Jou baba se reflekse

akkreditasie
In die eerste paar dae voer jou baba heelparty onverklaarbare bewegings uit. Vind uit wat hierdie reflekse beteken.

Reg ná jou baba se geboorte deurloop sy ’n reeks toetse om te bepaal of sy mediese aandag nodig het en of sy ’n normale, gesonde baba is.

Hierdie toetse word deur ’n pediater gedoen. Wanneer jou baba vir haar eerste mediese ondersoek gaan, is reflekse een van die belangrikste dinge op die pediater se lysie. Reflekse help haar om in haar eerste dae te kommunikeer, oorleef en groei.

Normale babas behou sekere reflekse, maar die meeste verdwyn later terwyl ’n paar nuwes bykom.

Wat is reflekse?

’n Refleks ontstaan wanneer spiere op ’n sekere soort stimulasie reageer. Verskillende sensasies of bewegings veroorsaak spesifieke spierreaksies. Jou baba word met ’n verskeidenheid reflekstipes
gebore wat haar help om met jou te kommunikeer en wat sorg dat daar in al haar behoeftes voldoen word.

Reflekse is belangrik vir jou baba se algehele ontwikkeling. As ’n spesifieke refleks nie daar is nie, sal die pediater dit nie lig opneem nie en dit dadelik opvolg.

Toniese nek-/skermrefleks

Dié refleks is te sien wanneer jou baba plat op haar rug lê met haar kop na die een kant toe gedraai. Sy sal haar arm en been uitstrek aan die kant waarnatoe die nek gedraai is, terwyl die arm en been aan die ander kant in ’n tipe afwerende posisie gebuig is. Wanneer jou baba leer om om te rol, verdwyn dié refleks. Dit gebeur gewoonlik teen vier maande.

Gryprefleks

Dié refleks verskyn as jy jou vinger in die palm van jou baba se oop handjie plaas. Sy sal jou vinger vasgryp en hoe meer jy jou vinger probeer verwyder, hoe fermer word haar greep. Op die ouderdom van twee maande behoort hierdie refleks te verdwyn en is jou baba se hande meestal oop.

Dié refleks maak dit vir jou baba moontlik om van omtrent vyf maande af voorwerpe soos speelgoed van een hand na die ander aan te gee. Kundiges sê die gryprefleks is so sterk dat ’n mens ’n pasgebore
baba aan albei haar handjies van ’n ondersoektafel af kan lig – maar moet dit liefs nie tuis probeer nie.

Suigrefleks

Die suigrefleks ontwikkel reeds in jou baarmoeder wanneer die baba haar vuisie en duim suig. Dit help haar om te voed.

Soekrefleks

’n Ander refleks wat jou baba met haar voeding help, is die soekrefleks. Dis te sien wanneer jy jou baba se wang saggies aanraak en sy haar kop – met die mondjie oop – in die rigting van jou aanraking draai. Hierdie refleks verdwyn as jou baba omtrent vier maande oud is.

Skrikrefleks (Moro-refleks)

Dit laat jou baba haar arms uitwaarts en terug stu, met haar vingers uitgestrek. Daarna krul sy haar vingers en trek haar arms na haar lyfie terug. Dit gebeur wanneer jou baba skrik. Die dokter toets dié refleks deur jou baba se koppie sagkens agter toe te laat val. Die refleks verdwyn teen omtrent vyf maande wanneer jou baba begin leer sit.

Plantaargreep of Babinskirefleks

As jy jou baba se voet streel, sprei haar tone oop en krul haar voet na binne terwyl die groottoon punt.
Hierdie refleks verdwyn teen omtrent ’n jaar oud wanneer jou baba begin om gewig op haar voete te plaas, anders sal sy dit moeilik vind om te loop.

Looprefleks

As jy jou baba se voete plat op ’n oppervlak plaas, sal sy probeer om een voet voor die ander te sit, oftewel om te “loop”. Natuurlik kan sy nog nie loop nie, want sy’s nog nie sterk genoeg nie en sy het nog nie beheer oor haar liggaam nie. Dié refleks verdwyn teen omtrent ses maande oud.

Het jy geweet

Vroeggebore babas wat lank buisvoeding gekry het, het meer tyd nodig om suigvaardighede te ontwikkel. Fopspene word ingespan om hulle hiermee te help.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees