Kraniostenose: 2 ma's vertel

akkreditasie
Die fontanel is die ruimte tussen die skedelbene van babas wat met 'n sagte bindweefsellaag bedek is. Wat weet jy as ouer van jou baba se fontanel en wanneer dit moet toegroei? Twee ma’s praat oor die hul babas se fontanel wat té vroeg toegegroei het, hoe hul kinders gediagnoseer is asook die operasies wat hulle moes ondergaan het om die drukking op hul brein te verlig.

Natashia Boshoff (28) van Potchefstroom vertel:

“My jongste seun, E. D. Boshoff (3 jaar en ses maande) is vandag so gelukkig soos enige ander peuter, maar drie jaar gelde toe hy sowat 6 maande was, was sy fontanel al reeds toegegroei.

Kort na E.D se geboorte het ek opgelet dat sy fontanel, wat met my oudste seun, Estiaan (10 jaar oud) driehoekig was, met E.D eerder soos ‘n klein potloodstrepie gelyk het en toe ek my dokter en pediater daaroor uitvra, het hulle altwee gesê dat elke kind uniek is en ek het dit maar daar gelaat.

Met elke roetine-ondersoek sedert sy geboorte was sy kopomtrek geneem en niemand het opgelet dat daar fout met sy kop was nie.

Maar E.D het permanent gehuil soos ‘n koliek-baba. En hy het amper nooit geëet nie en ook baie sleg geslaap. Ons het hom na verskeie dokters toe geneem en hy is toe as ‘n koliekbaba gediagnoseer en vir koliek behandel, maar die gehuil het nooit gestop nie.

Toe E.D 5 en ‘n half maande oud is, het sy fontanelle heeltemal toegegroei en dit was weereens vreemd vir my want Estiaan s’n het eers op sowat 2 jaar toegegroei. Ek het vermoed iets was nie reg nie, want sy voorkop was ook groot en ek het wel die pediater en GP genader, maar hulle het gesê alles lyk vir hulle normaal.

Ek het toe die dokters geglo, maar my skoonma, Magdalene Boshoff, kon egter nie ons huisdokter en pediater se diagnose aanvaar nie. So te meer dat sy in Februarie by ons kom inloer het en het haar niggie, Engela Honey, wat ‘n pediater was, saamgebring.

Toe Engela vir E.D sien, het sy gesê sy kop lyk nie normaal nie en het gesê ons moet dadelik ‘n CT-skandering laat doen. Die uitslag van die skandering het gewys dat vier van E.D se kopnate gesluit het. Ons is toe verwys na Dr. Jacques du Plessis, hoof van die pediatriese neurochirurgie afdeling by die Eugene Marais-hospitaal in Pretoria.  

Ons het toe die Saterdag vir dr. Du Plessis gaan sien en sy bevinding was dat E.D Kraniostenose het. Ek het nog nooit vantevore van so iets gehoor nie en hy verduidelik toe dat Kraniostenose, plaasvind wanneer ‘n baba se skedelnate toegroei voordat die baba se brein ophou groei het.

En gedurende die eerste ses maande is die tydperk wanner ‘n baba se brein die vinnigste groei. Dus met die dat syne reeds toe was, was daar nie plek vir normale breinontwikkeling nie en moes daar drasties 'n plan gemaak word om die drukking op sy brein te verlig. En toe dit het duidelik vir geword waarom E.D aanhoudend gehuil het.

Ek sidder as ek dink wat sou gebeur het indien ons nie die regte diagnose gekry het nie. Ek dank die Here vir my skoonma en dat sy so bekommerd was en nie die dokters se antwoorde gelate aanvaar het nie. Ouma Magdelena was ‘n groot invloed dat E.D vandag normaal en gesond is, want ons gesin se lewens kon vandag soveel anders gewees het. Ek dank die Hemelse Vader vir haar en dat Hy twee engele daardie dag na ons huis gestuur het.

Dr. Du Plessis het dadelik reëlings getref om die operasie die Maandag te doen. Hy het verduidelik dat die kopnate wat van die een oor na die ander geloop het, toe gegroei het en dit is waarom E.D se brein by sy voorkop begin uitgroei het omdat daar nie spasie vir brein was om te groei nie. E.D se brein het om die rede ‘n vorm van ‘n rugbybal aangeneem, maar met die operasie kan darem sy skedel weer ‘n ronde vorm gee.

Hy verduidelik toe dat hy ‘n gedeelte van sy skedel (10 cm lank x 5cm breed) moet verwyder om die drukking op sy brein te verlig. Ek en my man, Tiaan (34) was so verskrik dat so 'n gróót en delikate operasie op ons baba uitgevoer moes word, maar die dokter het ons verseker dat dit nie eintlik so ‘n groot operasie vir hom is nie, aangesien hy gereeld binne die brein opereer. Hy het ook gesê indien ons vroeër ingekom het toe E.D kleiner was kon hy die skedel sommer met ‘n skêr oopgeknip het want die skedel sou dan toe nog sag gewees het.

Die operasie het drie lang ure geduur en is op Maandag 18 Februarie 2007 uitgevoer. E.D was vir drie dae na die operasie in die intensiewesorgeenheid. Maar hy het goed aangepas en die volgende dag na die operasie het hy al sy bottel gedrink. En drie dae later is hy uit die intensiewesorgeenheid oorgeplaas na 'n gewone saal. Hy is toe  vier dae later huis toe met ‘n spesiale helmut, wat soos ‘n fiets-helmut lyk. Hy sou nie sonder die helmut ontslaan word nie.  

E.D. het heel goed herstel na die operasie, want hy huil nie meer aanhoudend nie, eet goed en ook slaap goed. Hy het al op 6½ maande begin kruip en op 10½ maande geloop, so ons is baie bly dat dinge so goed vir hom uitgewerk het.”   

"My vriendin het onraad vermoed"

Marlize Kirsten (30) van Potchefstroom vertel:

Marlize is die ma van twee kinders, Zenell (3 jaar) en Landi (11 maande). Haar jongste dogter, Landi was op 1 Maart geopereer nadat die Melatopiese naad van haar voorste fontanelle op 9 maande reeds toegegroei het.

“Weet jy ek het nooit vermoed dat daar iets fout was met my kind nie, want as ‘n ouer kyk ‘n mens mos nie met sulke oë na jou kind nie. Ek het haar pligsgetrou geneem vir al haar roetine-ondersoeke sedert haar geboorte en elke keer was alles 100% met haar. Haar kopomtrek was ook elke keer normaal en haar koppie het mooi rond gegroei en haar ontwikkeling was soos dit moes gewees het, met elke ondersoek.

Maar teen einde Desember in 2009, net voor ek haar moes neem vir haar 9 maande ondersoek, het ek een van my vriendinne gaan besoek. Landi het in die tussentyd ‘n klein uitstulping tussen haar wenkbroue gehad, wat gelyk het asof sy haar kop iewers gestamp het.

Maar dit was nie eers opvallend nie, veral nie vir die blote oog nie en as ‘n mens nie eers daarvan geweet het nie, sou jy dit nie eers op opgelet het nie. Maar my vriendin het vir Landi net een kyk gegee en vir my gesê sy dink dat die uitstulping nie normaal was nie. Want altwee haar kinders het Kraniostenosis gehad en hulle moes elkeen geopereer word vir dit.

Die volgende dag toe ek die pediater gaan sien, het ek hom oor die uistulping uitgevra en vir hom vertel wat my vriendin vermoed het oor Landi se uitstulping. Hy het toe gereël dat sy vir X-strale gaan en het ook ‘n CT-skandering laat doen. My vriendin se vermoede was dus in die kol, want die X-strale en die CT-skandering het getoon dat Landi se voorste Melotopiese naat (van die voorste fontanel) was reeds toegegroei.

En met die ondersoek het dit ook duidelik geword dat haar koppie, sedert ons laaste roetine-ondersoek, nie gegroei het nie en dat daar toe al reeds begin het om drukking op die brein plaas te vind. My dokter het gesê die fontanel was eers veronderstel om op 2 jaar toe te groei.

Tot en met 6 maande was sy ‘n gelukkige baba wat goed geëet het en nie noodwendig baie gehuil het nie. Maar nadat daar drukking op haar brein was, was sy bietjie kniesterig en ietwat huilerig.  

Ons pediater het ons toe verwys na die pediatriese neurochirurg, Dr. JJ du Plessis by die Eugene Marais-hospitaal in Pretoria. Met die eerste ondersoek het dr. Du Plessis gesê dat die rif tussen haar wenkbroue duidelik is, en hy het ook bevestig dat haar skedel ophou groei het en hy wou dadelik opereer om die drukking op die brein te verminder.

Maar die operasie sou nie dadelik kon plaasvind nie, want ons mediese fonds het aanvanklik nie die operasie goedgekeur nie, want volgens hulle doen ons die operasie slegs vir kosmetiese redes. Maar 2 maande later was Landi se operasie geskeduleer vir 1 Maart 2010 en ons het gesukkel met die mediesie fonds tot sowat  ‘n paar dae voor die operasie. En uiteindelik het hulle die operasie wel goedgekeur.”

Landi is vandag stukke beter en herstel baie goed na die operasie.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees