Kwelvrae oor pasgebore babas

akkreditasie
New born baby sleepinh
New born baby sleepinh
In die eerste paar dae van jou baba se lewe is hy vir jou so nuut en onbekend dat jy ure lank na hom wil staar net om elke fronsie en steuntjie in jou gedagtes vas te brand. Maar dis ook dan dat jy vreemde en ontstellende goed raaksien: sy geslagsdele is enorm, daar’s ’n vlek op sy voorkop, sy ogies kyk skeel. Dié antwoorde op kwelvrae oor pasgebore babas sal jou gerusstel.

Hoekom lê my baba die hele tyd in die fetale posisie?

Vir min of meer 40 weke was jou baba in dié posisie opgekrul en jy sal onthou dat dinge maar taamlik beknop geraak het daar binne-in jou baarmoeder tydens die laaste klompie weke. Jou baba gaan vir ’n hele rukkie ná sy geboorte nog dié posisie verkies. Hy sal selfs sy handjies in vuisies toekrul. Moet hom nie reguit probeer dwing nie, dit sal vanself regkom – hy gaan mettertyd sy armpies en bene begin uitstrek en begin gewoond raak aan die nuwe wêreld waarin hy hom nou bevind.

Teen die einde van die eerste maand behoort jou baba sy koppie vir ’n paar sekondes te kan lig wanneer jy hom op sy magie lê en hy kan dit dalk al selfs van die een kant na die ander begin draai. Dan sal die stokkerige bewegings van sy lyfie ook vloeiender wees.

Hoekom het my baba geen trane wanneer hy huil nie?

Die meeste pasgebore babas kan ’n groot kabaal opskop sonder om een traan te stort. Dit is dikwels die gevolg van traankliertjies wat ’n bietjie verstop of nog onderontwikkel is. Alle babas kan teen 2 maande trane produseer en indien nie, moet jy hom dokter toe vat.

Watter vreemde stoelgang het my baba?

Jou baba sal ’n paar taai, groenswart stoelgange passeer wat bekend staan as mekonium. Dit het die dermkanaal gevul tydens swangerskap en hy gaan net ’n paar keer hiervan passeer. Vee dit eers met baba-olie of akwaroom af en was dan die boudjies met seepwater.

Wat is daai grillerige goed aan sy oë?

Baie pasgebore babas se ogies is geneig om ’n bietjie slym te hê. Maak dit met ’n klein bietjie borsmelk aan ’n wattetjie skoon of met steriele soutwater (borsmelk het antibakteriese eienskappe wat dikwels ligte ooginfeksies laat opklaar). Vee van die binnehoek na die buitehoek af en gebruik skoon wattebolletjies vir elke oog. As dit nie binne ’n paar weke opklaar nie, moet jy ’n dokter gaan spreek.

O gits, my baba is skeel!

Pasgebore babas kan nog glad nie lekker fokus nie en dis normaal as jou klein prins se ogies soms heeltemal skeel kyk. Dit behoort teen 6 maande vanself reg te kom en dis glad nie nodig om nou al vir ’n bril te begin spaar nie.

Gaan daardie geboortevlek op sy voorkop altyd daar bly?

Baie babas word met geboortevlekke gebore, veral rooierige vlekke op hul voorkoppies, ooglede en aan die agterkant van hul nekkies. Hierdie merke is sigbare bloedvaatjies naby aan die vel en verdwyn gewoonlik ná ’n paar maande. Sommiges gaan weg en verskyn dan later weer – gewoonlik as ’n kind warm kry, sy asem ophou of hard skree.

Baie babas van Asiatiese herkoms word gebore met blou-gryserige pigmentasiekolletjies op hul boude, ruggie en soms arms en bene. Hierdie kolletjies raak ook mettertyd ligter tot dit verdwyn.
Sommige geboortevlekke is permanent, maar selfs dít kan deesdae met spesiale laserbehandeling verwyder word.

My baba het puisies!

Klein puisietjies, witkoppies en ander knoppies is heeltemal normaal by die meeste pasgebore babas en bly gewoonlik vir drie maande sigbaar voor dit verdwyn. Moenie aan dié knoppies druk of krap nie; dit is maar net jou kind se velletjie wat by die omgewing aanpas.

Kan dit wees dat my baba se gesuig ’n blaas op sy lip veroorsaak het?

Sommige babas kry ’n klein blasie op hul bolip van die gesuig. Dit kan ’n bietjie gevoelig wees terwyl hy suig, maar jy kan ongelukkig nie veel daaraan doen nie. Los dit maar, dit sal vanself gesond word.

My kind se geslagsdele is opgehewe en massief!

Die verskriklike groot hoeveelheid swangerskapshormone wat geproduseer en afgeskei word tydens geboorte kan daartoe lei dat jou baba aanvanklik buitengewoon goed bedeeld lyk. Sommige babadogtertjies se vagina kan selfs ’n bietjie bloei, terwyl ander babas se borste opgehewe kan wees. Moenie jou daaroor bekommer nie, dit sal ná ’n paar dae vanself regkom.

My baba het hare op sy rug en skouers

Toemaar, dit beteken nie dat hy of sy vir die res van hul lewe harig gaan wees nie! Dit sal mettertyd uitval.

My baba skree bloumoord wanneer ek hom bad ...

Dit beteken darem nie dat hy vir altyd so sku vir seep en water gaan wees nie. Onthou, jou baba hoef in die eerste tien dae van sy lewe nie eens gebad te word nie. Dis heeltemal voldoende om hom net vinnig af te vee en op die dele agter die ore en die boudjies te konsentreer. Babas raak in dié stadium nog nie regtig vuil nie.

Moet my baba se naeltjie so vreemd lyk?

Jou pasgebore baba se naeltjie gaan waarskynlik een van dié goed wees waaroor jy jou die meeste in die eerste klompie dae kwel. Die naelstringstompie en naeltjie moet met elke doekomruiling skoongemaak word met chirurgiese alkohol, wat die stompie sal laat uitdroog. Gebruik eers wattebolletjies en dan oorstokkies om seker te maak al die hoekies en draaitjies kry van die chirurgiese alkohol.

Daar kan dalk ’n klein bietjie bloed by die naeltjie sigbaar wees tot so 6 weke, maar die naeltjie mag nooit vryelik bloei nie. Dit sal effens klam wees die eerste week tot 10 dae, met gelerige rofies, maar gaan spreek jou dokter as jy etter sien of as dit sleg ruik. Die stompie sal teen omtrent die 8ste tot 10de dag afval.

Hoekom is my baba met lang naels gebore?

Sommige voltermynbabas of dié wat ná die verwagte geboortedatum gebore is, word met taamlike lang, skerp naels gebore. Hou dit van die begin af kort sodat hy nie sy gesiggie krap nie.

Hoekom verloor my pasgeborene gewig?

Jou baba se geboortegewig en sy gewigstoename is een van die onderwerpe waaroor jy nog baie gaan praat – en jou oor gaan kwel. Moenie skrik as jou pasgebore baba gewig verloor nie – omtrent alle babas is sowat 10% ligter teen die tyd dat hulle huis toe gaan.

Dit gebeur in die tyd voordat jou borsmelk inkom. Die meeste babas bereik hul geboortegewig weer binne ’n week.

Gaan my baba se kop altyd so vreemd lyk?

Babas se kop is groot in vergelyking met die res van hul lyfie en dié wat met suigapparate verlos is, se kop staan boonop soms ’n bietjie gepunt of is snaaks gevorm. Moenie jou kwel oor sy langwerpige koppie nie, dit sal regkom.

* Baie dankie aan suster Jenny Froneman van die Babakliniek in Veertiende Laan, Fairland vir haar waardevolle hulp met die artikel. Kontak haar by 011-476-4510.

Ekstra bronne: Kid-wrangling deur Kaz Cooke, Penguin Books, 2003; Fab Dad deur Paul Kerton, Spearhead, 2001

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees