Laat jou baba toets

akkreditasie
'n Reeks toetse op pasgebore babas is lewensbelangrik om 'n lang en gesonde lewe te verseker

Al is jou baba nie siek nie, is dit noodsaaklik dat jy jou pediater en klinieksuster in die eerste jaar van baba se lewe gereeld besoek om seker te maak dat hy na wense groei en nie gesondheidsprobleme het nie.

Hoe gereeld moet ek haar laat toets?

In die eerste onseker dae van ouerskap is dié besoeke gewoonlik goud werd. Jou baba behoort binne 24 uur ná geboorte volledig deur ’n dokter ondersoek te word. Hoe gereeld jy ’n normale, gesonde baba daarna moet laat ondersoek, hang af van jou dokter en jou geldsake.

Sommige Suid-Afrikaanse pediaters beveel aan dat jy jou baba vir ’n ondersoek bring op 6 weke, op 18-20 weke (sowat 4 tot 5 maande), op 9 maande en daarna 1 keer per jaar.

Ander beveel aan dat jy baba op 6 weke bring, dan weer op 6 maande en weer op ’n jaar. ’n Hoërisiko-baba sal die pediater meer dikwels moet besoek.

Tussen die doktersbesoeke deur kan jy jou baba kliniek toe neem. Klinieksusters beveel gewoonlik aan dat jy jou baba in die eerste 6 weke weekliks kliniek toe bring vir ’n weegsessie, daarna elke 2 weke tot jou baba 3 maande oud is, en dan maandeliks tot jou baba 6 maande oud is.

By geboorte

Die Agpar-toets:

Jou baba sal direk ná geboorte ondersoek word om te kyk of daar ernstige siektes of aangebore afwykings is. ’n Agpartoets sal ook gedoen word. By ’n normale bevalling sonder probleme word dié ondersoek deur ’n suster gedoen, maar in die geval van ’n keisersnee of moeilike verlossing behartig die dokter dit.

Die Agpartoets word een minuut ná geboorte gedoen en weer 5 minute later. ’n Punt van 0, 1 of 2 word toegeken (’n totaal uit 10) aan elk van die volgende: gelaatskleur, spiertonus, reflekse, harttempo en asemhaling. ’n Apgar van minder as 3 is gewoonlik kritiek terwyl meer as 7 normaal is.

Kop-tot-tone-ondersoek:

Volgens dr. Marius Spangenberg, ’n pediater van Pretoria, is die pediatriese ondersoek direk ná geboorte die belangrikste van al die ondersoeke. In hierdie ondersoek kyk die dokter na die volgende:

  • Die hart en kardiovaskulêre funksies. Hy luister of daar ’n hartsuising is en kyk of daar strukturele afwykings is soos ’n kortsluiting in die hart en groot bloedvate of klepafwykings.
  • Die longe. Hy ondersoek die asemhalingstelsel en luister of baba normaal asemhaal.
  • Die verhemelte. Is dit gesplete?
  • Die slukderm en lugweë. Sal kos na die longe lek?
  • Gewig, lengte en skedelomtrek. Jou baba sal geweeg en gemeet word. Die dokter meet ook baba se skedelomtrek (’n abnormaal klein skedel kan soms op afwykings dui en ’n te groot skedel op ’n waterhofie), ondersoek die vorm van die kop, kyk of daar abnormale swellings is en dat die fontanelle (die sagte plekkies bo-op en agter baba se koppie) normaal is en nie uitbult of gesonke is nie.
  • Die geslagsdele. Jou pediater sal kyk of dit normaal vertoon, of jou seuntjie se testes albei teenwoordig is en of dit al afgesak het in die skrotum.
  • Die anus. By ’n baie klein persentasie babas eindig die derm nie buite op die vel nie. Dit moet met ’n operasie reggestel word.
  • Die heupe. Jou pediater toets of jou baba se heupe dalk ontwrig is. Dit behels onder meer dat hy baba se beentjies op en uit na die maag druk en trek op soek na kongenitale heupontwrigting (dit kom voor by 1,5 uit 100 geboortes en is meer algemeen by meisies) of ander heupprobleme. In sommige oorsese lande word heupsonars met geboorte gedoen, maar Marius sê in Suid-Afrika word dit net op versoek van ouers gedoen aangesien mediese fondse huiwerig is om daarvoor te betaal.
  • Bloedsuiker. Hy voer ’n hakpriktoets uit om te kyk of baba se bloedsuiker normaal is.
  • Gehoorsifting. Hy kyk in baba se oortjies na die oorkanaal en oordrom en toets of baba op verskillende klanke reageer.
  • Die oë. Die pediater kyk met ’n liggie of baba se oë normaal is. Hy soek onder meer na abnormaliteite soos katarakte, veral as jy Duitse masels gehad het terwyl jy swanger was.

Siftingstoetse:

Skildklierhormoon- en fenielketonurie-sifting word gewoonlik 48 uur ná geboorte gedoen met ’n hakpriktoets. As jy wil kan jy ook vra vir siftingstoetse vir die metabolisering van organiese suur, vetsure en aminosure.

Siftingstoetse vir pasgeborenes word internasionaal gebruik as ’n manier om sekere seldsame, maar baie ernstige genetiese, hormonale en metaboliese siektes vroeg te identifiseer sodat dit behandel kan word voor dit gestremdheid of selfs die dood veroorsaak. Nie al die toetse is standaard nie, en jy sal dus moet vra daarvoor.

Op 6 weke

Voeding, slaap, groei?

Dié ondersoek is die eerste kontak tussen Ma en pediater nadat julle die hospitaal verlaat het. Dis dus die ideale geleentheid om die dokter uit te vra oor alles waaroor jy wonder of wat jou pla.

Jou dokter sal vra oor jul mediese familiegeskiedenis asook oor baba se voedingspatrone, slaappatrone, motoriese en sosiale ontwikkeling, algemene gesondheid en gedrag. Hy of sy sal dan raad gee waar nodig, veral oor voedingsprobleme wat gewoonlik vir nuwe ouers baie kwellings veroorsaak.

Jou dokter sal jou vra om baba uit te trek en sy groei monitor deur hom te weeg, sy lengte te meet en sy kopomtrek weer te meet. Al hierdie mates word op ’n groeigrafiek aangeteken om te kyk of baba normaal groei.

Kop-tot-tone-ondersoek:

Sekere dinge kan eers op 6 weke ondersoek word, sê Marius.

  • Hart en longe: Longsirkulasie en bloeddruk in die are het nou gestabiliseer, wat dit moontlik maak om sekere hartafwykings raak te sien wat voorheen onsigbaar was. Jou pediater sal met sy stetoskoop na jou kind se hart en longe luister om te hoor of daar abnormale hartritmes of asemhalingsprobleme is.
  • Spiertonus: Hy sal nagaan of baba se spiere besonder slap of gespanne is.
  • Organe: Die dokter sal op baba se magie druk om te voel of enige van sy organe dalk vergroot is en of daar teerheid is.
  • Heupe: Hy sal weer baba se heupe nagaan vir probleme. Ongediagnoseerde heupprobleme kan later kruip en loop belemmer.
  • Die oë: Die dokter sal baba se aandag trek met ’n helder voorwerp of flitslig om te kyk of sy ogies dit kan volg. Hy sal ook baba se oog ondersoek om te kyk of die binneste belyning van die oogbal normaal is, en of skeelheid of ander afwykings teenwoordig is.
  • Geslagsdele: Hy sal die genitalieë ondersoek vir teerheid, afwykings of tekens van infeksie.
  • Ruggraat: Die dokter sal voel of die ruggraat reguit is en of daar tekens is van spina bifida.
  • Ore: Hy sal jou baba se gehoor toets en kyk of die oordrom en -kanaal normaal is.
  • ’n Neurologiese ondersoek: Hy sal toets of reflekse soos die Moro-refleks, vatrefleks, soekrefleks en voetoptelreaksie teenwoordig is. Normale reflekse toon dat die baba se brein normaal ontwikkel.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees