Kry sy tande?

akkreditasie
Vinger in die mond, druppend van die kwyl en rooiwang – jy kry hou ontroosbare tandekryer so jammer, maar hoe bring jy verligting? 

Sommige ma’s ervaar tandekry as ’n ware uitdaging wat met weke se ongemak en pyn vir hulle babatjie gepaard gaan. Baba & Kleuter het by dr. Daleen Storm, ’n Pretoriase pediater, gaan hoor hoe ’n mens verligting kan bring.

Nege uit tien keer is die simptome wat jysien, nie aan tande te wyte nie, sê Daleen.“Dis hoekom die middels wat aangebied word nie verligting bring nie. Baie babas tussen vier en ses maande oud is gedurig met hul hande in die mond en kwyl dikwels, maar dis ook een van die maniere waarop hulle teksture en smake ontdek, en dít het niks met tande te doen nie. ”As jy dink jou baba kry tande maar binne ’n week is daar nog nie ’n tand te sien nie, is die simptome waarskynlik aan iets anders te wyte, sê Daleen.

Sou dit wel tande wees, kan jy dit stapsgewys benader. “Probeer eers om iets aan die tandvleis te smeer. ’n Tandemiddelbevat gewoonlik verdowing. As dit nie werk nie, moet jy voortgaan met orale behandeling deur iets met parasetamol (Panado of Calpol) of ibuprofeen (Nurofen) te gee.”

Pynstillers en poeiers

1. Watter middels bring veilige verligting?

Daar is verskeie middels wat gewoonlik ’n pynstiller, anti-inflammatoriese middel, plaaslike verdower of kombinasies daarvan insluit.

Of dit werklik verligting bring is ’n opevraag. Babas en peuters kan nie hul vlak van pyn of verligting aan ons kommunikeer nie en dis moeilik om medies ’n uitspraak te lewer.

Die gevaar van die meeste oor-die toonbank-preparate is oordosering,newe-effekte of interaksies met andermedikasies of siektes.

Mediese bewyse vir die doeltreffendheid van hierdie middels teen tande kry moet nog ondersoek word. Bekende middels sluit in Teejel, Bonjela, Prodol-druppels, SM-33-jel en Medijel.

Pansoral Teething Gel bevat weer bestanddele van natuurlike plantaardige bronne, soos kamille en althaea officinalis onder andere, wat bekend daarvoor is dat dit strelende en kalmerende kenmerke het. Dié jel is suiker- en alkoholvry.

Dit kan so gereeld soos nodig gebruik word.

2. Wat is die riglyne vir gebruik?

Middels soos Teejel en Bonjela wat choliensalisilaat (’n plaaslike pynstiller) bevat, mag nie meer as drieuurliks aangewend word nie en verkieslik nie meer as ses keer binne 24 uur nie. Dit bring egter net ’n paar minute lank verligting en word deur oormatige speeksel verder verdun.

Dit bevat alkohol en is chemies verwant aan aspirien, wat jy glad nie vir kinders onder 16 mag gee nie omdat dit die seldsame maar gevaarlike Reye-sindroom kan veroorsaak. Moet dus nooit Teejel en Bonjela vir ’n kind gee wat ook aspirien drink nie.

Salisielsuur of choliensalisilaat is pynstillers en kom in SM-33-jel, Teejel en Bonjela-gel voor, terwyl die aktiewe bestanddele lignokaïen of bensokaïen plaaslike verdowers is in Prodol-druppels, SM-33-jel en Medijel. Die plaaslike verdowers en pynstillers is albei aangedui vir pyn wat met seer tandvleis verbid word.

Moet liefs nie meer as een middel saam gebruik nie – vul die middel wat jy kies liewer aan met iets niefarmakologies soos ’n verkoelde tandering of stukkie vrug, of deur die tandvleis met jou vinger te vryf.

3. Kan ek hierdie middels sonder voorskrif oor die toonbank aanvra?

Die meeste middels vir die simptome van tandekry is oor die toonbank beskikbaar as skedule 2-preparate. Voorbeelde sluit in sistemiese middels soos Panado of enige ander pynstiller met parasetamol, Nurofen of enige ander ibuprofeenbevattende preparaat (pynstiller en anti-inflammatories vir die swelling). Dit kan jy eers van drie maande af gee. Dan is daar die plaaslike verdowers of pynstillers soos Teejel, Bonjela, Prodol-druppels, SM-33-jel en Medijel.

Moet egter nie enige van hierdie middels lank gebruik nie, waarsku Daleen. “As dit teen dag vyf nog nie werk nie, het jy ’n ander probleem. Jou kind beleef dalk ernstige frustrasie of is verkouerig, honger, oorvoed, of het refluks – daar is baie dinge wat jou baba se ongemak kan veroorsaak.

Hoewel die boeke noem dat kinders hul eerste tande teen ses maande oud kry, is my ervaring dat die meeste babas eers teen agt maande begin tandekry en in sommige gesinne selfs ná hul eerste verjaardag.

Dan dink die ma al sedert maand drie dat elke knies en pieptande is, met die gevaar dat die ware oorsaak van die kind se ongemak nooit behandel word nie.

Tandemiddels en pynstillers kan drie tot vyf dae lank aaneenlopend met veiligheid gebruik word.

“Gebruik eerder poeiers sonder parasetamol soos Ashton & Parsons se tandekrypoeier en dien Calpol of Panado mondeliks toe. So hou jy beheer oor die dosisse en dit wat jou kind inkry,” sê Daleen.

Wat die pediater nuttig vind

  • TANDERINGE... veral dié met ’n jel binne-in wat jy in die yskas kan koud maak. Babas hou daarvan en dis ook ’n bietjie grof sodat hul tassin gestimuleer word. Sorg net dat dit skoon bly, want dit val gereeld op die grond. Jy kan selfs Telament-druppeltjies of enigiets met ’n smakie waarvan jou baba hou aan die tandering vryf as jou baba dit nie net so wil aanvaar nie, sê Daleen.
  • SUIGHAPPIES: Vingerkos met’n tekstuur masseer seer tandvleis. Droë mango’s is seker die beste voorbeeld, maar biltongstokkies werk ook uitstekend. “Sorg net dat biltongstokkies van ’n betroubare bron af kom .Albei hierdie kossies het ’n lekker smaak en die tekstuur bring verligting sonder dat daar enige gevaar is dat jou baba ’n stukkie kan afbyt en daaraan kan verstik,” sê Daleen.
  • Altesaam is daar vyf oplossings, sê Daleen: 
  1. tandemiddels
  2. mondelikse medikasie
  3. vingermassering
  4. tanderinge
  5. droeërige kosstokkies

Hoe weet jy dis tande wat pla?

Die tandvleis is geswel en rooi wanneer ’n baba tande kry, sê Machel Leuschner, ’n Pretoriase apteker. “Jy sal ook waarskynlik ’n harde knop onder die geswelde tandvleis voel.”

Ander algemene simptome sluit inprikkelbaarheid, huilerigheid, rusteloosheid en oormatige speekselproduksie met kwyl, en jou baba gaan waarskynlik aanvoorwerpe byt of kou.

Die swelling in die mond kan partykeer tot agter in die keel strek, wat moontlik die buis na die ore (Eustachiusbuis) kan beïnvloed en oor pyn veroorsaak. As gevolg daarvan kan jou kind moontlik aan sy oor trek of vat.

Machel waarsku egter: “Moet nooit oorpyn onderskat of net aan tande toeskryfnie omdat dit meestal ander oorsake het wat ernstiger is.”

Tande kry kan ook ander gevolge inhou, meen Machel. “Ensieme wat in jou speeksel voorkom kan soms ’n uitslag om die mond veroorsaak en die maagwand irriteer, wat diarree en luier uitslag tot gevolg kan hê, maar ook hier moet ons versigtig wees om gevolgtrekkings te maak. Maak seker dat tande die sondaar is en nie iets anders nie.”

Simptome soos aptytverlies is seldsaam en daarom moet jy jou dokter raadpleeg as jou kind ophou eet.

Daar is geen mediese bewys dat tandekry koors veroorsaak nie, aangesien koors aan infeksie toegeskryf word. As jou kind koors het, moet jy liewer dokter toe – die tande kry is dan waarskynlik net toevallig dieselfde tyd.

Pas hulle mooi op

Dis belangrik om jou kind se melktandjies mooi op te pas, al gaan jou kind hulle eendag almal verloor. 'n Infeksie in die melktande kan die permanente tande waar onder lê beskadig.

Moet beslis nie die boereraat volg wat sê dat jy growwe suiker in die tandvleis moet in masseer nie. Dit sal vir jou baba seer wees, bring geen verligting nie, en suiker is heeltemal oorbodig in 'n baba se dieet. Boonop kan dit tot tandbederf lei asdaar reeds tandjies in die mond is.

Julle moet begin tandjies borsel sodra die eerste tandjie deur is. Eintlik is dit 'n goeie idee om voor dan te begin om gereeld jou kind se tandvleisies skoon te vee sodat hy gewoond kan raak aan 'n mondsorg roetine. Tandbederf geskied vinniger in melktandjies en dis maklik om dit mis te kyk tot dit werklik te laat is.

Moet nooit jou kind met 'n bottel in die mond aan die slaap laat raak nie. Die inhoud (of dit nou melk, sap of tee is) dam op in die mond. Hoe langer die tandjies met die suiker in die vloeistof in aanraking kom, hoe slegter is dit vir die tandjies.

Fluoried kan tandemalje versterk en tandbederf help voorkom, maar dis baie belangrik om dit in die regte hoeveelhede in te kry. Praat beslis eers met jou tandarts voor jy begin aanvul, want te veel fluoried is weer skadelik. Onthou, fluoriedvlakke in water verskil van plek tot plek.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees