Klein baba, Groot mylpale

akkreditasie
Die eerste jaar van jou baba se lewe is om die minste te sê merkwaardig. Kyk 'n bietjie hoe sy week vir week nuwe vaardighede leer. 

Week 1

  • Sy gooi haar bene en arms oop as sy skrik (Moro-refleks).
  • Sy suig outomaties as jy iets in haar mond sit (suigrefleks).
  • Haar vingertjies sluit styf om 'n voorwerp in haar hand (gryprefleks).
  • Haar visie is dof, maar sy kan 20 tot 25cm ver fokus en maak oogkontak as jy haar naby jou gesig hou.
  • Sy onderskei haar ma se gesig van vreemdes s'n , herken haar ma se geur en stem en kan onderskei tussen hoë en lae klanke.
  • Sy reageer op sterk lig en geluide deur te frons, haar oë te knip, te skrik of te huil.

Stimulasiewenk

Reageer as jou baba huil, gesels met haar, maak oogkontak, sing wiege-liedtjies en hou haar vas.

Week 4

  • Sy kan haar koppie 'n paar sekondes lank oplig terwyl sy op haar maag lê.
  • Sy kan haar koppie enkele sekondes lank regop hou in 'n sittende posisie terwyl haar lyfie ondersteun word. 
  • Sy volg voorwerpe wat 'n paar sentimeter van kant tot kant beweeg word. 
  • Sy kan nie die bewegings van haar handjies beheer nie, maar kan soms haar vuis in haar mond kry. 
  • Sy begin 'n wyer verskeidenheid huil-geluide gebruik soos vir honger, moegheid of pyn. 
  • Sy onthou 'n voorwerp wat weer verskyn binne sekondes nadat dit verwyder is. 

Stimulasiewenk

Hang 'n bewertjie waar sy dit kan sien. Beweeg jou vingers binne haar gesigsveld sodat haar koppie beweeg.

Week 6

  • Op haar maag kan sy haar kop 'n rukkie lank teen 45 grade lig. 
  • Sy hou 'n klein voorwerp 'n paar oomblikke lank vas.
  • Sy volg bewegende voorwerpe met haar ogies.
  • Sy glimlag, maar nie doelbewus nie.
  • Sy reageer op klanke en maak keelgeluidjies.
  • Vroeë reflekse soos die Moro-refleks begin verdwyn.

Stimulasiewenk

Gesels en lag saam met haar. Speel musiek en dans saam met haar. Sit haar op haar magie neer in wakker tye en hou 'n speelding omhoog sodat sy haar kop lig. Vryf haar handjies met verskillende teksture. Beweeg voorwerpe voor haar ogies. 

Week 8

  • Sy hou haar koppie sowat 5 sekondes lank regop as sy sit of staan.
  • Uit die maagliggende posisiekan sy haar koppie 45 grade lig en dit meer as 10 sekondes lank so hou.
  • Sy word bewus van haar handjies.
  • Sy luister doelgerig na sekere geluide in die omgewing.
  • Die fontanelle op haar kop gaan toe.
  • Sy volg voorwerpe en draai haar kop 180 grade om dit te doen.

Stimulasiewenk

Stut haar teen kussings en gee helder voorwerpe aan sodat sy daarna kan gryp. Gebruik dramatiese spraak. Identifiseer klanke vir jou baba.

Week 12

  • Hy hou sy koppie sowat 30 sekondes regop terwyl hy sit.
  • Hy lig sy koppie sowat 90 grade en hou dit langer as 'n minuut regop terwyl hy op sy maag lê.
  • Die gryprefleks is nou heeltemal weg. Hy hou sy handjies oop en bestudeer dit. 
  • Hy sal 'n ratel 'n paar minute lank vashou as jy dit in sy hand plaas.
  • Hy gee sy eerste ware glimlaggie!
  • Hy herken gesigsuitdrukkings.

Stimulasiewenk

Trek baba van 'n lêposisie na 'n sittende posisie. Speel met sy lyfie: Buig sy knietjies, trek die armpies liggies, kielie die voetjies. Speel musiek met verskillende ritmes.

Week 16

  • Sy sit regop, maar het 'n stut nodig.
  • Sy besef die verband tussen haar beweging en wat die speelding doen. 
  • Sy kan begin "gesels" met laggies en deur borrels te blaas.
  • Sy volg 'n voorwerp tot in die hoek van haar oog.
  • Sy verwag gebeure soos voeding en herken bekende musiek.
  • Sy kan tussen 'n man en vrou se gesig onderskei.

Stimulasiewenk

Sit 'n ratel in baba se hande. Beweeg 'n voorwerp voor haar ogies sodat sy dit volg. Gee speelgoed met verskillende teksture, kleure, vorms en geluide. Speel speletjies waar baba haar romp moet draai.

Week 20

  • As sy op haar magie lê, sal haar armpies en beentjies gelyk in 'n wiegposisie begin lig.
  • Sy het volle beheer oor haar kop.
  • Sy kan 'n vuisie in die mond sit en later ook speelgoed na haar mond bring. 
  • Sy bring haar hande by die middellyn bymekaar en speel met haar handjies.
  • Sy reik met albei hande na voorwerpe uit. 
  • Sy kan so goed soos 'n volwassene op ver en naby items fokus.
  • Sy glimlag vir bekendes.
  • Sy kan tussen kwaai en vriendelike stemme onderskei.

Stimulasiewenk

Wieg baba liggies terwyl sy sit sodat sy haar kop regop moet hou. Gebruik haar naam gereeld en speel "Waar's hy? Daar's hy!" Reageer wanneer sy geluide maak.

Week 24

  • Hy plaas gewig op sy voorarms wanneer hy op sy magie lê.
  • Hy sit met sy hande vorentoe om te balanseer.
  • Hy dra gewig op sy bene.
  • Hy kan akkuraat iets reik raakvat.
  • Hy kan 'n voorwerp van een hand na 'n ander oorplaas.
  • Hy sal 'n voorwerp laat val om 'n ander op te tel.
  • Hy luister intens en ken al byna so goed soos 'n volwassene hoor.
  • Hy fokus goed, maar verkies om op voorwerpe binne 'n meter te fokus.
  • Sy woordeskat brei uit met klanke soos "ka", "da", "ma" en "irgh"

Stimulasiewenk

Speel neem-en-teruggee-speletjies. Praat met hom en speel lyfspeletjies. Laat speelgoed val en wonder hardop waar dit is.

Week 28

  • Terwyl hy op sy magie lê, kan hy sy bolyf opgestoot hou so lank as wat hy wil en selfs op net een hand balanseer.
  • Hy sit sonder ondersteuning.
  • Hy staan as jy hom regop hou.
  • Hy kan iets in een hand vashou terwyl hy met die ander hand na iets uitreik.
  • Hy kan tussen 'n man en 'n vrou se stem onderskei.
  • Hy draai sy koppie in die rigting van geluide.
  • Hy lag as hy vrolik is en skree as hy kwaad is. 

Stimulasiewenk

Sit speelgoed skuins voor hom neer sodat hy die eenhand moet oplig om dit te vat. Sing, lag en dans met baba. Laat hy homself in 'n spieël bekyk. Plaas 'n blokkie in elke handjie. 

Week 32

  • Sy rol doelbewus van haar maag tot op haar rug.
  • Sy strek en reik uit 'n sittende posisie na 'n speelding, maar kan omval.
  • Sy "spring" op jou skoot as jy haar handjies vashou.
  • Sy kan voorwerpe in twee hande gelyk optel. 
  • Sy besef dat dinge bestaan al kan sy dit nie sien nie. 
  • Sy onthou gesigte wat sy minder gereeld sien.
  • Sy gebruik sekere lettergrepe in kombinasie, byvoorbeeld “ba-ba” of “da-da”, sê alle moontlike klanke en “gesels” onverstaanbaar met verskillende toonhoogtes en volume.

Stimulasiewenk

Voer ’n tweegesprek met stiltes sodat baba kan saamgesels. Speel bonsspeletjies op jou skoot.

Week 36

  • Sy kan haar volle gewig op haar bene dra.
  • Sy kan 10 minute lank sit en vorentoe en sywaarts leun sonder om om te val.
  • Sy kan omrol en probeer kruip. 
  • Sy kan om haar eie as draai en rondbeweeg, al kan sy nie kruip nie.
  • Sy kan met haar wysvinger wys en klein goedjies met haar vingers en duim optel.
  • Sy toon groter belangstelling in haar omgewing en is nuuskierig oor nuwe voorwerpe.
  • Sy ontwikkel die vermoë om te fluister.

Stimulasiewenk

Sit speelgoed buite haar bereik terwyl sy sit sodat sy moet uitreik. Verduidelik wat jy doen. Laat haar vir rukkies gewig op haar bene dra.

Week 40

  • Jou baba kan van ’n sit- na ’n lê-posisie verander en trek hom self aan sy arms vorentoe.
  • Hy kan ’n paar sekondes lank op sy beentjies staan terwyl sy bene sy volle liggaamsgewig dra.
  • Hy begin voorwerpe doelbewus loslaat.
  • Hy ken sy naam.
  • Hy verstaan as jy nee sê.
  • Hy boots regte spraakklanke na en kan dalk een woord met betekenis gebruik.
  • Hy begin onderskei tussen ruimtelike verhoudings soos bo en onder.

Stimulasiewenk

Week 44

  • Hy wieg heen en weer in die kruipposisie.
  • Hy trek hom self teen meubels op.
  • Hy staan ’n hele rukkie terwyl hy aan goed vashou.
  • Hy kan twee voorwerpe teen mekaar kap en probeer om ’n voorwerp te gooi.
  • Hy boots gebare na en reageer op lof.
  • Hy kan eenvoudige opdraggies soos “gee die bekertjie” uitvoer.
  • Hy wys mense soos pappa en mamma uit.

Stimulasiewenk

Gee hom bokse om mee te speel. Lees stories. Gee hom bakkies met deksels wat hy kan oopmaak. Plaas speelgoed effens buite sy bereik.

Week 48

  • Sy begin kruip!
  • Sy loop sywaarts terwyl sy aan meubels vashou en vorentoe as jy haar handjies vashou.
  • Sy gooi voorwerpe doelbewus rond.
  • Die knypgreep tussen haar duim en wysvinger word ál akkurater.
  • Sy vind ’n speelding wat onder ’n bakkie weggesteek is en steek dit self weer weg.
  • Sy trek ’n speelding aan ’n toutjie nader en besef sy kan voorwerpe met ander dinge as haar hande manipuleer.
  • Sy voer haar self met vingerkos en drink met hulp uit ’n bekertjie.

Stimulasiewenk

Gee haar vingerkos. Plaas meubels na aan mekaar sodat sy kan oefen om te stap. Speel wegsteekspeletjies.

1 jaar

  • Sy staan op haar eie en begin stap terwyl sy met een hand aan joune vashou. 
  • Sy kan haar eerste onafhanklike treetjies gee.
  • Sy kan twee voorwerpe in een hand vashou.
  • Sy bou ’n toring van twee blokkies en kan voorwerpe deur ’n opening laat inval. 
  • Sy sê een of twee woordjies met betekenis.
  • Sy speel graag by ander babas, maar nie met hulle nie.

Stimulasiewenk

Vra haar om bekendes uit te wys en lees boekies met eenvoudige, helder prente. Speel en dans op die maat van vrolike musiek. Moedig haar aan om ’n paar treë na jou toe te stap.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees