deur die ouers afgedwing word, sal waarskynlik minder melk kry en die borsmelk sal minder vet en kalorieë bevat weens die langer tussenposes tussen voedings.
Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees