Jou pasgeborene se spiertjies

akkreditasie
Help jou baba van dag een af om al haar spiertjies te ontwikkel

Dis so maklik: Ná sy voeding sit jy kleinding in sy motorstoeltjie om gou winkel toe te ry. Binne sekondes slaap hy vas. Jy doen jou inkopies terwyl jy hom sommer daar in die motorstoeltjie hou, en al slapende word hy weer terug in die motor gesit en vasgegord.

Tuis tel jy die stoeltjie uit die motor en sit dit in die sitkamer neer terwyl jy ’n koppie tee drink. As hy wakker word, los jy hom in die stoeltjie – hy is immers gek daaroor, want dan kan hy sien wat jy doen. Eers as hy dors raak, maak jy die gespes los en tel hom uit. As jy op jou horlosie kyk is jy verbaas om te sien dat hy al meer as drie uur lank in die motorstoeltjie gesit het.

Daar is deesdae wonderlike geriefsmiddels tot ons beskikking om die lewe met baba makliker te maak: motorstoeltjies wat aan stootwaentjies vasknip sodat jy baba nie hoef uit te tel nie, en swaaie of bonsstoeltjies wat baba besig hou terwyl jy sy bad regkry. Hierdie hulpmiddels is goud werd, maar kenners waarsku dat die oormatige gebruik daarvan meer kwaad as goed doen. Die grootste gevaar is dat jou pasgebore baba as gevolg daarvan dikwels hopeloos te veel tyd passief in dieselfde posisie deurbring.

Bied genoeg beweging

Beteken dit jy moet jou duur babaswaai of bababonser nou weggooi en dit vermy om saam met jou baba te reis? Nee, sê kenners, maar gebruik hierdie geriefsmiddels oordeelkundig en doen moeite om jou baba deur die dag genoeg alternatiewe bewegingsgeleenthede te gee deur haar in ’n verskeidenheid posisies vas te hou of te laat lê.

Doen dit so

Wieg en skommel jou baba: Sit op ’n wiegstoel met jou baba op jou skoot en wieg haar. Jy kan haar in jou arms vashou of haar op jou magie dwars oor jou bobene laat lê. Dié ervaring is kalmerend en stimuleer haar vestibulêre stelsel, wat later ’n rol in balans speel.

Hou jou baba regop teen jou skouer in die tradisionele winde-uitvryf-posisie. Wissel die kant af waar jy haar hou. Dis die ideale posisie vir haar om te oefen om haar koppie vir kort rukkies op te lig en so haar nekspiertjies te versterk.

Dís die probleem

Te min beweging

Die arbeidsterapeut Megan Faure sê die hoofdoel van die groot motoriese stelsel in die eerste jaar is beheer oor swaartekrag – maar as jou kleinding die heeltyd in dieselfde posisie ondersteun word, kry
hy bitter min geleentheid om sy spiertjies hiervoor te oefen.

Dit kan uiteindelik veroorsaak dat hy sy mylpale soos rol en kruip later bereik. As jy jou kleinding in sy motorstoeltjie ronddra of stoot, bly hy konstant in dieselfde posisie. Dra jy hom egter in jou arms, verander jy outomaties elke nou en dan sy posisie – en elke keer as jy beweeg, moet sy lyfie en spiere ook ’n klein aanpassing maak.

Elke keer as jou baba in ’n ander posisie gehou word, kry nuwe spiertjies oefening. So verbeter sy spiertonus, balans en koördinasie mettertyd.

’n Vreemde kopvorm

’n Plat plekkie agter die kop kan vinnig in die eerste twee maande ontwikkel wanneer jou baba se skedeltjie nog baie sag is. ’n Opname deur Pathway Awareness, ’n Amerikaanse organisasie wat hom
beywer vir bewustheid oor bewegingsprobleme by babas, het getoon dat die toenemende gebruik van motorstoeltjies, babaswaaie en bonsstoeltjies kan bydra tot ’n plat kopvorm.

Omdat babas deesdae op hul ruggies slaap om wiegiedood te help voorkom, is hulle meer geneig tot afplatting van die kopvorm. As hulle dan nog in hul wakker tye ook met hulle agterkop teen iets lê eerder as op hul magies, kan dit die situasie vererger en in ernstige gevalle ’n kind se ontwikkeling belemmer.

Te min suurstof

Verskeie studies het gewys dat pasgeborenes (en veral vroeggebore babas) se suurstofsaturasie (die hoeveelheid suurstof in die bloed) afneem as hulle lank in motorstoeltjies sit.

Kenners beveel dus aan dat jy jou baba se motorstoeltjie slegs in die motor gebruik en nie as sitplek of drastoel of selfs bed nie, en ook dat jy lang reise in die eerste paar maande probeer beperk.

Bied genoeg beweging

Beteken dit jy moet jou duur babaswaai of bababonser nou weggooi en dit vermy om saam met jou baba te reis? Nee, sê kenners, maar gebruik hierdie geriefsmiddels oordeelkundig en doen moeite om jou baba deur die dag genoeg alternatiewe bewegingsgeleenthede te gee deur haar in ’n verskeidenheid posisies vas te hou of te laat lê.

Doen dit so

  • Wieg en skommel jou baba: Sit op ’n wiegstoel met jou baba op jou skoot en wieg haar. Jy kan haar in jou arms vashou of haar op jou magie dwars oor jou bobene laat lê. Dié ervaring is kalmerend en stimuleer haar vestibulêre stelsel, wat later ’n rol in balans speel.
  • Hou jou baba regop teen jou skouer in die tradisionele winde-uitvryf-posisie. Wissel die kant af waar jy haar hou. Dis die ideale posisie vir haar om te oefen om haar koppie vir kort rukkies op te lig en so haar nekspiertjies te versterk.
  • Lê plat en laat baba op jou bors lê. Sy sal haar nekkie wil lig om na jou te kyk.
  • Dra haar in ’n buidelsak voor jou. Nie net sal sy by jou liggaam se bewegings aanpas nie, sy sal ook uit verskillende hoeke na die wêreld kyk en haar koppie in verskillende rigtings draai.
  • ’n Drasak maak dit vir jou moontlik om haar te dra terwyl jou hande steeds los is. Dit wieg en skommel jou baba ook ’n bietjie.
  • Hou haar in die tradisionele wiegposisie voor jou met haar koppie in die hoek van jou elmboog en terwyl jou ander arm haar in posisie hou.
  • Laat jou baba met haar magie oor jou voorarm lê en haar koppie in jou hand terwyl haar bene by die elmboog langs jou arm afhang.
  • Laat lê baba ’n paar keer per dag vir kort rukkies op haar maag plat op ’n kombersie terwyl sy wakker is – dis uitstekend vir haar rug-, maag-, nek- en rompspiere en waarskynlik die belangrikste posisie vir baba se ontwikkeling omdat dit haar maksimum vryheid van beweging bied. Die ideale tyd hiervoor is ná elke doekruiling, sodat jy onthou om dit te doen.
  • As jy baba bottelvoed, doen moeite om die kant af te wissel waaraan jy haar vashou, net soos ’n borsvoedma sou doen as haar baba aan die bors drink. So gebruik jou baba die spiere aan albei kante van haar lyfie.
  • Doen moeite om speelgoed aan afwisselende kante van jou kleinding op te hang sodat sy na verskillende kante moet kyk en uiteindelik uitreik.
  • Wissel af aan watter kant van die kot jy baba neerlê. Interessant genoeg is babas geneig om hul kop na die middel van ’n vertrek te draai of na die deur – deur dit af te wissel, verseker jy dat baba oefen om na albei kante te kyk.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees