Hoe moedig ek binding aan?

akkreditasie
Jou band met jou baba is haar lewensanker en die sleutel tot haar gesonde sosiale, emosionele, intellekteule en fisieke ontwikkeling.

1. Sien om na jouself

Babas kommunikeer doeltreffend wanneer hulle wakker en rustig is – jy ook. Dis soms baie moeilik, maar uiters belangrik dat jy as eerste stap om ’n veilige band met jou baba te bou, na jouself omsien. Slaapontneming ontaard in prikkelbaarheid en humeurigheid, wat geen gesonde verhouding kan aanmoedig nie. Probeer om genoeg te slaap.

Neem jou kans waar wanneer jou baba slaap. Vra hulp in en om die huis, of stel iemand aan as jy dit kan bekostig. Neem in ag dat dit baie veeleisend kan wees om na ’n pasgeborene te om te sien.

Probeer om een keer per week vir ’n uur weg te breek en koffie te gaan drink, joga te doen of iets aan te pak wat jou sal help om jou batterye te herlaai sodat jy jou taak met nuwe ywer en energie kan aanpak. Neem gereeld vars lug in deur met jou baba te gaan stap. Dit sal jou spanning verminder en jou baba sus.

2. Leer jou baba se tekens ken en reageer onmiddelik daarop

Ouers met meer as een kind sal jou vertel dat daar geen towerformule is om jou baba te leer verstaan nie. Elke baba is uniek en het ’n eie persoonlikheid en senuweestelsel.

Party babas word deur geraas gerusgestel terwyl ander dit ondraaglik vind. Jy gaan moet beproef wat vir jou baba werk en leer waarop sy positief reageer, sodat jy aan haar behoeftes kan voldoen.

3. Eet- en slaaptyd is belangrike bindingsgeleenthede: borsvoed, borsvoed, borsvoed!

Moet nooit die krag van borsvoeding onderskat nie. Nie net bied dit jou kind die beste moontlike voeding nie, dit bied jou ook die geleentheid om haar te koester en haar honger na aanraking en veiligheid te bevredig.

Dis ’n geleentheid om met haar te kommunikeer (sy gesels met haar gesiggie en borsvoeding gee jou genoeg tyd om oog-tot-oog-kontak te maak en haar uitdrukkings te leer ken) en selfs haar intellek te stimuleer.

As jy ’n besige, werkende ma is, word binding aangehelp as jy snags naby jou baba slaap. Dit verlig ook haar skeidingsangs en maak slaap vir haar ontspannend, lekker en vreesloos, soos dit hoort. Herinner jou net gereeld daaraan dat dit normaal is dat babas in die nag wakker word omdat hulle voeding en aandag nodig het.

4. Praat, lag en speel met jou baba

Lag, aanraking en interaksie wat julle albei geniet is net so belangrik vir jou baba se ontwikkeling soos kos of slaap. Jou liggaamstaal, stemtoon en die liefdevolle manier waarop jy haar vashou, is alles maniere om met jou baba te kommunikeer.

Navorsing het gewys dat ’n ma se stem noodsaaklik is om haar baba se brein te aktiveer. Sing of gesels soveel jy kan. Vel-teen-vel-aanraking net ná geboorte maak jou en jou baba rustig en skei goedvoelhormone af wat binding aanhelp.

Volgehoue direkte aanraking in jou baba se eerste lewensjaar (met die hulp van iets soos ’n babadrasak) is ’n sensoriese stimulant wat jou baba se breinontwikkeling optimaal bevorder en gedragspatrone van empatie en vredeliewendheid vestig. Sommige babas (veral vroeggeborenes) reageer baie goed op babamasserings.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees