Ken jou baba se karakter

akkreditasie
Woelige baba, gemoedelike baba of sensitiewe baba? As jy weet watter persoonlikheidstipe jou baba het, kan jy haar makliker gelukkig hou en sorg dat sy optimaal ontwikkel

Kort ná jou baba se geboorte sal jy haar geaardheid begin raaksien deur op te let na hoe sy op die wêreld om haar reageer. Haar persoonlikheid beïnvloed haar eet- en slaapgewoontes en hoe sy op nuwe omgewings en mense reageer.

Dalk huil sy baie, of is sy kalm en rustig – dis alles trekke van haar geaardheid. “Ons word almal met ’n genetiese kode gebore wat bepaal wie ons is,” skryf Meg Faure in haar boek Koester jou baba.

Jou eie geaardheid speel ook ’n groot rol in die ontwikkeling van jou baba se persoonlikheid. Maar, sê Meg, as jou baba die potensiaal het om ’n briljante musikus te wees maar nie aan ’n musiekinstrument
blootgestel word nie, sal die potensiaal nie verwesenlik word nie. Met ander woorde, ons omgewing en opvoeding, asook ons emosionele interaksies bepaal hoe ons ons ingebore potensiaal uitleef.

Om jou baba se persoonlikheid te ontwikkel, help dit om vas te stel wat haar aangebore temperament en potensiaal is en haar dan met die middele toe te rus (liefde, aandag, stimulasie en reaksie op haar “tekens”) om alles te bereik waartoe sy in staat is.

WOELIGE BABAS

Sommige babas is gedurig aan die beweeg en kom van die oggend tot die aand nooit tot rus nie.
’n Aktiewe baba het ’n hoë stimulasiedrumpel en ondersoek alles. Die ondersoekdrang is aktiewe babas se manier om die wêreld om hulle verken. Baie aktiewe babas bereik groot motoriese mylpale, soos loop, voor hul rustiger eweknieë.

As jy ’n aktiewe baba het:

  • Kies speelgoed wat aktiewe deelname aanmoedig soos ’n speelgim of ’n stootspeelding.
  • Woon babagim-klasse saam met jou baba by en speel speletjies met haar wat baie energie verg.
  • Wees ekstra versigtig oor haar veiligheid en sorg dat jou huis kinderbestand is.
  • Hou by ’n roetine wat haar saans rustig maak om haar aktiewe brein tot bedaring te bring. Laat haar bad, neem haar na haar kamer, stel die ligte dowwer en voed haar. ’n Massering is ook baie ontspannend.

GEMOEDELIKE BABAS

Dié baba laat haar alles welgeval. Sy is tevrede om uit haar stootwaentjie of karstoeltjie te kyk hoe die wêreld verbygaan en kan haarself heel goed vermaak. Jy sal dalk vind dat sy gou oorgestimuleer raak en nie geïnteresseerd is in fisieke aktiwiteite nie. Dit kan haar ontwikkeling beïnvloed. As jou baba
gemoedelik is:

  • Moedig aktiwiteit aan (en so ook haar ontwikkeling) deur vir haar baie opsies aan te bied: Maak ’n aktiwiteitsbalkie aan haar waentjie vas of lê haar neer in ’n speelgim met ’n oorhangende aktiwiteitsboog.
  • Hou by ’n vasgestelde roetine, maar nie een wat heeltemal in sement gegiet is nie, deur sekere aktiwiteite (soos ontbyt, bad- en speeltyd) elke dag teen min of meer dieselfde tyd te doen. So verseker jy struktuur en ’n gevoel van veiligheid.
  • Wees bedag op jou baba se boodskappe. As sy oorweldig word, sal sy omgekrap raak, wegkyk en wriemel of haar rug krom trek. Verwyder enige prikkel en hou dinge kalm as dit gebeur.

SENSITIEWE BABAS

Dié babas is baie gevoelig vir hul omgewing en sal ontstel word deur lawaai. Blootstelling aan sterk geure en baie aktiwiteit kan ook ’n uitwerking hê. Tekens dat baba oorgestimuleer is, is prikkelbaarheid en lyftaal wat duidelik laat blyk dat sy uit die situasie verwyder wil word. Selfs ’n eenvoudige ding soos etikette in klere wat teen haar nek skaaf, kan haar ontstel.

As jou baba sensitief is:

  • Lees haar boodskappe reg. Jy sal gou agterkom watter prikkels jou baba kan hanteer en watter nie. Probeer om dié situasies (skerp ligte, groot skares, harde musiek) te vermy. As jy nie kan nie en sy raak oorgestimuleer, verwyder haar ’n paar minute lank uit die situasie om haar te kalmeer.
  • Wees versigtig om nie alle prikkels te verwyder nie. Sy het blootstelling aan nuwe geluide, teksture en smake nodig.
  • Kalmeer jou baba deur haar te wieg, vertroetel of toe te draai en leer haar ook om haarself tot bedaring te bring.

BABAS MET FIEMIES

Dié babas is nooit werklik gelukkig nie – hulle weier om in enige bed behalwe hul eie te slaap en weier om nuwe kossoorte te eet. Dit is omdat hulle nie verrassings kan verdra nie, al is dit net kleinighede soos Pa wat sy baard afskeer.

As jou baba vol fiemies is:

  • Hou by ’n roetine. Jou baba se interne horlosie is styf opgewen en enige verandering is ontstellend.
  • Moenie nuwe ondervindings vermy nie; dit sal jou baba se sosiale en intellektuele ontwikkeling belemmer. Blootstelling aan nuwe dinge moet geleidelik plaasvind. Hou jou baba vas as daar nuwe mense is, speel alleen saam pleks daarvan om na ’n speelgroep te gaan.
  • Gee haar ’n bietjie meer aandag sodat sy veilig voel in die onbekende wêreld.
  • Neem bekende artikels saam wanneer julle weggaan, soos ’n kombersie, boeke of speelgoed
    wat haar aan die huis sal herinner.

Al pas jou baba mooitjies in een van die kategorieë hierbo, moet jy maar probeer om nie ’n etiket om haar nek te hang nie. Sy is ’n individu en deur haar juis daaroor lief te hê en in haar unieke behoeftes te voorsien, leer jy haar om gemaklik met haarself te wees.

Kry dit reg deur nie op haar gedrag te reageer nie, maar op die oorsaak van haar gedrag – so sal jy aan haar emosionele behoeftes aandag gee.

Superwenk

Reageer eerder op jou baba se persoonlikheidstipe as haar gedrag - so gee jy aan haar emosionele behoeftes aandag.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees