Hoekom moet sussie kruip?

akkreditasie
Thinkstock
Kruip beteken vir jou baba veel meer as om van punt A tot punt B te kom. Moedig dit dus aan! Ons vertel jou hoe.

1. Kruip help jou kleinding om ruimtelik bewus te word.  Ruimtelike bewustheid maak haar bewus van haarself in verhouding met mense en voorwerpe om haar. Dit help haar later om afstand te skat en dinge te doen soos legkaart bou of 'n motor parkeer. Dit vorm ook 'n sin vir rigting. Ontwikkel jou kind se ruimtelike bewustheid deur haar onder meubels deur te laat kruip of in en uit bokse te laat klim.

2. Dit help met groot motoriese vaardighede. Motoriese vaardighede behels die beplanning of aksie van spiere om 'n beweging te kan uitvoer. Ouer kinders kan byvoorbeeld 'n bal vang of tou spring sonder om eens daaroor te dink. Oefen groot motoriese vaardighede deur jou kind op haar magie te laat speel. Laat haar ook sonder jou ondersteuning sit, maar steun haar met 'n kussing en bly veiligheidsonthalwe naby.

3. Kruip is noodsaaklik om jou kind te leer om haar middellyn oor te steek en haar linker- en regterkant te integreer. Dit sal haar eendag help om te skryf, sport te doen en enige beweging uit te voer waar sy met haar hande of ledemate oorkruis moet kan werk. 

4. Kruip versterk die skouergordel, wat noodsaaklik is vir fyn motoriese vaardighede. Fyn motoriese vaardighede het te doen met die samewerking van die fyn spiertjies in jou kind se lyf en maak dit moontlik om te lees, om te blaai, klavier te speel en uit te knip. Oefen dit deur jou baba op haar maag of rug te laat lê en na speelgoed te laat reik.

5. Kruip sorg dat jou baba kardiovaskulêre oefening doen wat die hart, longe en diafragma versterk. 

6. Jou kind ontwikkel die vermoë om haar bene en bekken afsonderlik te beweeg sonder om haar hele rug te beweeg, asook om haar hele rug te beweeg. Dit help met groot motoriese vaardighede soos spring en bal skop. 

7. Kruip ontwikkel jou baba se fisie. Sy ontwikkel haar eksterne en interne oogspiere wanneer sy van die vloer af op na jou of na iets voor haar kyk omdat die afstand en lig verskil. 

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees