Kan nageboortelike depressie vermy word?

akkreditasie
Ek is geneig tot kliniese depressie. Dit gaan goed met my swangerskap en my baba kom oor vier weke, maar ek is nou al bang dat ek nageboortelike depressie gaan kry. Kan 'n mens dit vermy?

Dr. JP du Buisson antwoord:

Nageboortelike depressie is meer algemeen as wat ’n mens dink – tot 10 persent van ma’s kan ná die geboorte daaraan ly.

Pasiënte wat voorheen aan depressie gely het, hetook ’n groter kans om nageboortelike depressie te ontwikkel.

Sorg dat jy ’n goeie steunnetwerk het. Wees veral bedag op slaapverlies; dit kan depressie maklik aanwakker.

Struktureer jou roetine dus so dat jy genoeg kan slaap. Maak ook seker jy is gemaklik met borsvoeding en vra gou hulp en raad by jou plaaslike borsvoedingskliniek. As die borsvoeding sukkel, kan dit bydra tot die ontstaan van gemoedsteurnisse.

As jy voel dinge raak te veel, raadpleeg jou dokter liewer vroeër as later sodat hy of sy medikasie kan voorskryf. Fluoksetien is gewoonlik die middel wat gekies word. Soms word sulpiried ook gebruik, maar dis ’n ouer middel.

Sorg dus dat jou planne agtermekaar is en ontvang jou baba met ope arms – in die meeste gevalle is dit net ’n fees!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees