Jou baba se gewig

akkreditasie
Jou baba se gewig is aanvanklik die belangrikste manier om te sien of hy gesond groei en ontwikkel. Hier is wat jy moet weet ...

Jou nuwe pienkvoet se geboortegewig word gewoonlik met groot trots aangekondig. Dis nie omdat die stewigste baba noodwendig die gesondste is nie, maar ’n goeie geboortegewig is ’n belangrike bousteen van jou kleinding se latere ontwikkeling. ’n Hele rits faktore speel ’n rol in presies wat jou baba met sy geboorte sal weeg.

Help, hy verloor gewig!

Menige nuwe ma het haar al koud geskrik as sy ’n paar dae ná haar baba se geboorte agterkom hy weeg skielik minder as met geboorte. Ontspan: Dit is heeltemal normaal. ’n Baba kan in die eerste 5 dae ná sy landing op die planeet tussen 5 en 10% van sy geboortegewig verloor. Soms duur die gewigverlies selfs tot 10 dae voort.

Die oorsake is veelvoudig en gewoonlik onskadelik. Dit gebeur meestal omdat baba die vog uitpiepie wat in sy lyfie opgebou het terwyl hy in sy baarmoeder-‘woonstelletjie’ was. Die verwydering van mekonium, die eerste stoelgang, uit sy lyf laat hom ook gewig verloor.

As jy tydens die bevalling pynmedikasie gekry het, kan dit baba vaak maak, sy suigrefleks onderdruk en hom lui maak om te drink, sodat hy verder gewig afskud.

Onderliggende infeksies of toestande soos fisiologiese geelsug maak babas ook vaak en laat hulle minder drink. In meer seldsame gevalle is daar ’n geboorte-afwyking wat baba traag kan maak om te suig.

’n Gesonde voltermynbaba herwin sy geboortegewig gewoonlik binne 10 tot 14 dae, maar onthou dat jou baba uniek is en nie noodwendig hierby sal hou nie.

Vroeggebore babas se “hersteltydperk” verskil van voltermynbabas s’n. Vir hulle is daar nie ’n vaste riglyn nie omdat hul omstandighede so uiteenlopend is.

Verskillende faktore speel ’n rol in hoe vinnig jou baba sy geboortewig herwin. Dit sluit in:
Hoeveel hy drink. Hou in gedagte dat as jy ’n keisersnee gehad het, jou melk waarskynlik ’n bietjie later sal inkom as met ’n natuurlike geboorte. Dis omdat die hormoon oksitosien, wat melkproduksie aan die gang sit, vrygestel word sodra jy begin kraam. In die geval van ’n keisersnee skop die hormoon eers in wanneer die plasenta verwyder word.

Formulemelk of borsmelk:

Interessant genoeg herwin formulemelkbabas hul gewig vinniger as borsbabas. Dis omdat kolostrum (eerste borsmelk) baba se spysverteringstelsel eers op kos “voorberei”, wat formulemelk nie doen nie.

Vroeggeborenheid:

’n Vroeggebore baba herwin nie noodwendig sy gewig so gou nie; baie hang van sy gesondheid af.

Onderliggende infeksies.

  • Fisiologiese geelsug. Dit maak baba vaak en lui om te drink.
  • Geboorte-afwykings kan veroorsaak dat baba nie lekker suig of drink nie.
  • Jou eie gemoedstoestand. As jy aan nageboortelike depressie ly en dalk nie jou baba voed wanneer jy moet nie, of nie kans sien om jou baba met voedings vas te hou en te koester nie, kan dit keer dat jou baba floreer en gewig aansit.

Hoekom moet ek hom so dikwels weeg?

Dis baie belangrik om jou baba se gewig gereeld te monitor, veral in die eerste paar maande, aangesien sy gewigtoename die belangrikste maatstaf is waarmee jy sy fisieke ontwikkeling kan bepaal.

Klinieksusters beveel aan dat jy jou gesonde baba die eerste ses tot agt weke minstens een keer per week by ’n kliniek gaan weeg. Daarna kan jy afskaal tot een of twee keer per maand. Van vier maande oud af kan jy baba elke ses of agt weke laat weeg sodat die suster by die kliniek ook sy mylpaalontwikkeling kan volg. Ná ses maande is gewigs¬toename nie meer van sulke kritieke belang nie omdat jou baba dan vaste kos eet. Kliniekpersoneel let dan eerder na ander mylpale as baba se gewig op.

Hoe weet ek sy sit genoeg aan?

Die klinieksuster sal jou baba se gewigtoename op ’n groeikaart aandui. Die sogenaamde 50ste persentiel op die kaart dui die groeikurwe aan wat ’n gemiddelde kind in die wêreld gaan volg.
Die beginpunt is jou kind se geboortegewig: ’n Groot baba se groeikurwe lê bo die gemiddeld en ’n kleiner baba s’n daaronder. Dis heeltemal normaal om bo of onder die gemiddelde 50ste persentiel te lê, solank jou baba ongeveer daardie groeikurwe volg.

Jy sal sien dat die grafiek aanvanklik skerp styg en dan platter word. Dis omdat babas in die eerste ses maande baie vinnig groei, maar dan begin hul gewigtoename afplat.
Dat jou baba konstant gewig aansit, is belangriker as hoeveel sy aansit. Solank sy nie stagneer of gewig verloor nie, gaan dit gewoonlik goed.

Help, sy volg nie die kurwe nie!

Moenie bekommerd wees as jou baba se gewig nie die groeikaart-kurwe heeltemal volg nie; hou liewer die groter prentjie in gedagte. Om seker te maak baba groei na wense, sal die klinieksuster na die volgende kyk:

  • Baba se algehele ontwikkeling
  • Baba se voedingspatroon
  • Hoe aktief sy is. As sy skielik baie aktief is, sal sy waar¬skynlik minder aansit.
  • Moontlike infeksies of siekte. As baba verkoue is of sproei het, drink sy minder en sal sy stadiger gewig aansit.  

Geboortegewig: al die rolspelers

Oorerflikheid Genetika speel ’n baie groot rol in hoe groot jou baba met geboorte is. Jy kan nie ’n klein Goliat verwag as jy, jou man en julle familie Dawids is nie.
 
Geslag Seuntjies is met geboorte gemiddeld ’n knertsie groter en swaarder as meisies.
Baarmoeder-eetgewoontes Die doeltreffendheid van die plasenta en hoeveel voedingstowwe jou baba voor geboorte bereik, beïnvloed sy geboortegewig. Duur van swangerskap
Babas wat vroeg gebore word, het gewoonlik ’n lae geboorte-gewig (minder as 2,5 kg). Sowat
14 persent van Suid-Afrika se babas word vroeg gebore.

Ma se eetplan: ’n Ma wat tydens haar swangerskap erg ondervoed was, of ’n baie ongebalanseerde dieet gevolg het, het gewoonlik ’n kleiner baba. Olike ma ’n Ma met ’n chroniese infeksie se baba sal waarskynlik kleiner wees as ’n gesonde ma s’n. Aan die ander kant sal ’n diabetiese ma weer ’n besonder groot baba hê.

Dwelms, alkohol en rook: Ma’s wat alkohol en dwelms misbruik of rook, het meestal kleiner babas.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees