V&A: Is nagbottel nog nodig?

akkreditasie
My 13 maande oue babaseuntjie drink steeds een vol bottel melk in die middel van die nag. Ek dink nie dit is meer nodig nie, want hy eet bedags goed. Hoe kry ek hom van sy nagbottel af? 

Madaleen Schutte, dieetkundige, antwoord: 

Dis ’n vraag wat menige ma vra, en met goeie rede. Elke ma het ’n ander manier om hierdie situasie te hanteer. Uit ’n voedingsoogpunt is dit nie meer nodig om ’n nagbottel te gee nie, veral omdat hy bedags goed eet. Hoe dan gemaak?

’n Mens kan geleidelik die bottel kleiner maak of water gee vir ’n nag of twee en sy waterbottel daarna in die kot laat dat hy dit self kan vat. Ek weet dit gaan ’n geskree afgee, maar praat mooi met hom en verseker hom dat jy baie lief is vir hom, maar dat groot seuns nie meer in die nag bottel drink nie.

’n Nagbottel is baie keer net ’n troosvoorwerp, nie ’n noodsaaklikheid nie. Ek het my seuntjie tot op ’n jaar geborsvoed, ook in die nag. Toe hy een word, het ek die borsvoeding stop gesit en sommer ook die voeding in die nag. Daarna het ek bedags nog gewone koeimelk gegee, maar hy het met slaaptyd sy laaste bottel gedrink en die res van die nag geen bottel nie. Niks.

Vir sommige mense is dit te drasties, maar elkeen doen wat vir hulle as gesin werk. Daar is nie ’n regte of verkeerde manier om hom van sy nagbottel te speen nie, maar weet net hy het dit nie meer fisiologies nodig nie en die kans is goed dat hy beter sal slaap as hy eers die gewoonte afgeleer het. Sterkte!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees