Hoekom huil hy?

akkreditasie
Waar daar ’n nuwe baba is, is daar gewoonlik ook ’n vreeslike gehuil. Harder as wat jy ooit gedink het moontlik is. Babas huil gemiddeld 3 uur per dag en party laat waai nog baie langer as dit. Gelukkig het al die trane meestal ’n eenvoudige oorsaak en oplossing. Ons bekyk die 10 algemeenste redes waarom babas huil.

Dis iets wat elke nuwe ma ’n honderd keer hoor: Huil is die enigste manier waarop jou baba jou kan vertel hoe hy voel en wat hy nodig het. Maar selfs al weet jy dit, bly dit senutergend as die klein aapstert se trane spat en jy nie verstaan hoekom nie.

Sommige kenners beweer ’n mens kan jou baba se huil “lees”, maar verskeie studies het gewys kinderartse, ma’s en oppassers kan meestal nie onderskei tussen babas se verskillende huilklanke nie.

Tog, namate jy jou kleinding beter leer ken en julle ’n roetine van jul eie ontwikkel, sal jy ál beter kan aflei wat sy nodig het en hoe jy haar kan kalmeer.

Die meeste pasgeborenes huil tussen 1 en 3 uur elke dag en sommige babas huil heelwat meer as ander. As jy ’n huilbalie het, troos jou daaraan dat hierdie tyd betreklik vinnig verbygaan.

1. Ek is honger

’n Pasgebore baba se grootste behoefte is voeding en die meeste ma’s bied instinktief heel eerste die bors of bottel aan. Tekens dat jou baba dors is sluit in dat hy sy mondjie na sy wang draai sodra jy daaraan raak, dat hy knieserig is, smakgeluidjies met sy lippe maak of sy handjies suig.

Hou in gedagte dat babas nie altyd honger is nie, maar dalk net ’n behoefte aan suig het. Kyk dus eers of die foppie help. Suig is ’n refleks en kan jou baba help ontspan.

Hoewel dit beter is om jou baba op aanvraag te voed as volgens ’n vaste skedule, moet jy daarteen waak om jou baba elke kort-kort net ’n bietjie te voed. Dit kan gebeur dat baba dan nooit by die meer voedsame agtermelk uitkom nie, maar net die dunner eerste melk inkry wat sy dors les. Sy magie raak dus vol, maar hy bly honger.

’n Pasgebore baba drink gewoonlik ongeveer elke 2 uur en daarna rek dit geleidelik na sowat 3 tot 4 uur tussen voedings. Moenie wag tot jou baba hard huil van die honger nie, voed hom liewer sodra hy knieserig word.

2. My doek is vuil/nat

Sommige babas is meer sensitief vir ’n nat of vuil doek as ander. Party word dadelik knieserig en huil as hul doek nat is, terwyl ander ure lank met ’n vuil doek sal lê sonder om te kla.

Kyk altyd hoe ’n huilende baba se doek lyk, al het jy dit kort tevore omgeruil. ’n Baba kan skaars ’n minuut later weer ’n vuil doek hê! Ruil die doek voor hy brandboudjies ontwikkel.

3. Ek het ’n wind

As jou baba kort ná ’n voeding huil, sit ’n ongemaklike windjie waarskynlik iewers vas. Laat hom teen jou skouer lê en vryf met ferm bewegings opwaarts of tik-tik ferm, maar nie hard nie, op sy ruggie tot die windjie uitkom.

4. Iets pla my

Jou baba kan huil bloot omdat sy doek te styf sit, iets hom skaaf of ’n klere-etiket hom krap. Gaan sy klere deur om seker te maak niks hinder hom nie.

5. Ek kry te warm of koud

Nes jy ongemaklik voel as jy nie reg vir die weer aangetrek is nie, sal jou baba kla as hy te warm of koud kry. Pasgeborenes beweeg nie juis rond nie en kry boonop makliker koud as grootmense. Hulle verloor ook maklik hitte deur hul kop.

Die aanbeveling is gewoonlik dat jou baba een lagie klere meer as jy moet aanhê. Waak daarteen om baba te warm aan te trek. As hy sweet, kry hy te warm. Voel jou baba se temperatuur op sy magie of agter sy nek; moenie sy hande of voete as maatstaf gebruik nie.

Moenie baba onder ’n duvet laat slaap nie, want dit vergroot die risiko vir wiegiedood. Jou baba moet nooit met ’n warmwatersak of elektriese kombers slaap nie.

6. Ek is vaak

As jou baba reeds vroeër sy koppie van kant tot kant beweeg en jou met druipende ooglede aangekyk het, is sy gehuil waarskynlik ’n teken van moegheid. Die beste is om gou hierop te reageer voor baba oormoeg is en in trane uitbars. ’n Baba wat oormoeg is baklei dikwels huilend teen die slaap.

Dit kan help om jou baba nou styf vas te draai in ’n kombersie en hom ferm heen en weer te wieg terwyl jy sjjj-geluide by sy oor maak.

7. Ek het stilte nodig

Pasgebore babas raak vinnig oorweldig deur te veel dinge in hul omgewing en ’n baba wat oorgestimuleer is, is gewoonlik ’n huilerige baba. Tekens dat jou baba oorweldig voel, is dat hy oogkontak vermy, sy koppie van jou af wegdraai of selfs begin hik.

Soms hoef jy hom net uit die oorstimulerende omgewing (baie mense, helder ligte, harde klanke of geraas) te neem en na ’n rustige, donker plek te verskuif.

As jou baba reeds kliphard skree, sal jy hom dalk moet kalmeer en selfs aan die slaap moet maak, wat natuurlik moeiliker as gewoonlik is omdat hy homself nie tot bedaring kan bring nie. Wit geraas soos ’n stofsuier wat ander klanke uitblok, kan help om baba te kalmeer omdat dit aan die baarmoeder herinner.

8. Ek soek jou by my

Babas floreer op aanraking, stimulasie en aandag, en soms sê jou baba se huil dat hy wil hê jy moet hom vashou. Sommige babas het ’n groter behoefte aan aanraking as ander. Moenie bang wees dat jy jou baba sal bederf deur hom in die eerste 6 maande op te tel as hy huil nie.

Praat met hom terwyl jy hom vashou, wieg hom en hou hom soms teen jou vel sodat hy jou kan ruik. Dit kan ook help om baba in ’n drasak rond te dra.

9. Ek het koliek

As jou baba laatmiddag of vroegaand sonder enige ooglopende rede sowat ’n uur lank huil, is die oorsaak waarskynlik koliek. Koliekbabas kan elke dag tot 3 uur lank ontroosbaar huil. Dit begin gewoonlik teen die tweede week en hou tot sowat 4 maande oud aan.

Dokters kan steeds nie regtig sê wat koliek veroorsaak nie, maar baie meen dit hou verband met maagkrampe en skryf middels daarvoor voor. As jy vermoed jou baba het koliek, bespreek dit met die pediater. Dit kan ook help om baba se magie te vryf, fietsrybewegings met sy beentjies te maak of hom te masseer.

10. Ek het pyn of is siek

As jou baba baie skril en anders as gewoonlik huil, kan hy siek wees of pyn hê. Neem sy koors; dis gewoonlik een van die eerste tekens dat iets fout is. Sy koors behoort nie hoër as 37,2 °C te wees nie. ’n Loopneusie en die ongemak wat daarmee gepaard gaan, kan jou baba ook huilerig maak.

Koors, moeilike asemhaling, diarree en braking is altyd rede tot kommer by pasgeborenes. Kontak jou dokter as jy enigsins onrustig voel, al is dit net ter wille van jou eie gemoedsrus.

Goue wenke

  • Reageer vroeër eerder as later. Hoewel ’n mens nie op elke geluidjie hoef te reageer nie, het navorsers gevind dat babas wat huil en opgetel word, gemiddeld minder huil as babas wat gelos word om te huil. Gee jou baba kans om op te hou huil en as dit nie gou gebeur nie, tel haar op.
  • Sing vir jou baba en dans met haar. Die wiegende beweging is vertroostend en so ook jou stem en teenwoordigheid.

As niks anders help nie

  • Gaan stap met baba in die stootwaentjie.
  • Dans met baba in jou arms terwyl jy vir haar sing.
  • Draai jou baba baie styf toe.
  • Bad jou baba saam met jou in die groot bad.
  • Gee haar vir iemand anders om te troos. Soms is jy so gespanne dat jou baba dit kan aanvoel.

As jy wil gek word

Moet nooit jou baba uit frustrasie skud nie, dis lewensgevaarlik. As jy voel jy kan nie meer nie, gee jou kleinding vir iemand anders. As niemand anders beskikbaar is nie, sit baba in sy bedjie, trek die deur toe, sit musiek hard op sodat jy hom nie kan hoor nie en loop ’n draai terwyl jy ’n paar keer baie diep asemhaal. Gaan ’n paar minute later terug na jou baba wanneer jy kalmer voel.

Huil-katoeter

Daar is ’n WhyCry-monitor op die mark wat daarop aanspraak maak dat dit kan bepaal hoekom jou baba huil. In hul reklame word met ’n suksessyfer van tussen 57% en 98% gespog. Die monitor is blykbaar geprogrammeer om verskillende toonhoogtes en patrone van huil te herken, dit te ontleed en dan as een van die volgende te klassifiseer: honger, verveeld, ongelukkig, vaak of gestres.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees