Jou baba se emosionele intelligensie

akkreditasie
Help jou kind om lewensvaardighede te ontwikkel

Studies wys dat emosionele intelligensie ’n groter rol speel in jou kind se toekomstige sukses as sy IK. En anders as IK, is emosionele intelligensie iets wat jou kind kan aanleer.

Jy kan van dag een af die boustene begin lê wat hom sal help om eendag maats te maak, empatie te hê, probleme op te los, sy man teen boelies te staan, homself te laat geld, leierseienskappe te ontwikkel en die emosionele uitdagings van die moderne lewe te hanteer. Hier is hoe jy dit kan regkry.

Emosionele intelligensie kan na ’n vreemde begrip klink omdat intelligensie nie gewoonlik met gevoelens verbind word nie.

Doret Kirsten, ’n kliniese sielkundige by die Noordwes-universiteit, beskryf emosionele intelligensie as die vermoë om kennis oor jou eie en ander se emosies te gebruik om positiewe aanpassings aan jou omgewing te maak. So los jy ook probleme op en kan jy op jou beste funksioneer. As jy jou eie emosies kan lees en verstaan, kan jy dit reguleer en beheer.

Iemand wat baie slim is, kan byvoorbeeld ’n swak besluit neem omdat hy nie ander se gevoelens daaroor kan verstaan nie. Mense wat emosioneel intelligent is, is soms meer suksesvol, al is hulle nie slimmer as ander nie.

Emosionele intelligensie is ook ’n eienskap van goeie leiers.

In sy boek The New Leaders sê die Amerikaanse skrywer en sielkundige Daniel Goleman emosionele intelligensie behels vier eienskappe:

  • selfbewussyn
  • selfbestuur
  • sosiale bewustheid
  • verhoudingsbestuur

Selfbewussyn beteken dat jy jou eie emosies korrek kan lees, weet wat jou sterk en swak punte is en selfvertroue het.

Selfbestuur beteken weer dat jy jou emosies kan beheer, buigbaar is in veranderende omstandighede, optimisties is, jouself kan dryf tot hoër hoogtes en kan optree as geleenthede hulle voordoen.

Sosiale bewustheid beteken jy het empatie, kan onderstrominge en politiek in organisasies of groepe lees en is bereid om ’n diens te lewer.

Verhoudingsbestuur gaan oor hoe jy ander beïnvloed, konflik bestuur, verandering aan die gang sit, in ’n span werk en bande bou.

Daniel sê ook dat emosionele intelligensie nie noodwendig iets is waarmee ’n mens gebore word nie, maar wat jy kan aanleer. En jy kan nou reeds begin om jou baba dié vaardighede te leer.
Dit sal help dat hy eendag ander mense se emosies kan voorspel en sy eie emosies verstaan en reguleer – ’n wenresep vir suksesvolle interaksie met ander mense. Mense met ’n hoër emosionele intelligensie het warmer en hegter menseverhoudings en kan moeilike situasies beter hanteer, sê Doret.

Dink aan iemand wat ’n woede-uitbarsting het. Sodra hy beheer oor sy gevoelens verloor en begin skree en dalk selfs slaan, verloor mense hul dunk van hom.

Jou kind kan die sosiale aspekte van emosionele intelligensie (sosiale bewustheid en verhoudingsbestuur) eers van sy peutertyd af begin leer, maar eienskappe soos selfbewussyn en selfbestuur kan al van geboorte af geleer word.

Hier is hoe jy te werk gaan, sê Doret:

Herken en erken jou baba se emosies

Onthou dat baba nog nie uiting aan sy emosies kan gee deur taal nie. Let op na sy gesigsuitdrukkings, bewegings en huilery. Hy probeer daardeur vir jou sê hoe hy voel en wat sy emosie is.

’n Baba wat gelos word om te huil, leer van jongs af dat sy behoeftes of emosies nie belangrik is nie. Erken dat jou baba emosies en behoeftes het, voorsien dan in daardie behoeftes en probeer sy emosies verstaan.

Seuntjies word dikwels in later jare emosioneel onderdruk. Hulle word geleer dat hulle nie mag huil nie en altyd sterk moet wees en nie seer mag kry of hartseer word nie. Moenie jou kind, veral seuntjie, van sy emosies ontneem deur sulke naamborde om sy nek te hang nie. Versterk liewer sy emosies sodat hy ander se emosies beter kan verstaan, en ook kan verstaan hoekom hy so voel.

Begin by jouself

Babas kan van 9 maande af hul ouers se emosies in gesigsuitdrukkings akkuraat lees. Jou baba sal deur jou hantering van jou emosies leer hoe om sy eie emosies te hanteer.

As jy probleme met uitbarstings en onbeheerste optrede benader, sal jou kind jou waarskynlik eendag na-aap. Dink net hoe vinnig kinders taal aanleer – en dieselfde geld gedrag.

As jy ’n gejaagde oomblik beleef waarin jy nie weet hoe jy alles gedoen gaan kry nie, onthou dat jou baba jou onderliggende spanning kan aanvoel. Wys hom hoe jy die situasie hanteer deur vir twee minute stil te sit en te sê hoe jy voel.

Sê iets soos “Ek voel gejaag en ek is bang dat ek nie alles gedoen kan kry nie, maar ek gaan diep asemhaal en elke ding een vir een aanpak”, terwyl jy vir baba glimlag. Stel vir jou baba van geboorte af ’n emosionele intelligente voorbeeld.

Skep ’n emosioneel veilige omgewing

Sus jou kind, raak hom aan, praat met hom en wys ook deur jou gesigsuitdrukking dat dit vir jou lekker is om by hom te wees.

As jy by hom is, voel jy geluk.

En al is hy nog ’n baba, kan jy nou al vir hom die name van emosies leer. Sommige mense huil wanneer hulle kwaad is; tog word huil met hartseer verbind. Leer hom om nie een emosie in ’n ander te verskuil nie, soos om te huil wanneer hy eintlik kwaad is nie.

Beskryf die emosie

Sê vir jou baba watter emosie jy op sy gesig sien. So leer hy om sy eie emosies te verwoord wanneer hy eendag kan praat en sal hy homself beter kan uitdruk.

As hy begin lag en opgewonde raak wanneer hy vir ouma sien, sê “Jy is gelukkig om vir ouma te sien, kyk hoe lag jy”, of “dit maak jou opgewonde as ouma kom kuier want jy waai jou armpies”.

In moeilike situasies kan jy liewer probeer om vir baba die emosie te verwoord as om mense wat jou kwaad maak sleg te sê. Pleks van te sê iemand is ’n idioot, kan jy sê hy is kwaad.

Moenie jou baba se emosionele intelligensie pootjie nie

Emosionele intelligensie word gekelder deur ouers wat self nie emosioneel intelligent is nie. Baba leer deur jou voorbeeld en aap jou gedrag na.

’n Omgewing waar daar emosionele, fisieke of verbale mishandeling is, versmoor die aanleer van emosionele intelligensie. Sulke omstandighede is afbrekend vir volwassenes en des te meer vir babas en kinders. Dis ook omgewings waar respek vir ander se emosies ontbreek.

Praktiese dinge wat jy kan doen

  • Druk en soen jou baba en vertel hom jy dink hy’s oulik en mooi. So leer hy dat jy hom respekteer, sy emosies in ag neem en hom as medemens erken. Onthou, wat jy insit is wat jy uitkry. As jy hom as oulik en liefdevol beskou, gaan jy ’n oulike en liefdevolle baba kry.
  • Wys hom prentjies van emosies. Of sing liedjies waarin emosies sterk na vore kom en maak die gesigsuitdrukkings van die emosies in die liedjie na. Dit leer hom wat gevoelens is, wanneer jy watter emosie voel en hoe om toepaslik daarop te reageer.
  • Oefen emosionele intelligensie in jou huis deur vir hom te wys hoe jy emosioneel gelaaide situasies hanteer. Jy is dus sy model vir emosioneel intelligente optrede.
  • In ’n neutedop: Leer jou kind gerus van babatyd af dat emosies iets is wat jy nie kan kies nie, soos jou arms, maar dat jy wel ’n keuse het oor hoe jy daardie emosies gaan gebruik.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees